‘n Christen-huwelik – vervelig? Allermins! As ‘n gelowige paartjie het julle toegang tot ‘n wêreld vol pret in jul huwelik.

Promosie

Salomo het dit aanbeveel toe hy in Prediker 9:9 gesê het “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet…”

Navorsing aan die Universiteit van Denver wys dat paartjies wat tyd maak vir pret, by mekaar bly. “Die ooreenstemming tussen pret en huweliks-geluk is hoog en merkbaar; hoe meer jy in pret en vriendskap en daar-wees vir jou maat belê, hoe gelukkiger sal die vriendskap mettertyd word,” meen Howard Markman, ‘n sielkundige en mede-direkteur van die universiteit se sentrum vir Huweliks-en Gesinstudies.

En, skryf Dr. Steve Stephens in sy boek, Blueprints for a Solid Marriage: “Paartjies wat weet hoe om te speel en saam pret te hê, ontwikkel ‘n band wat hulle kan deurtrek deur die moeilikste tye.”

Promosie

In die New York Times artikel: Reinventing Date Night for Long-Married Couples is gevind dat slegs gehaltetyd nie genoeg is vir verhoudingstevredenheid nie.
Wetenskaplikes het bevind dat paartjies tyd rondom interessante aktwiteite moet deurbring, want nuwe ervaringe aktiveer die brein se beloningstelsel.

Paartjies wat aan opwindende date nights deelgeneem het, het ‘n baie groter tevredenheid in hul huwelike rapporteer as ander. So, gryp die geleentheid aan – dit is nie asof ons julle aansê om boeke saam deur te swot nie! Om saam pret te hê is seker die lekkerste en maklikste manier om jul huweliksband te versterk. Só maak julle:

1. Raak saam laf! Grootmens-wees, beteken nie dat julle moet vervelig wees nie. Wat is lekkerder as om laf soos kinders te wees? Maak manlief wakker met ‘n narre-pruik op jou kop en ‘n sigaar in jou mond. Lees saam Idees vol vrees, gaan ysskaats of hou ‘n waterballon-geveg. Dit is die beste doepa teen verveling!

2. Probeer iets nuuts. Is daar iets wat julle nog altyd wou doen, maar nog nooit by uitgekom het nie? Doen dit saam! Of dit nou iets avontuurliks is soos om saam te gaan valskermspring en of dit is om te leer sjokolade maak… Doen dit en neem genoeg foto’s om na terug te kyk.

3. Bly heeldag in die kooi. Ja, dit is pret! Veral omdat ‘n mens te skuldig voel om dit te doen. Maar beplan hierdie dag. Pak ‘n koelboks vol drankies en lekkernye in, sodat julle nie eens kombuis toe hoef te stap nie. Vry, slaap, eet, vry, slaap, eet. Herhaal.

4. Vier alles onder die son! Maak ‘n groot bohaai van elke moontlike ding. Die eerste somerreen, die laaste dag van skool, die eerste swem van die jaar, die laaste dag van die winter. Vier dat julle ‘n jaar oorleef het met Boeta se kwaai kleuterskoolhoof. Koop kolwyntjies vir almal as Kleinsus haar fopspeen laat vaar het! Skep jul eie geleenthede en vier fees!

5. Speel speletjies! Wanneer laas het julle Pictionary gespeel? Of Uno? Kry ‘n ander paartjie vir game night en lê soos julle lag. Laat druk T-hemde (bv vir die Vissers teen die Reyneckes), kry ‘n kreet wat julle uitbasuin voor die speletjies begin en koop ‘n plastiekpotjie vol M&M’s vir die wenspan! Of los die vriende en speel teen mekaar, maar vind iewers ‘n rede om julle klere uit te trek… soos Strip Uno 😉

6. Maak date night ononderhandelbaar. Ja, of dit nou is om draairoomys by McDonalds te gaan koop en dit op ‘n uitkykpunt te gaan eet, en of dit is om ‘n driegang-maaltyd by ‘n vyfster hotel te gaan eet… teken dit aan in jul dagboeke en merk dit as “important”. Niks mag inmeng met date night nie.

7. Betrek die kinders soms. ‘n Mens is te geneig om te dink romanse moet altyd die kinders uitsluit. Dit hoef nie so te wees nie. Soms is dit onmoontlik om ‘n baba-oppasser te kry en soms moet ‘n mens doelbewus die kroos by romantiese aktiwiteite insluit. Wat van ‘n maanligpiekniek of ‘n sterre-kyk op die trampolien? Dit kan ewe romanties wees, selfs al is die kinders daar. En dit sal hulle ook ‘n goeie voorbeeld gee van hoe ‘n gesonde pret-huwelik behoort te lyk.

8. Hou julle gesprekke interessant. Ja, dit is belangrik om soms oor die belangrike dinge te praat, maar dit is ewe nodig om soms lighartig te wees! Praat vir ‘n uur lank met mekaar in rymtaal! Of met uitheemse aksente. Haal aan uit bekende flieks of praat Shakespeare. Wat ook al julle kies – doen jul bes om mekaar te laat lag.

Dit is natuurlik om te wil pret hê, ons vergeet net om dit te prioritiseer namate ons ouer word. Maak werk hiervan en jy het kort-voor-lank die lekkerste huwelik onder die son!
www.equippinggodlywomen.com; www1.cbn.com; www.drmichellegannon.com