Soms voel jy soos ’n seekat wie se agt pote in verskillende rigtings getrek word! Emosioneel getap. En al wat oorbly om vir manlief te gee, is daardie bietjie wat oorbly nadat almal hul pond vleis geëis het . . .
Ons almal ken die scenario: Ná jy die kinders se skynbaar onoplosbare konflik oor die groen robot-mannetjie opgelos het, jou angsbevange vriendin wie se skoonma vir die eerste keer kom kuier (vir ’n volle drie weke) gerusgestel het en jou sussie gehelp het om ’n trourok uit te soek, is jy moeg. Nee, nie moeg nie . . . jy is uitgeput, tam, keelvol en woes geïrriteerd.
En die oomblik wat manlief by die voordeur instap en vra hoekom die ketel nog nie kook nie (’n flou grappie aan sy kant), is jy slaggereed om hom te takel soos ’n kat wat skrik en toeslaan. Hy probeer nog retireer, maar jy lees vir hom die Leviete voor en ná ’n drie-minute monoloog sak jy flou op die bank neer. Vir hom is daar net níks meer oor nie.
Hoekom? Want almal het reeds die beste van jou gekry en hy moet met die oorskiet tevrede wees (en die oorskiet van ’n uitgeputte vrou is nie baie aanloklik nie).
Namate ’n mens gemaklik raak met jou maat, verdwyn alle grense. Waar jy voorheen jou woorde getel en fyn getrap het rondom sensitiewe onderwerpe om hom goed te laat voel, raak julle gewoond aan mekaar en stoomroller daardie familiariteit oor alles in sy pad. Jy sê wat jy voel, verwoord wat jy dink. En verwag van jou maat om dit te vat soos ’n man. Maar is dit reg om só te voel? Allermins. Jou maat het emosionele behoeftes en kan net só lank met die oorskiet van jou tevrede wees . . .
WAT HET HY NODIG?
- Die wete dat jy hom ondersteun. Hy sê dit nie noodwendig nie, maar hy het jou ondersteuning broodnodig! Laat hom verstaan jy is dáár vir hom, in al sy loopbaankeuses en dinge wat hy aanpak. Hierdie behoefte loop ook saam met respek. Mans vertaal liefde as respek en as jy hom, sy loopbaan of dít waarin hy glo afkeur, gaan hy voel: “As sy nie wie ek is respekteer nie, hoe kan sy weet wat die beste vir my is?”
*Hoe doen jy dit? Deur hom te oorrompel met jou woorde van bemoediging vroeg in die dag reeds (voor almal jou leegtap). Sê vir hom julle is ’n span en dat jy hom wil help om sy doelwitte te bereik. Doen dit met ’n briefie in sy sak, ’n SMS op sy foon of ’n spesiale telefoonoproep.
- Die wete dat jy hom waardeer. Onthou, in dubbel-inkomste huishoudings voel mans dikwels ongewaardeerd omdat hulle weet dat hul vroue hulle finansieel nie so nodig het soos vroeër jare nie. Laat hom verstaan dat jy hom waardeer – nie net vir wat hy doen nie, maar ook vir wie hy is. Mans het komplimente nodig om hul teer ego’s te streel.
*Hoe doen jy dit? Gebruik detail wanneer jy vir hom dankie sê vir die manier waarop hy tot die huishouding bydra, en ook vir sy karakter. Vertel hom hoe mooi hy vir jou is en hoe trots jy voel om saam met hom gesien te word sodat hy kan weet dít wat hy doen, het betekenis en hy hoef nie te verander om jou goedkeuring weg te dra nie.
- ’n Mate van onafhanklikheid. Soms onttrek mans emosioneel en spring dan (soos ’n rubberrekkie) terug na jou toe vir emosionele nabyheid. Hy het dit nodig en jy moet hom hiermee help.
*Hoe doen jy dit? Gee hom ruimte om sy eie stokperdjies te beoefen en saam met sy pelle te kuier. Nog beter – reël sommer ’n braai by die huis vir die manne en maak jou uit die voete! En wanneer hy in sy grot wil kruip? Laat hom begaan . . . hy sal jou daarvoor waardeer en uitsien om daarna weer tyd saam met jou deur te bring.
- Om aantreklik te voel. Net soos dit vir jou belangrik is om begeerlik te voel, só het jou man dit ook nodig. Hy wil weet jy vind hom steeds aantreklik. Doen dit deur seks! Want as jy wag om “emosioneel” met hom te konnekteer voor jy kan seks hê en hy wag vir seks om emosioneel met jou te konnekteer, skep julle ’n groot misverstand wat groter moeilikheid kan veroorsaak.
*Hoe doen jy dit? Vertel hom hoe sexy hy vir jou is. En wys hom deur seks te inisieer! Albei van julle word hierdeur bevoordeel. Jy kry die emosionele nabyheid wat jy nodig het en hy voel weer só aantreklik dat jy nie jou hande van sy lyf af kan hou nie.
- Om te weet sy vrou kan op hom staatmaak. Onthou, kritiek laat ’n man gedreineerd van vertroue voel. As hy ’n fout maak (deur byvoorbeeld iets te vergeet), moenie aanhou karring nie en vergewe hom. Moet hom nie probeer “verbeter” nie.
*Hoe doen jy dit? Vertrou hom met sake wat vir jou belangrik is. Vra hom byvoorbeeld om die kinders op te pas terwyl jy na ’n ooievaarstee toe gaan. As die huis woes lyk met jou terugkeer, byt op jou tong. En onthou om hom nooit voor sy vriende te verkleineer nie.
Wanneer jy probeer om aan dié behoeftes van jou maat te voorsien, behoort jy iewers ’n liggie te sien aangaan, want ’n gelukkige en tevrede man is geneig om sy vrou gelukkig en tevrede te wil sien . . . en dít kan net ’n treffer-huwelik tot gevolg hê!
Maar dis baie makliker gesê as gedaan. Jý is immers gedaan! As jy dus voel jou tenk is leeg, maak seker dat jy eers daardie tenk volmaak of selfs net effens vul. Geen vrou wat oorlaai voel, kan die perfekte lewensmaat wees nie. Neem dus beheer en doen wat gedoen moet word sodat jy emosioneel die innerlike krag het om aandag te gee aan manlief se behoeftes hierbo, en jy behoort deur en deur die vrugte te pluk.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.twoofus.org, www.yourtango.com, www.jordangrayconsulting.com