Natuurlik moet julle oor koeitjies en kalfies gesels. Small talk is iets wat elke huwelik nodig het. Maar waak teen té veel hiervan . . . 

Promosie

’n Mens kom nie dadelik agter hoe baie tyd jy aan small talk spandeer nie – dit kruip so stilletjies en skelm in julle gesprekke in en word baie geleidelik al hoe meer. So bietjie-bietjie spandeer julle al meer tyd langs mekaar, maar nie regtig mét mekaar nie. Dis nogal menslik om lui te raak om oor meer interessante dinge te gesels – veral met iemand wie jy so lank en goed ken!  

Die inhoud van julle gesprekke gaan naderhand meestal oor: “Het jy lekker geslaap?”, “Ek was al weer laat vandag”, “Ek dink ek moet ’n ander werk soek”, “Wat eet ons vanaand?”, “Ek is só moeg”, en die tyd wat julle saam spandeer, is meestal voor die TV, altyd saam met vriende of kinders. Dit kan ook gebeur dat julle elkeen besig raak met julle eie ding – fisies of emosioneel weg van mekaar af – elkeen doen ’n sportsoort intensief, die een is meestal besig met die kinders, die ander met werk, elkeen raak afsonderlik besig met dinge waaroor julle passievol is, maar julle spandeer al hoe minder tyd saam. 

’n Ligte dosis small talk is vir seker ’n nodige en realistiese manier van kommunikasie tussen ’n paartjie, maar  veel oor ’n lang tydperk mag lei tot verveeldheid en emosionele afstand tussen mekaar – wat weer lei tot fisiese en seksuele afstand! 

Promosie

’n Paar idees vir lekker gesels en kontak maak: 

  • Groet mekaar met warmte, oogkontak en fisiese kontak wanneer julle albei huis toe kom. 
  • Luister regtig wanneer julle mekaar vertel van iets wat by die werk gebeur het en vra mekaar om te verduidelik sodat julle mekaar se wêrelde kan verstaan. Probeer verstaan waarom die ander een so opgewonde raak oor hierdie onderwerpe.  
  • Vra mekaar se menings oor dinge en luister regtig daarna. 
  • Herinner mekaar watter impak julle op mekaar se lewens het. Dis baie lekker om te hoor dat jou maat se lewe heeltemal anders (en vaal) sou wees as jy nie daarin was nie. 

Spandeer tyd saam – net julle twee, geen afleidings nie. Maak baie oogkontak. Praat oor dinge wat julle weer laat kontak maak met mekaar, byvoorbeeld: 

  • Herinner mekaar hoekom julle waardering het vir mekaar / vir dinge wat die ander een doen / vir wie julle is as mense / vir fisieke eienskappe van mekaar. 

Vra mekaar vrae oor dinge wat julle dalk vergeet het van mekaar of nog nooit geweet het nie, byvoorbeeld:  

  • Wie was jou gunsteling onderwyseres en hoekom?  
  • Watter drome het jy nog wat jy graag wil verwesenlik voor jy doodgaan? 
  • Waarvoor is jy op skool gespot of geterg? 
  • Waarvoor was jy bang toe jy klein was?  
  • As jy jou eie naam kon kies, wat sou dit wees?  
  • As jy drie dinge kan noem wat jou dag onmiddellik sou opkikker, wat sou dit wees? 
  • Wat is daar wat ek nie van jou weet nie wat jy met my kan deel? 
  • Wat is van jou lekkerste herinneringe van jou kinderdae / hoërskooldae / naskoolse tydperk? 
  • Wat is op jou bucket list en wat wil jy nog doen voor jy eendag doodgaan? 
  • Wat was die grootste verleentheid in jou lewe? 
  • Wat is op jou top tienlys van wonderlike ervarings / geleenthede in jou lewe? 
  • Wat is die ding wat iemand al vir jou gedoen het wat vir jou die kosbaarste was? 
  • Wat is die beste manier waarop ek jou kan aanmoedig? 
  • Waarvoor bewonder jy my? 
  • Onthou jy toe ons . . . herinner mekaar aan lekker dinge wat julle saam gedoen het. 
  • Watter vakansie-bestemming doen dit regtig vir jou en hoekom? 
  • Wat is die top vyf boeke wat jy al gelees het / films wat jy al gesien het en hoekom? 
  • Dink aan selfs die kleinste dingetjies wat jy nie weet van jou maat nie en vind uit! Dit kan wees jou skoen- en kleregrootte, gunsteling kleur, kossoort, reuk, geluid, liedjie, sport, sportster, kar, soort wolk, parfuum, naellak-kleur, dier, haarlengte . . . Wat was jou beste vak op skool? 

Om nie regtig emosioneel naby mekaar te wees nie / om verby mekaar te leef, is stadige gif vir ’n verhouding. Om naby mekaar te wees, verg ’n groot mate van kwesbaarheid teenoor mekaar, maar ook ’n bewustheid van die nodigheid om doelbewus moeite te doen met kontak maak. Dit raak vreeslik maklik om langs iemand te funksioneer in ’n huwelik sonder om regtig kontak te maak! 

Neem ’n besluit hieroor, herinner jouself daaraan en doen moeite daarmee!