Wie het gesê dat seks altyd ’n ernstige affêre moet wees? Een waar jy en jou maat mekaar diep in die oë kyk en alles volgens plan verloop, terwyl die beligting val presies waar dit hoort? Hollywood.

Wanneer ’n mens pasgetroud is, glo jy dat seks eksie-perfeksie moet verloop. Ná ’n paar jaar besef ’n mens egter dat die snaakse oomblikke goud werd is! Soos wanneer ’n nuwe posisie nie werk nie en jy ’n kramp in jou kuit kry! Of manlief van die bed af val. Of wanneer daar iewers ’n geluid uitglip wat nie deel was van die plan nie.

Die eerste keer wanneer só iets gebeur, is ’n paartjie gewoonlik geneig om die situasie met ’n rooi gesig te probeer ignoreer. Kenners beveel egter aan dat jy die bloos-oomblikke omhels en lekker daaroor lag! Daar is niks soos humor in die slaapkamer om goeie herinneringe te skep en julle net nóg nader aan mekaar te bring nie.

Het julle dit al ooit oorweeg om ekstreme posisies op die proef te stel? Daardie nommertjies met name soos “Seekat-tentakels” of “Die dolfyn” of “Die grassnyer”. Sommige van dié posisies waarvan ’n mens op die Internet lees, is snaaks. Maar vertaal dit na Afrikaans en dit is nóg snaakser!

Promosie

Asof die benamings nie genoeg is om ’n lagbui te ontketen nie, kan dit regtig ’n uitdaging wees om uit te werk watter ledemaat waar kom. En as seks skielik meer soos ’n game Twister voel as enigiets anders – wel, wat kan jy anders doen as om te lag?

Humor in die slaapkamer hou talle voordele vir paartjies in. ’n Gelag, gegiggel en gespot (sáám met jou maat en vir jouself) kan ’n verhouding help om te groei en om moeilike tye te oorleef. Dit is medisyne vir die liggaam, siel en gees. Ja, dit kan jou bloeddruk verlaag, jou immuniteitstelsel ’n hupstoot gee en endorfiene vrystel.

Boonop maak dit jou aantreklik in die bed! Wie wil nou met ’n nors persoon seks hê? As jy egter in die kamer te voorskyn kom met jou belly dance-uitrusting en begin giggel terwyl jy jou heupe swaai, styg jou aantreklikheid-temperatuur met rasse skrede, of jy nou jou dansie regkry of liederlik misluk! Om saam te lag, maak ’n paartjie gelukkig en laat hulle nader aan mekaar voel.

“Onthou jy die keer toe ons letterlik die vonke in die slaapkamer laat spat het?” Deur die storie van die kussingsloop oor die bedlampie te herroep (’n poging om die regte beligting en atmosfeer te skep, wat lelik skeefgeloop het), koester julle ’n gedeelde ervaring waaroor julle nog jare lank kan lag en knipoog. Dit is die binnepret wat nét julle twee deel.

En soos wat die grappie (of ware verhaal!) al hoe bekender aan julle word, verg dit slegs ’n woord, frase of gebaar om die herinnering weer terug te bring – soos ’n kodetaal wat nét julle verstaan en wat weer daardie warm gevoel herroep.

Humor in die slaapkamer is nie vir almal beskore nie. Sommige mense voel bloot nie veilig daarmee nie en as jy en jou maat die punt kan bereik waar julle wel saam met mekaar kan lag tussen die lakens, is dit ’n goeie aanduiding van wáár julle funksioneer sover dit intimiteit aangaan. In die hitte van die oomblik lyk en reageer jou lyf nie altyd soos dit moet nie, maar by iemand wat jy innig lief het, kan jy veilig voel. Veilig genoeg om die persoon met jou weerloosheid te vertrou.

Onthou egter daar is ’n tyd en plek vir slaapkamer-humor. Moet nóóit vír jou maat lag nie, maar eerder vir jouself of sáám met jou maat. Sarkasme of ’n gemene geterg kan lelik skeefloop. Grappies om senuwees oor byvoorbeeld impotensie te probeer verbloem, het ook nie die gewenste uitwerking nie (’n kwessie soos dié moet nooit weggesteek word agter humor nie, maar juis na die oppervlak gebring word). Kies dus jou oomblikke mooi, maar moenie skroom om te giggel nie. ’n Gelag tussen die lakens is dalk nét wat jul huwelik nodig het!

Addisionele bronne: articles.latimes.com, www.bustle.com.