Ons weet, jy is lankal nie meer ’n student nie en het al baie kere ’n kondoom gebruik – ou nuus! Of is dit? Weet jy regtig alles van kondome af?

Promosie

Die Egiptenare het al so vroeg as 1350 BC kondome begin gebruik. Dit was gemaak van die blaas of ingewande van diere. (Sies!)

Kondome is lankal nie meer boring nie. Jy kan jou beste vriend klee in jassies wat sexy, oulik of gewoonweg bisar is! Sommige is net op die Internet of in spesiale winkels beskikbaar, maar as jy bietjie gaan rondsnuffel, kan jy op iets afkom wat jou en vroulief op ’n plesierrit sal neem wat julle nie gou sal vergeet nie!

Hier is vier ongewone outjies wat beslis aandag verdien:
Promosie

Gee my ’n happie

Vat gegeurde kondome een stappie verder en jy kry … eetbare kondome! Hierdie is egter net vir stoutigheid en nie vir beskerming of voorbehoeding nie. Dit is ook heerlik om dié outjies met jou mond aan te sit. Hiervoor hou jy die opgerolde kondoom tussen jou lippe en rol dit daarmee oor die penis.

Pret in die donker

Fassineer voorwerpe wat in die donker gloei jou? Jy is nie die enigste een nie! Nou kan jy vir jou ’n glow in the dark kondoom aanskaf. Hou dié spesiale kondoom vir ’n rukkie onder die elektriese lig, glip die outjie aan en skakel die ligte af. Jy en vroulief kan ure se kreatiewe pret hê hiermee!

Warm passie

Smelt vroulief se weerstand met ’n kondoom wat hitte afskei. Die smeermiddel aan die kondoom genereer hitte sodra dit met die klam vel in aanraking kom. Dit is sensueel en strelend vir beide persone.

Tintelende plesier

Wat van ’n kondoom wat beide jou en jou maat se geslagsorgane kan laat tintel? Dit is nie ’n foefie nie. Die tintelende kondome is gedoop in ’n skadelose peperment-gegeurde smeermiddel. Dit ruik nie net lekker nie, maar sorg ook vir ’n aangename ondervinding.

Hoe weet ek of ek my kondoom reg gebruik?

Daar is baie verkeerde maniere om ’n kondoom te gebruik, maar slegs een korrekte manier. Doen dit só:

  • Maak die pakkie versigtig oop. Moenie die pakkie oop byt of sny nie.
  • Indien die kondoom ’n opgaarpunt het, druk die lug uit voor gebruik.
  • Plaas die kondoom op die punt van die stywe penis en rol dit af na die basis.
  • Sodra jy ’n klimaks bereik het, druk die kondoom teen jou penis vas en haal dit stadig uit die vagina uit sodat jy nie vloeistof mors nie.
  • Rol die gebruikte kondoom in ’n stukkie toiletpapier toe en gooi dit in die asblik.

Kondoom moenies

  • Moet nooit dieselfde kondoom twee keer gebruik nie! Dit kan lei tot die oordrag van geslagsiektes. Die kondoom is dan ook al so dun dat dit skeur en geen doel dien as ’n voorbehoedmiddel nie
  • Moenie lug in die kondoom in blaas voorjy dit aansit nie. Dit verswak die kondoom.
  • Moenie bykomende smeermiddel met ’n oliebasis gebruik nie. Dit kan die kondoom laat skeur. Gebruik eerder smeermiddel met ’n waterbasis.
  • Moenie kondome in jou broek se sak dra nie, dit plaas te veel wrywing op die kondoom. Dra dit eerder in jou beursie.
  • Moenie ou kondome koop nie, kyk na die vervaldatum op die pakkie! Vermy pakkies wat meer as drie jaar oud is.
  • Moenie probeer om die kondoom aan te sit vóór jy ’n ereksie het nie. Jy gaan sukkel en die kondoom heel moontlik skeur.

Wat is condom collapse?

Soms gebeur dit dat jy effens senuweeagtig is en sodra jy die kondoom aansit jou ereksie verloor. Dit word condom collapse genoem. Die oplossing is eenvoudig. Vra jou maat om die kondoom vir jou aan te sit terwyl sy jou penis vryf. Sodoende sal jy jou ereksie behou.

Artikel deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: Contraception.about.com, netdoctor.co.uk, lifestyles.com.