Nádat hy die derde huweliksherdenking in ’n ry vergeet het, staan hy definitief nie vóór in die ry wat spesiale behandeling betref nie! Die bossie krisante wat hy by die straatverkoper om die hoek gekoop het om jammer te sê, het net sout in die wond gevryf. Maak jy onnodig ’n bohaai?

Promosie

Allermins. As manlief jul huweliksherdenking vergeet, verdien hy niks minder as ’n koue oorlog en ’n wangdraai van jou kant af nie. Maar is dit regtig die moeite werd om hom te straf? Waarskynlik nie. Die rede is dat hy nie hierdie belangrike datum vergeet omdat hy jóú wil straf nie, maar bloot omdat hy dalk nie gerat is om dit te onthou nie, sal baie sielkundiges jou wysmaak. (Tog is dit vir hom geen probleem om die datum van ’n stoute kollega se rampartytjie of die Bulle se volgende wedstryd te onthou nie… hoe verklaar jy dít?)

Om jou huweliksherdenking te vier is broodnodig vir jul verhouding, meen kenners. Hulle sê egter ook dat dit nie nét die herdenking van jul troudag is wat julle behoort te vier nie, maar ook jul huwelik – op ’n gereelde basis. So, as die Adam in jou lewe ’n selektiewe geheue het, vryf dié artikel so ’n bietjie onder sy neus!

Wie het huweliksherdenkings uitgevind?

Promosie

Die woord “anniversary” is van ’n Latynse woord afgelei wat “jaarliks” beteken. Jare gelede is dit in Christen-feeste gebruik om heiliges te eer. Herdenkingsvieringe het ook in die Middeleeue begin toe mense hul 25-ste en 50-ste huweliksjare met feesvieringe herdenk het.

In Duitsland was dit die gebruik vir ’n man om ná 25 jaar ’n silwer krans vir sy vrou te gee. Die 50ste huweliksjaar is destyds met ’n goue krans herdenk en staan vandag steeds as die “goue herdenking” bekend.

’n Huweliksherdenking beteken vir verskillende mense verskillende dinge.

Vir sommige is dit die perfekte geleentheid om hul onvoorwaardelike liefde en omgee vir mekaar uit te druk, terwyl ander dit as die perfekte “dankiesê”-geleentheid beskou. Baie mense wys nie sommer hul liefde nie en hierdie dag gee aan hulle die kans om hul harte vir 24 uur op die mou te dra.

Hoekom al die bohaai oor ’n herdenking?

’n Huweliksherdenking is ’n geleentheid om elke jaar daardie vlam weer opnuut aan te steek en julself aan die rede te herinner hoekom julle aanvanklik by mekaar aanklank gevind het. Sommige paartjies gaan weg vir huweliksherdenkings, ander koop groot geskenke vir die gesin of die huis en daar is paartjies wat getrou by die tradisies van papier, katoen, ensovoorts hou.

Hoekom is dit so belangrik om hierdie dag te vier? Want dit is een van die innigste en spesiaalste ervarings wat ’n paartjie kan hê, iets wat nét hulle kan deel. Dit is ’n wonderlike manier om vir jou maat te wys dat jou liefde en toewyding steeds sterk groei vanaf die dag toe julle trou aan mekaar belowe het.

Hoekom veroorsaak ’n huweliksherdenking ’n mind block by soveel mans?

As dit by huweliksherdenkings kom, is mans óf geneig om dit te vergeet, óf hulle is te lui om dit te onthou óf hulle voel só onbevoeg en benoud dat hulle nie vir jou die perfekte geskenk kan gee nie; daarom verkies hulle om dit liewer te ignoreer.

In die ou bekende sitkom-reeks Friends, het Chandler hierdie einste paniek ervaar toe Monica besluit het dat hulle vir mekaar tuisgemaakte herdenkingsgeskenke moes gee!

Dikwels is tyd ook vir paartjies ’n probleem. In vandag se harwar gebeur dit dikwels dat ’n paartjie eers die dag voor die tyd besef dat hul herdenking voorlê. Dan is dit te laat om enige spesiale reëlings te tref. Merk dit dus vooraf in jou dagboek en skryf dit ’n paar weke voor die tyd ook neer, sodat jy genoeg tyd het om reëlings te tref.

Jou eerste huweliksherdenking

Tradisioneel het die geskenke wat paartjies in die eerste jare van hul huwelik aan mekaar gegee het, uit huishoudelike items bestaan wat hulle gehelp het om saam ’n nuwe tuiste te skep. (Dankie tog dat hierdie gebruik uitgesterf het, want ’n broodrooster sal beslis nie vandag jou libido laat opvlam nie!)

Later jare is daar luukse items aan mekaar gegee, nadat die paartjie reeds alles bymekaargemaak het wat hulle nodig het. Tradisioneel is die 60-ste huweliksherdenking met diamante gevier (en was dit tien teen een vir daardie paartjies iets om voor vas te byt – ten spyte van al die frustrasies!) Deesdae beweer té veel mense ongelukkig dat sy irriterende gewoontes nie daardie diamant werd is nie!

’n Paar wenke vir daardie eerste herdenking:

  • Gee vir mekaar iets om hierdie herdenking te vier, al glo jy nie in die gebruik nie. As jy tradisioneel wil bly, is daar min dinge so romanties soos ’n mooi brief of gedig – dit gaan jou niks kos nie, behalwe tyd en kreatiwiteit.
  • Baie paartjies vries die boonste laag van hul troukoek en eet dit op hul eerste huweliksherdenking. As julle nie jul troukoek gevries het nie, kan julle weer ’n koek bak met dieselfde geur as jul troukoek en dit met dieselfde soort blom versier as wat op jul troukoek was.
  • Geniet weer ’n dans asof dit jul eerste dans as man en vrou is. Trek jul mooiste klere aan, selfs ook jul trouklere as julle dit steeds het, en dans in jul sitkamer, die tuin, of in die slaapkamer, waar dit ook al gerieflik is. As julle lesse geneem het, kyk of julle ’n jaar ná jul troudag nog die passies kan onthou!
  • Onthou jul groot dag deur na jul trouvideo en -albums te kyk. Maak springmielies, snuggle op die bank en gesels saam oor die dag.
  • Geniet aandete daar waar julle jul onthaal gehad het en bestel iets wat op jul troue se spyskaart was. As julle nie soontoe kan gaan nie, kook iets by die huis wat daardie aand op die spyskaart was.
  • Neem ’n tweede wittebrood. Keer terug na jul oorspronklike wittebroodsbestemming of kies ’n ander romantiese plek waar julle hierdie spesiale dag kan deurbring. As julle na jul wittebroodsbestemming terugkeer, kan julle weer al die plekkies besoek en dingetjies doen wat julle op jul wittebrood gedoen het. (Julle kan die “dingetjies” op dieselfde plekke doen waar julle dit laas gedoen het!)
  • Hou ’n partytjie vir die naaste familie en vriende. Vir paartjies wat nooit die geleentheid gehad het om ’n onthaal te hê nie of vir paartjies wat weggeloop het om skelm te gaan trou, is dit ’n goeie manier om ’n troudag te herdenk.
  • Stel ’n heildronk op mekaar in. Koop jul gunsteling-vonkelwyn of sjampanje of maak die skemerkelkie wat by jul troue bedien is en stel ’n heildronk op mekaar in.
  • Hernu jul troubeloftes. Julle kan dit formeel in die teenwoordigheid van ’n pastoor of ’n dominee doen. Gaste kan dit bywoon asof hulle ’n troue bywoon. Julle kan dit ook privaat hou met net jul naaste vriende en familie.
  • Herleef jul huweliksnag met goeie seks. Dit is ’n wonderlike manier om jul tweede jaar as man en vrou te begin. Bedek die bed met roosblare, steek die kerse aan en trek die nagrokkie aan wat jy op daardie eerste aand aangehad het.

VIR HOM: As jy in vroulief se goeie boekies wil bly…

As jy ooit gedink het huweliksherdenkings is deur die een of ander bloemis uitgevind wat ’n geleentheid raakgesien het en dat dit overrated is, dink weer, want jy gaan beslis in die sop wees as vroulief nie saamstem nie.

Hier is vir jou ’n paar idees om die perfekte herdenking te vier, al is dit net ter wille van die vrou wat elke oggend jou vuil sokkies optel!

  • Begin die dag deur voor haar op te staan. Berei ’n lekker ontbyt voor en bedien dit in die bed. Onthou, wanneer die spek braai, is dit nie die tyd om te ontdek dat daar nie meer eiers in die huis is nie! Vir hierdie plan om te werk, moet jy beplan en al die bestanddele die dag voor jul herdenking koop. Plaas ’n enkele rooi roos op die skinkbord vir ’n romantiese effek.
  • As jy fluks is, kan jy dié een probeer – soek ’n aantal mooi foto’s en video’s van jul troue. Maak op PowerPoint ’n skyfievertoning van hierdie foto’s en wys dit vir haar terwyl julle twee knus in die bed lê.
  • Gee vir haar ’n bos van haar gunsteling-blomme. Niks laat ’n vrou meer spesiaal voel as wanneer haar man haar met ’n bos wilde, deurmekaar blomme bederf nie. Bestel dit ’n dag voor die tyd en laat die bloemis dit op jul voorstoep of by haar werk aflewer. Dit sal vir haar baie spesiaal wees!
  • As julle albei lief is vir musiek of vir teater, koop kaartjies vir ’n goeie vertoning wat op jul herdenking plaasvind. As jy twyfel of sy daarvan gaan hou –’n musiekblyspel is altyd ’n goeie keuse!
  • Ontdek nuwe plekke. Natuurlik sal jy vol punte kry as jy haar met ’n langnaweek in Parys (let wel: Frankryk) bederf, maar as dit nie jou beursie pas nie, wat van Parys, Suid-Afrika? Dit is ’n romantiese kunstenaarsdorpie met genoeg dinge om te doen. Enige ander, oulike plekkie sal ook vir jou punte besorg.
  • Hernu jul troubeloftes. Dit sal egter beteken dat julle baie geld en tyd hieraan sal moet bestee en jy sal dalk vir haar hiervan moet vertel. Nooi ’n paar vriende en familielede wat naby aan julle is om teenwoordig te wees en maak dit regtig ’n spesiale dag.
  • Bring die dag by ’n spa deur. Daar is nie ’n vrou wat ’n spa-bederf kan weerstaan nie en baie spa’s bied ’n reeks romantiese pakkette aan. Dikwels sluit dit behandelings soos paartjiemasserings en ’n lekker ete in. As jy geen idee het hoe om so iets te doen nie, vra haar sussie of ’n vriendin om jou met die reëlings te help.
  • Moenie ’n spesiale geskenk vergeet nie. In plaas daarvan om op materiële besittings te fokus, hoekom beplan jy nie ’n aktiwiteit wat julle twee nog altyd saam wou doen nie? As vroulief ’n adrenalien-junkie is, maak dit dinge soveel makliker. Neem haar vir ’n rit in ’n lugballon, witwaterroei of valskermspring. Julle sal altyd die herinnering koester en daaroor met jul kleinkinders kan gesels.

VIR HAAR: ’n Paar ongewone idees…

  • Gee vir hom ’n “eerste afspraak”-mandjie met allerlei dinge wat jul eerste afspraak simboliseer. As julle by ’n koffiewinkel was, gee vir hom ’n pakkie koffiebone, ’n sny koek en ’n link na ‘n playlist met die musiek wat daardie dag gespeel het.
  • Soek die dag in die geskiedenis. Jy kan aanlyn die geskiedenis van enige dag navors, so ook dinge soos topflieks of historiese gebeurtenisse. Maak ’n lysie van al hierdie dinge (insluitend jul troudag) en laat dit raam of plaas dit in ’n scrapbook.
  • Skryf jul liefdesverhaal. Julle het waarskynlik ’n baie unieke liefdesverhaal en om dit alles in ‘n boek saam te vat, kan ’n wonderlike manier wees om herinneringe vir komende jare te bewaar. Skryf jou eie storie.
  • Gee vir hom ’n herinneringshouer. Die kans is goed dat julle deur die jare allerlei herinneringe bymekaargemaak het. Plaas alles wat jou aan jul tye saam herinner in ’n houer. Dit is ’n wonderlike geskenk wat sal bevestig hoe wonderlik dit is om met jou getroud te wees.
  • Die gemiddelde man sal “ongewone” seks wil hê (of gewone seks) – ‘n guaranteed wenner! Maak dit ekstra spesiaal en beplan dit as die show stopper om die aand mee af te sluit.

Simbole vir ’n huweliksherdenking

EERSTE: Vir die eerste herdenking (nogal ’n antiklimaks op jou blink steentjie as hy nie slim te werk gaan nie), is dit tradisioneel om aan mekaar papier te gee. Moderne tye stel ook horlosies voor. Papier kan ’n mooi kunswerk, ’n notaboekie, ’n fotoalbum, kaartjies en boeke insluit. ’n Horlosie kan enigiets van ’n armhorlosie tot ’n dekoratiewe muurhorlosie wees.

Die regte blom? ’n Angelier

VYFDE: Vir vyf jaar van getroude lewe is die tradisionele geskenk hout en die moderne geskenk silwerware. As jy hout verkies, kan jy iets soos juwele, poppe, rame en kunswerk gee. Met silwer is die opsies legio.

Die regte blom? ’n Madeliefie

TIENDE: Diamantjuwele word eers op die tiende herdenking gegee. As dit nie jul sakke pas nie, is die tradisionele geskenk tin of aluminium. Dit kan in die vorm van horlosies, koppies, juweelhouers en versierings gegee word.

Die regte blom? ’n Affodil

20-STE: Vir die 20-ste herdenking is die perfekte geskenk tradisioneel porselein en die moderne geskenk platinum. Porselein kan in die vorm van koppies of mooi kunswerke gegee word, maar geen vrou sê “nee dankie” vir ’n stelletjie platinumoorbelle nie.

Die regte blom? ’n Aster

25-STE: As julle so gelukkig is om die 25-ste herdenking te haal, is dit ’n algemene neiging om silwer en sterlingsilwer in die vorm van silwerware, bakkies, figuurtjies en vase te gee.

Die regte blom? ’n Iris

30-STE: Pêrels en diamante is simbolies vir pare wat hul dertigste huweliksherdenking vier en kan maklik in die vorm van juwele gegee word.

Die regte blom? ’n Lelie

In die jare wat hierop volg, word hoofsaaklik edel- en halfedelgesteentes gegee. Koraal is gewild vir die 35-ste huweliksherdenking. Robyne is tradisioneel vir die 40-ste, saffiere vir die 45-ste en goud vir die 50-ste. Smarag is vir die 55-ste herdenking, terwyl diamante die 60-ste simboliseer en platinum die 70-ste. As jy so gelukkig is om jou tagtigste herdenking te haal, is eikehout die tradisionele geskenk en (behoed my!) as julle lewendig en gesond genoeg is om ’n tien karaat diamant te waardeer, kan julle dit vir mekaar op jul 100-ste huweliksherdenking gee!

Vier jou huwelik… elke dag!

Dit is nie die tradisionele bederfdinge wat ’n huwelik bymekaar hou nie, maar wel daardie klein, daaglikse gebaartjies wat julle herinner hoekom julle mekaar aanvanklik aantreklik gevind het en wat jul toewyding aan mekaar bevestig.

  1. Sê vir mekaar “ek is lief vir jou”

Ons is so geneig om mettertyd in die huwelik te begin kla, maar dit is so belangrik om hardop vir hom te sê hoe ’n wonderlike ou hy is en hoekom jy in die eerste plek op hom verlief geraak het.

  1. Praat oor die toekoms

Alle nuwe paartjies gesels oor die toekoms, maar iewers langs die pad raak dit verlore. Om weer daardie gevoel van verwagting terug te kry, visualiseer saam die toekoms. Praat oor jul drome, vakansies wat julle saam wil hou en jul droomhuis…

  1. Gee “net omdat”-geskenke

In plaas daarvan om deur die Valentynsdag-foefie meegesleur te word, gee geskenke op ander dae van die maand, wanneer julle dit die minste verwag.

  1. Hou ’n seksdagboek

Die paartjies wat dít doen, hou vol dat dit ’n reuse verskil in hul huwelike maak. ’n Kunstenaar van Texas vertel dat hulle een keer ’n heildronk op hul sekslewe ingestel het, op ’n ongewone plek waar hulle die daad gedoen het. Hulle het begin gesels en elke plek neergeskryf waar hulle al seks gehad het. “Met elke herdenkingsete dateer ons daardie lys op en as die nuwe plekke nie genoeg of opwindend genoeg is nie, daag ons onsself uit om volgende jaar beter te doen. Dit is eenvoudig, maar prettig en dit kry ons sover om ons sekslewe te beplan.”

  1. Doen die geluksuitdaging

Vra jouself af: Wat is die een ding wat ek vandag kan doen om hierdie persoon in my lewe gelukkig te maak? Iets so eenvoudig soos om ’n koppie koffie vir hom of haar te maak, met net die regte hoeveelheid melk in, of ’n telefoonoproep om te sê: “Ek dink aan jou.” Klein dingetjies wat hom of haar gewaardeerd en gekoester laat voel, sal hom of haar daaraan herinner hoekom die huwelik lekker is.

  1. Stel ’n heildronk op mekaar in

Onthou altyd die goeie dinge. ‘n Bekende akteurspaartjie sê dat hulle gereeld ’n verskoning soek om iets te vier en ’n glas sjampanje daarop te drink. Vier alles! Van ’n salarisverhoging tot ’n nuwe huis en selfs iets so eenvoudig soos jul kind se eerste tand of ’n nuwe seisoen.

  1. Laat neem professionele foto’s

Belê daarin om elke jaar as paartjie professionele foto’s te laat neem, dit te raam en dit iewers in jul huis te hang. Dit is lekker om te hê, dit laat julle goed voel en dit herinner julle aan hoeveel sakke sout julle saam opgeëet het. Onthou om agter op elke foto die datum te skryf, sodat julle kinders eendag kan sien hoe die foto’s chronologies op mekaar volg.

  1. Vermy die gewone onderwerpe

As julle gehaltetyd saam het, moenie die gesprek in sy gewone groef laat verval nie. Vermy onderwerpe soos die werk of jul kleinding wat nie ertjies wil eet nie. Om regtig te gesels, gee jul verhouding ’n energie-inspuiting en sal julle help om mekaar te waardeer.

  1. Kyk saam na die slapende kinders

Soms, net soms – wanneer julle gelukkig is – lê daar ’n kroos engeltjies in die kamers langs julle s’n. Stap saggies soontoe en kyk saam na die wonderlike kreatuurtjies wat julle saam verwek het… en weet dat daar tog iets baie spesiaals uit jul verhouding ontstaan het.

  1. Plant saam ’n boom

Sommige paartjies meen dat dit baie bevredigend is om ’n boom in die agtertuin te plant en te sien hoe dit elke jaar groter en sterker word soos wat die huwelik ouer word. Dit kan selfs ’n huisplant wees (nogal prakties, aangesien die plant dan saam met julle kan trek wanneer julle die dag verhuis).

  1. Moenie by een herdenking hou nie

Julle hoef nie jul huwelik slegs een keer per jaar te vier nie. Voeg nog ’n dag by op die almanak wat julle as verskoning kan gebruik om vir mekaar iets spesiaals te doen of te gee. Selfs ’n lekker massering tel! Dit is ook ’n oulike idee om jul troudag maandeliks te herdenk.

  1. Ontmoet mekaar iewers – opgedollie!

Besluit om mekaar iewers, soos by ’n restaurant of ’n museum, vir ’n afspraak te ontmoet. Trek by jou kantoor of die gimnasium aan. Wanneer jy en jou maat mekaar weer in jul kisklere sien, sal julle weer eens besef watter boerpot julle die dag geslaan het toe julle besluit het om met mekaar te trou.

  1. Veer die nes

Maak saam jul huis mooi. Koop dinge waarin julle albei belangstel. Versamel byvoorbeeld kuns en raam genoeg foto’s sodat julle herinner kan word aan die passie wat julle deel.

  1. Maak vir mekaar notas

Dit is so maklik om verby mekaar te leef en ’n paartjie loop dikwels daardie daaglikse spesiale oomblikke mis. Skryf vir mekaar notas in ’n klein notaboekie, miskien iets ouliks wat die dag gebeur het of ’n grappie wat jy bang is jy vergeet om met jou maat te deel. Gee elke aand voor slaaptyd vir mekaar jul notaboekies om te lees. Dit is ook iets kosbaars om vir later jare te bêre.

  1. Kry ’n herdenkingspaarbussie

Betaal dwarsdeur die jaar met note en bêre die kleingeld in ’n herdenkingspaarbussie. Kyk die maand vooraf hoeveel julle gespaar het en besluit saam wat julle op jul huweliksherdenking met daardie geld kan doen. Elke keer as jy ’n munt in die spaarbussie gooi, word jy aan jou huweliksherdenking herinner en die dag as julle die geld eindelik kan gebruik, voel dit soos ’n heerlike bederf!

Daar is sekere geleenthede in die lewe wat spesiale aandag verg en jul huweliksherdenking is een hiervan. “Dit is belangrik om fees te vier oor dinge wat ’n mens bereik en in die lewe koester. Ons behoort eintlik meer dikwels te vier dat ons hard gewerk het, ’n taai bult geklim het of ’n taak aangepak het en dit goed gedoen het,” sê Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog.

“Om ’n mens se huweliksdag te vier, simboliseer: ‘Ons het dit aangepak, en kyk, ons is sowaar ’n jaar verder en wat het ons nie alles langs die pad ervaar, geniet en geleer nie!’ En: ‘Ons koester die tyd wat ons saam deurgebring het as man en vrou.”

Maak die dag spesiaal vir jou lewensmaat en laat hom of haar opnuut besef hoekom jy die perfekte lewensmaat is. En probeer om hom nie te kasty as hy weer daarvan vergeet nie… maar sorg dat jy hom góéd beloon as hy wel onthou!