Jy dink dalk julle twee is Tarzan en Jane as dit by oerwoud-avonture en natuurlike instink kom, maar selfs al ken jy die teks van die Kama Sutra uit jou kop en spog manlief binnensmonds met sy vermoë om jou tientalle orgasmes per uur te gee, is daar altyd genoeg ruimte vir verbetering.
Daar ís sekere foute wat mans én vroue maak wanneer dit by seks kom. Onthou dat niemand met ’n natuurlike aanleg vir seks gebore word nie. Dit verg oefening, werk, emosie, toewyding en die bereidwilligheid om van jul slaapkamer ’n genotgrot te maak. Lees hier en eien jou foute…
Blapse wat Evas maak…
#1 Jy verwag van jou man om soos ’n vrou te dink. Hy moet die bottel se hardnekkige prop vir jou oopdraai, bereid wees om vir jou eer in ’n kroeggeveg betrokke te raak en kaviaar tafel toe bring… maar in die slaapkamer verwag jy dat hy soos ’n vrou moet dink! Ons breine is verskillend bedraad, so moenie van hom verwag om dieselfde seksuele ervaring as jy te hê nie. As seks vir jou so emosioneel was dat jy ’n traan pik en hy skakel die televisie aan om sport te kyk, onthou dié fout (al sou hy ook ’n onsensitiewe buffel wees om so iets te doen!).
#2 Jy verwag van hom om altyd leier te speel. Tye het verander. Jy wag nie vir sy toestemming voordat jy gaan inkopies doen nie, jy wag nie meer vir hom by die treinstasie wanneer jy terugkom van jou ouerhuis nie, jy wag hom nie meer by die voordeur in met ’n kroos skoongewaste kindertjies en ’n tuisgebakte appelpastei nie, so waarom wag jy vir hom om leiding in die slaapkamer te neem? Mans dink dit is warm en sexy as hul vroue so nou en dan seks inisieer.
#3 …of jy weier om beheer te verloor. Goed ja, jy is miskien die uitblinker in jou maatskappy, jou baas se witbroodjie en die een by die werk wat almal as ’n control freak beskryf (tot jou genoegdoening!), maar moet asseblief nie jou raadsaalpersona slaapkamer toe neem nie. So sexy soos wat ’n vrou is wat soms die leiding kan neem, so is ’n vrou wat voortdurend eis om baas in die slaapkamer te speel, absoluut die teenoorgestelde.
#4 Jy weier om spontaan te reageer. Wanneer hy teen jou kom smeul waar jy in die studeerkamer besig is om jul persoonlike administrasie op te dateer, wriemel jy uit sy arms en sê hy is lastig. Waar is jou vuur, jou romanse en jou spontaneïteit? ’n Man wil veel eerder ’n vrou hê wat omdraai, die reeks dokumente van die tafel op die vloer vee en haar man op haar neertrek, nét daar op die lessenaarblad. Seks hoef nie altyd beplan te word nie. Inteendeel!
#5 Jy glo ’n mens kan net mamma óf minnares wees. Onthou, moederskap laat jou dalk met ’n bloes vol burpvlekke en ’n toffe onder jou skoen, maar dit maak jou nie selibaat nie. Jy het nodig om jouself as ’n hot mama te sien, want gelukkige huweliksmaats is gelukkige ouers en gelukkige ouers het gelukkige gesinne. Jy’s baie meer as eendimensioneel, jy kán vrou, ma, werknemer, werkgewer én witwarm minnares wees! (Ons is nie verniet met multitasking geseën nie – daardie eienskap waarmee ons so gereeld spog!)
#6 Jy het jou vroulikheid in jou eenslaapkamerwoonstel vergeet. Onthou, dit is moeilik vir jou man om jou steeds te sien as die misterieuse nimf wat jy voor julle troue was as jy elke dag voor hom piepie, jou tande vlos, naarstiglik die selluliet op jou bobeen masseer en tussendeur die een ná die ander stuk baklava verorber nie. Hou sekere dinge vir jouself – veral die feit dat jy jou beenhare skeer of ’n maandstonde ondervind. ’n Man bly ’n visuele wese en hy wil jou as sy seksgodin sien (een sonder grys haarwortels en skurwe hakke!).
#7 Jy raak nie aan sy tepels nie. Té min vroue weet dat sommige mans se tepels selfs meer sensitief as hul eie is. ’n Man se tepels, sowel as allerlei ander dele van sy lyf, kan ’n heerlike ontdekkingsreis vir jou inhou. Moenie teen die geykte erogene sones vaskyk nie en ondersoek die erotiese potensiaal wat hierdie dele inhou. In dieselfde asem wil ons sê dat daar mans is wat dit nie kan verdra as hul tepels aangeraak word nie. Vir hulle is enige aanraking in daardie gebied loutere marteling. Maak dus seker jy ken jou maat goed genoeg om te weet in watter kategorie hy val.
#8 Jy gebruik jou tande dáár waar dit saak maak. Wanneer jy ligweg met jou tande oor sy lyf speel en saggies aan sy onderlip knibbel as julle soen, kan ’n man jou tande as deel van die liefdespel visualiseer – moet dit net nie naby sy genitalieë bring nie! Die meeste mans is dit eens: ’n penis en ’n vrou se tande is nie speelmaats nie. Onthou dit wanneer jy hom weer orale seks gee – hoe minder tande, hoe minder senuwees en hoe meer plesier vir hom! (Hierdie reël geld natuurlik glad nie as jy hom en sy ontvangsdame op jou kombuis se nuwe granietblad betrap nie.)
#9 Jy neem seks baie ernstig op. Natuurlik is dit ’n emosionele daad wat jul verhouding versterk. Natuurlik is dit intiem en spesiaal, maar wees eerlik met jouself… soms is seks regtig prettig en snaaks! Iewers in elke getroude paartjie se lewens gaan iemand van die bed afval of hul koppe stamp. Die geheim is hoe jy hierdie ongemaklikhede hanteer. As jy die duvet oor jou kop trek, die lig afskakel en daaroor sanik, gaan dit nie vir jou maat naastenby so sexy wees soos wanneer jy bloot knipoog en daaroor begin giggel nie (maak net seker jy lag nóóit vir sy penis nie!).
#10 Jy ruim op na seks. Om ’n ruk langs manlief te lê en jouself dan af te vee, is een ding. Om dadelik die lakens te wil omruil, is iets anders! Sommige vroue is neat freaks en raak heeltemal die kluts kwyt as dit by higiëne kom. Onthou, as jy onmiddellik alles waaraan jul naakte liggame geraak het, wil steriliseer, is jy allesbehalwe romanties en kan dit ’n intieme daad in ’n baie emosielose ervaring verander.
#11 Jy wil nie morsig raak nie. As jy moet bieg oor nommer 10, maak jy jouself waarskynlik ook aan nommer 11 skuldig. Omdat jy skaars en peperduur Egiptiese katoenlakens besit, weier jy om geklopte room, heuning, sjokolade of aarbeie náby die slaapkamer te bring. Onthou, jou persoonlikheid is waarskynlik baie soortgelyk aan dié van Bree (uit Desperate Housewives) en die kans is goed dat jy daardie lakens in elk geval self met die beste wasgoedpoeier op die mark gaan was (of gaan droogskoonmaak), so live a little!
#12 Jy mik vir sy penis binne die eerste tien sekondes! Ja, hulle ís anders as ons, maar selfs die Adams hou nie daarvan as jy summier sy pakket soos ’n krieketbal vasgryp nie. So min soos jy daarvan hou dat hy voorspel ignoreer, so sterk voel hy oor dié kwessie. As jy summier daarna gryp kan jy óf die bui blus, of dit só lekker laat voel dat die ervaring te gou beëindig word. So, neem jou tyd – voorspel is vir hom ook belangrik.
#13 Jy speel gereeld die hoofpynkaart. Onthou, dit is ’n cliché en mans weet dit. So, tensy jy régtig ’n migraine het, sê eerder reguit wanneer jy nie kans sien vir seks nie. As jy nie eerlik kan wees oor wat jy in die slaapkamer wil en nie wil hê nie, hoe kan hy dit waag om sy kredietkaart vir jou leen?
#14 Jy is krities in die slaapkamer. As jy wil kritiseer, sê vir hom dat sy skoene nie by sy broek pas nie en maak sy spelfoute reg, maar in hemelsnaam – hou jou kritiek uit die slaapkamer. As jy ’n man se lus wil blus, beledig hom met ’n stukkie kritiek. Jy dink dalk dit is bevorderlik vir jul sekslewe, maar jy gaan meer kwaad as goed doen, so, as jy nie hou van die steungeluide wat hy maak sodra hy ’n orgasme bereik het nie, soek na ’n alternatiewe manier om die boodskap oor te dra of verdra dit!
#15 Jy laat toe dat persoonlike onsekerhede met goeie seks inmeng. As jy sexy voel, sal manlief jou sexy vind, ten spyte van dít wat jy dalk as liggaamsfoute sien. Daar is niks minder sexy as ’n vrou wat haar eie foute in die middel van seks uitwys nie. As jy voortdurend wonder hoe jou arms, boude en maag in ’n sekere posisie lyk, gaan jy nooit seks kan geniet nie, en as jy dit nie geniet nie, is dit beslis nie vir jou man lekker nie.
#16 Jy dink dat soen altyd die mees romantiese ding op aarde moet wees. Dit hoef nie. Soms gloei ’n soen van rou, dierlike seksualiteit en het dit sensualiteit lank reeds agter gelos. So, gebruik jou lippe om ’n boodskap mee oor te dra, en as jy regtig honger vir jou man is, wys dit met die manier waarop jy hom soen. Hy behoort nie te sukkel om jou kode te ontsyfer nie…
#17 Jy wil gesels ná seks. Mans en vroue voel emosioneel verskillend na ’n orgasme. Dit is nie die tyd om met hom te gesels oor hoe die seks was nie. Ook nie oor jou idee om julle slaapkamer ’n nuwe look te gee of vir hom oor die nuutste Hollywood-baba voor te lees nie. Hy wil slaap. Respekteer dit. En selfs al slaap hy nie, wil hy vir ’n rukkie net lê sonder om te dink.
#18 Jy terg hom en voer dit nie deur nie. As jy hom enigsins soen of in sy buikarea lek, beteken dit vir hom net een ding: orale seks is in die pyplyn! As jy nie bereid is om dit vir hom te gee nie, gaan hy regtig teleurgesteld wees. So, moenie wreed wees nie. As jy nie van plan is om daardie roete te volg nie, moenie hom die idee gee dat jy gaan nie…
Blapse wat Adams maak…
#1 Jy duik reguit vir die boerpot. As jy vroulief se lippe vermy en direk na haar erogene sones mik, laat dit haar voel asof jy haar per uur betaal en regtig van plan is om op dié sessie te bespaar. Onthou dat ’n behoorlike soen die beste voorspel is wat jy haar kan gee (dit hoef nie noodwendig die enigste voorspel te wees nie…). En ’n wenk: Moet nóóit vir ’n vrou vra of jy haar mag soen nie. Jy mag – dóén dit net.
#2 Jy blaas in haar ore. Een vrou kan mal wees oor die gevoel van jou lippe om haar oorlobbe en vir ’n ander vrou kan dit bloot voel soos haar Dobermann wie se tong sy nie uit haar persoonlike ruimte kan kry nie! Lees die seine wat sy stuur – as sy nie duidelike geluide van genot maak terwyl jy dit doen nie, is die kans goed dat sy dit nie kan verdra nie. Onthou ook om liggies teen haar ore te blaas en nie aan te gaan asof jy die kersies op jou 50ste verjaardagkoek doodblaas nie!
#3 Jy vergeet om te skeer. Net so skuldig soos wat die Evas aan dié een kan wees, soveel mans vergeet hoe belangrik dit is om ’n stoppelbaard te skeer voordat jy naby jou maat se sensitiewe gesig en dye kom. Die gevoel van skuurpapier teen ’n vrou se ken is nié lekker nie. As sy haar kop van kant tot kant draai, is dit nie van passie nie, maar omdat sy haarself soveel moontlik pyn probeer spaar!
#4 Jy ken nie jou vrou se borste nie. Vroue verskil radikaal van mekaar in die borste-arena. Sommige vroue kan net ’n ligte aanraking verdra, terwyl ander van ’n bietjie rowwer spel hou. As jy haar tepels só hard byt dat dit vir haar voel soos Chucky wat probeer borsvoed, gaan jy ’n klap teen die agterkop kry. As jy egter met ’n veer daaroor streel en sy die soort vrou is wat ’n orgasme van goeie borsspel kan kry, gaan dit haar ewe gefrustreerd laat. Onthou ook om nie haar tepels tussen jou vingers te vryf asof jy ’n radiostasie soek nie… gee aandag aan die hele borsgedeelte.
#5 Jy werk hardhandig met haar klitoris. Onthou, net so sensitief soos wat jy in die suidelike halfrond is, so sensitief is vroulief op daardie klein gedeelte van haar lyf. Voordat jy direk na die klitoris beweeg, maak seker sy is reg daarvoor (lees haar liggaam se seine). Moet ook nie summier en dadelik daaraan begin werk en vir die eindstreep mik nie. Onthou, vir sommige vroue is die linkerkant van hul klitoris die sensitiefste, terwyl ander die regterkant verkies. Eksperimenteer en kyk wat werk, maar wees versigtig vir direkte aanraking – dit kan vir ‘n vrou uiters pynlik wees!
#6 Jy neem ’n blaaskans… op die verkeerde tyd. As jy besig is om vroulief op allerlei maniere te stimuleer en sy besig is om vinnig die piek te klim, maar jou hande raak moeg… moenie ophou nie! Sy gaan jou nié ’n Kit Kat aanbied nie! Onthou, as jou vrou dáár is, en jy stop vir ’n oomblik, kan jy haar weer tot by die wegspringblok laat aftuimel. Vroue is nie soos mans, wat kan optel waar daar laas opgehou is nie, so as jy moeg raak… ruk jou reg en gedra jou soos ’n mán!
#7 Jou sensuele massering kan vir Chinese marteling kwalifseer. Onthou dat sensuele massering presies dít is, sensueel. Gebruik jou hande en jou vingerpunte, miskien ’n veer of ’n kwassie. Jou doel is nie om knoppe uit te vryf en spasmas te verlig nie, so hou jou elmboë en knieë ver weg van haar lyf af!
#8 Jy trek uit voordat sy gereed is om jou naakte glorie te sien. Van kleins af kan julle nie wag om van jul doeke ontslae te raak en in die tuin rond te hardloop nie. In die slaapkamer is dit egter nie sexy as julle besig is om mekaar innig te soen en jy trek jou ritssluiter af terwyl sy nog haar trui en stewels aanhet nie. Maak seker dat sy die eerste item uittrek of minstens ’n poging aanwend om jou uit te trek voordat jy jou eie klere laat waai.
#9 Jy ejakuleer ontydig. Te vroeg is net so onwelkom as te laat. Ons weet dit is ’n vrees by julle, maar sommige mans het in ’n mate beheer daaroor (terwyl slegs oordeel skort). As jy ejakuleer terwyl haar asemhaling nog egalig is, is jou oordeel sleg. As jy ure wag voordat jy na aksie oorgaan, moenie verbaas wees as sy uiters verveeld raak nie.
#10 Jy druk haar kop dáár waar jy haar wil hê. Dit is een van die ergste foute wat jy kan maak! Sommige mans hou aan om hul vroue se kop na hul penisse te dwing met die hoop dat dit haar tot orale seks sal lei. Enige vrou háát sulke voorbarigheid. As jy wil hê sy moet haar mond gebruik, gebruik joune eerste.
#11 Jy waarsku haar nie voordat jy ejakuleer nie. Vir sommige vroue is dit geen probleem as sy skielik met ’n mondvol sperm verras word nie (hoewel ons glo hulle in die minderheid is). Almal hou ook nie van die smaak van ejakulaat nie. Wanneer sy orale seks op jou uitoefen (en jy graag wil hê sy moet dit eendag weer doen) waarsku haar voordat jy ejakuleer, sodat sy kan doen wat sy voel nodig is.
#12 Jy verwag van haar om haar enkels om haar kop te draai. As sy ’n gevorderde joga-instrukteur is, gaan gerus voort, maar as sy enigsins sukkel om te split, moenie té ambisieus raak nie, tensy jy wil hê dat jul romantiese aandjie by noodgevalle moet eindig!
#13 Jy glo dat voorspel in die bed begin. Teen die tyd wat jul koppe die kussing tref, is dit lank reeds te laat. Voorspel is ’n voldagstorie. Jou vrou wil weet dat jy heeldag aan haar gedink en haar begeer het.
#14 Jy beweeg te vinnig. Julle geniet ’n romantiese aand en jy moet jouself inhou. Sy sit voor jou met rooi lipstiffe en ’n laehalsrok. Later ry julle terug en jy kan nie wag om daardie einste rokkie uit te trek nie. By die huis gooi sy vir julle twee glase wyn in en jy wil haar net daar in die kombuis oorrompel. Moet egter nie ’n romantiese atmosfeer deur oorhaastigheid bederf nie. Oefen selfbeheersing uit. Hoe langer jy die seksuele spanning uitrek, hoe lekkerder gaan die eindresultaat wees!
#15 Jy tree disrespekvol teenoor haar op. As jy in die een of ander stadium van jou lewe na pornografe gekyk het, sal jy waarskynlik die boodskap gekry het dat vroue daarvan hou om in die slaapkamer gedisrespekteer te word. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Om haar degrading name te noem, baie rof met haar te werk, of op haar te ejakuleer, is definitiewe taboes.
#16 Jy vergeet dat haar erogene sones legio is. Dit begin en eindig nie by haar borste, klitoris en vagina nie. Probeer haar volgende keer soen waar haar skouer en nek mekaar ontmoet. Trek jou vingers oor haar rug, soen haar heupe en raak liggies aan haar voetsole. Dit gaan haar so rasend vir meer maak dat die seksdaad letterlik ’n ontploffing gaan wees.
#17 Jy neem aan jy weet wat sy wil hê. Moenie aannames maak nie, dit is gevaarlik! Jy weet nie wat sy dink of wil hê terwyl julle seks het nie, selfs al dink jy jy weet. Goeie seks begin by doeltreffende kommunikasie, maar moet haar nie elke twee sekondes vra of sy dít wat jy doen, geniet nie. Lees die seine, daar is drie soorte: verbaal, nie-verbaal en paraverbaal. Gee aandag aan al drie – wat sy sê, wat sy doen en hoe sy beweeg.
#18 Een orgasme is nie noodwendig genoeg nie… al dink jy so. Vroue kan nie so maklik ’n opgewekte toestand verlaat nie, so baie vroue wil meer aandag en orgasmes hê, selfs al was die eerste keer heel bevredigend!
Miskien is jy foutloos, maar miskien is daar ’n paar dinge wat jou weer ’n bietjie gaan laat nadink. As jou maat iets doen wat jou lus blus, en dit is nie hier bo gelys nie, is dit miskien wys om nóú die onderwerp aan te raak en nie te wag tot julle weer in die hitte van die oomblik is nie. Goeie seks is die gevolg van goeie kommunikasie, maar as dit nietig is, hou dit nietig. Dit is nie die moeite werd om jou maat te krenk oor iets wat nie regtig ’n verskil in jul slaapkamer gaan maak nie. Gebruik jou oordeel en oorweeg die waarde van kritiek. As julle bloot dinge kan verbeter deur herhaaldelike oefening, waarvoor wag julle?

