Jy kán jou man se fantasievrou wees. Die een wat op die ingewing van die oomblik besluit om hom op sy naeltjie te begin soen en dan afwaarts te beweeg. Die een wat so nou en dan in deurskynende onderklere voor hom dans en die een wat wéét hoe om ’n paal nuttig te gebruik en nou . . . die een wat besef dat ’n lapdance jou 10/10 gaan gee!

Promosie

Jy dra ’n uitgewaste voorskoot bo-oor ’n 1990’s sonrokkie wat al beter dae geken het. Jou onderklere is prakties en behoorlik en jy het laas op manlief se skoot gesit toe julle albei 18 jaar oud was. As jy so daaraan dink, is jy nie werklikwaar fantasie-materiaal nie. Kyk weer’n slag goed na jouself en leer ’n nuwe vaardigheid aan. Ja, jy kan gaan vir scrapbooking-, mosaïek- of skilderkunsklasse, maar as jy werklik iets wil aanleer wat jou uitdaag en waarvoor manlief maklik sy beursie sal uithaal, leer hoe om te skootdans . . .

Hoekom het ’n man ’n díng oor ’n skootdans?

“As ’n ou kan ek jou eerstehands vertel dat daar niks is wat ’n man meer opwarm as om seksueel geterg en verlei te word deur ’n vrou wat soveel (of meer) van seks hou as ons nie; ’n vrou wat seksueel selfversekerd is en wat haar man as ’n turn on sien. Dit is ’n man se grootste fantasie om saam met ’n dame in die openbaar en ’n algehele selfversekerde verleier – ‘’n ware seksgodin – in die slaapkamer te wees. En as ons haar eindelik gekry het, glo my, sal ons enigiets doen om haar te behou,” skryf Jay Archer op die webtuiste lapdanceunleashed.com.

Promosie

Dit maak nie saak hoe oud jy is en of jy nie die perfekte liggaam het nie, enigiemand kan leer hoe om haar man se seksgodin te wees! Juanita Fouché, sensuele dansinstrukteur van Centurion en wenner van verskeie paaldanstitels, beveel aan dat jy skootdans en stoeldans vir ’n wenresep kombineer.

Hoekom dit doen? Juanita sê altyd vir die vroue wat by haar klas het dat sy eerder self vir haar man wil dans as wat sy wil hê iemand anders moet dit doen. “Hou jou man by die huis en maak seker hy het oë net vir jou! Dit is die maklikste manier om jou man te herinner hoe sensueel jy is. Hy sal met ander oë na jou kyk en jou sommer van voor af waardeer! Hy sal ook dae lank met die prentjies in sy kop rondloop en die heeltyd daaraan dink. Dit gee jou ook ’n geleentheid om sexy te voel!”

Omdat dit ’n opwindende avontuur is, blaas dit ook sommer nuwe asem in jou verhouding. En natuurlik ’n bonus: “Ek belowe jou dat jy, ná jou lap dance, hom amper enigiets sal kan vra! Die gras sal gesny word, prente gehang word, vuilgoedsakke sal uitgevat word en hy sal voor die televisie padgee!” Volgens Juanita is mans so mal daaroor omdat dit ’n sexy en erotiese dans is. “Dit bederf hom. . . en dit wakker sy verbeelding weer ’n bietjie aan. Wie weet watter moontlikhede dit kan optower en waartoe dit kan lei?”

Voordat jy begin . . .

Oefen op jou eie met twee stoele. Juanita sê egter dat die keuse van stoel baie belangrik is. “Iets met armleunings werk nie so goed nie en kantoorstoele met wieletjies is uit! Die stoel moet stewig wees en nie maklik kan buig of breek nie. Dit moet die gewig van twee mense kan dra. Bly liefs weg van enige riempiestoele. Dit los merke op jou sitvlak en jy wil tog nie jou selluliet raam nie! Kampeer- en opvoustoele kan jou soos ’n Nando’s wrap oprol. Pasop ook vir splinters en los stoelpote. Kroegstoele is nie ’n goeie idee nie – dit maak nie saak hoeveel tequila jy inhet nie!” vertel sy.

As jy die regte stoel in plek het, werk aan jou kleredrag. Trek gemaklik aan, want as jy gemaklik voel, sal jy meer selfversekerd voorkom. “Jy kan in amper enigiets dans en jy hoef nie noodwendig enigiets uit te trek om sexy te wees nie,” vertel sy. “Fantasie-uitrustings is oral beskikbaar en is baie pret, maar nie noodsaaklik nie. Trek iets aan wat jou aantreklik laat voel en lyk. Enigiets, van jou sexy undies tot jou gym-uitrusting kan werk! As jy besluit om iets uit te trek, maak seker dat dit maklik is om te verwyder . . . dit moenie vashaak en jou nog meer benoud maak nie. Dit is byvoorbeeld moeilik om ’n langbroek op ’n sexy manier uit te trek – veral oor hoëhakskoene! Iets met ’n stywe nek is ook moeilik om grasieus te verwyder. Oefen vooraf in die klere wat jy beplan om aan te trek om seker te maak dit is prakties.”

As jy die stoel en uitrusting in plek het en jou bewegings geoefen het, bepaal ’n datum. Skep die regte atmosfeer. Kerslig is vleiend vir enige figuur terwyl skerp ligte selluliet beklemtoon. Maak seker jy het jou musiek, klere, kerse en die stoel byderhand en onthou: “Probeer om nooit in die middel van die musiek te stop nie – al moet jy dan ’n paar goed herhaal,” maan Juanita. En as jy moed nodig het? “’n Glas wyn voor die tyd help altyd!” vertel sy. “Verras hom met kerslig en sagte musiek en fluister jou planne in sy oor. Sê vir hom wat jy van hom verwag: Om stil te sit, nie te praat nie, nie te vat nie, nie te fluit nie en jou kans te gee totdat jy klaar is. Eindig jou dans op sy skoot – dit is baie intiem. Dan kan jy hom ’n drukkie gee, in sy oor fluister, hom soen . . . gebruik jou verbeelding. Hy behoort van hier af oor te neem!”

Juanita se tien topwenke:

  • It is all about you! Jy dans vir jouself . . . en jy laat hom toe om te kyk. Geniet dit! Moet dit nie te ernstig opneem nie
  • Sexy is a state of mind. Dit maak nie saak hoe jy lyk nie. Enigiemand kan sexy wees
  • Terg! Jy bied jouself nie op ’n skinkbord aan nie, jy terg. Jy terg met jou klere (of die tekort daaraan), hoe jy beweeg, hoe jy na hom kyk en jou lyftaal. Onthou, jý is in beheer van die situasie. Jy beheer wat hy sien, hoeveel hy sien en waar hy dit sien. Hy mag ook nie vat nie, net kyk . . . dit maak hom mal!
  • As jy benoud voel, gaan hy dit aanvoel. So, oefen voordat jy dit vir hom doen. As jy selfversekerd voel, is dit wat jy uitstraal. Daar is niks meer sexy as ’n vrou met selfvertroue nie. As jy nie selfversekerd voel nie, fake it!
  • Leer om aan jouself te vat. Dit hoef glad nie op ’n seksuele manier te wees nie. Gebruik die palm van jou hand om oor jou heupe te vryf, langs jou borste verby. . . dit is ongelooflik sexy. As jy die agterkant van jou hand gebruik, gaan dit lyk asof jy jouself afstof! Voel hoe sag jou vel is, hoe warm jy voel . . . hy gaan mal wees daaroor!
  • Stadig! Ons is geneig om dinge vinniger te doen wanneer ons senuwees pla, en dan hou ons op met asemhaal. Haal diep asem, beweeg stadiger. Dit lyk meer sensueel en beheers.
  • Maak oogkontak met hom, maar hou ook jou eie lyf dop. As jy die heeltyd vir hom kyk, gaan een van julle uitbars van die lag. Dit is intimiderend. Volg die bewegings van jou lyf en hande.
  • Wees altyd sag en vroulik. Daar is soveel krag in jou vroulikheid. Jy wil hom soos ’n kruising tussen Tarzan en Apollo II laat voel. Doen dit deur jou vroulikheid te wys.
  • Hou dit eenvoudig. Men are very easy to please!
  • Praat met hom voordat jy begin. Sê vir hom jy wil vir hom ’n skootdans gee. Vra hom om asseblief stil te sit en nie te praat tot jy klaar is nie. As jy bang is hy gaan dalk te opgewonde raak en probeer om aan jou te vat terwyl jy dans, bind hom aan die stoel vas met fluffy boeie of ’n das. Maak seker jul selfone is afgeskakel.

Aan die beweeg . . .

As jy werklik ’n ekspert wil word, is dit miskien die moeite werd om ’n werkswinkel by te woon, maar as jy sommer net lus is om ’n spesiale aand vir manlief te beplan, kan jy jou eie dans uitwerk. Juanita deel ’n paar van haar bewegings . . .

Hip roll

Die belangrikste bestanddeel van die skootdans is die hip roll. Staan met jou bene skouerbreedte uitmekaar, buig jou knieë effens en teken ’n sirkel met jou heupe. Hou jou skouers en jou knieë stil en beweeg slegs jou heupe. Beweeg jou hande saggies oor jou heupe en hou jou rug regop.

Die draai

Jy wil al jou bates wys, so maak seker om so nou en dan om te draai. Draai stadig en hou aan om jou heupe te beweeg sodat hy jou van alle kante af kan sien.

Die shimmy

Met jou rug na hom en jou voete verder as skouerbreedte uitmekaar, buk vooroor, hou jou bene reguit en beweeg jou heupe stadig links en regs. Kom stadig weer regop.

Van agter af

Beweeg tot agter sy stoel en beweeg jou hande stadig oor sy skouers . . . dié stap is baie effektief, want hy kan jou nie sien nie, net voel. Streel met jou hande van sy skouers tot oor sy elmboë en weer terug. Maak seker jy doen dit baie doelbewus en stadig

Beenaf oor jou

Staan wydsbeen oor een van jou man se bene en doen jou hip rolls terwyl jou hande oor jou lyf beweeg. Jy kan dit doen terwyl jy met jou rug na hom toe staan of jy kan na hom kyk.

Onthou, enigiemand kan ’n skootdans gee. “. . . maar ek gaan nie jok nie. Hoe fikser jy is, hoe makliker is dit,” vertel Juanita. “Daar is niks sexy aan ’n girl wat uitasem haar dans klaarmaak en blou in die gesig en papnat gesweet na vars lug hyg nie. Daar is baie goed wat ons doen wat nie baie soepelheid verg nie en hoe langer jy dit doen, hoe meer soepel raak jy. As jy nie baie fiks is nie, beplan jou dans en oefen dit ’n paar keer om seker te maak jy kan dit hanteer!”

Die belangrikste is om selfvertroue te hê. Weet jy het die mag om jou man binne ’n kwessie van ongeveer vier minute só lus vir jou lyf te maak dat hy sal sukkel om homself te beheer. Dit behoort genoeg te wees om jou soos Superwoman te laat voel. So skenk jou sonrok vir die welsyn en koop ’n nuwe voorskoot. Dra dit oor ’n onbehoorlike ragfyn einabroekie en gaan sit weer op manlief se skoot. Maar maak seker jy is ’n vrou met ’n plan . . .

Goeie musiek vir ’n skootdans . . .

Juanita gee ’n paar van haar gunstelinge, maar waarsku: “Watter musiek jy ook al gebruik, jy mag nie saamsing nie!” Kies musiek met ’n lekker ritme:

  • 50 Cent – Candy Shop / Just a lil bit
  • Sugababes – Push the button / Too lost in you
  • Pussycat dolls – Buttons / Don’t Cha
  • Britney Spears – Gimme More
  • Prince – Cream
  • Elanah Myles – Black Velvet
  • Top Gun– Take my Breath away
  • Joe Cocker – Leave your Hat on
  • Eminem – Shake That
  • Nelly Furtado – Say it Right
  • Avril Lavigne – Hot
  • Paula Cole – Feeling Love
  • Madonna – Fever / Erotica