Almal plaas druk op julle om op date nights te gaan, romantiese wegbreeknaweke… maar om die waarheid te sê, jy wonder wat die nut is daarvan. Is dit regtig belangrik vir ’n huwelik?

Promosie

Kom ons wees eerlik – ’n romantiese wegbreeknaweek verg móéite. Eerstens moet jy jouself so ver kry om die Internet te trotseer en plek te bespreek – en ons almal weet teen dié tyd dat beskikbaarheid by die góéie plekke so skaars soos hoendertande is. ’n Mens sou sweer dat Suid-Afrikaners net heeldag vakansie hou!

As jy uiteindelik plek opgespoor het, moet jy die prys aan manlief probeer regverdig (só ook die feit dat hy die rugby gaan mis omdat die cabin in die berge nie ’n televisie het nie – régtig. En jy moet dit verduidelik!) Jy moet die gebroedseltjies by ouma los (en vir haar preek om hulle eers hulle tamaties te laat eet voor hulle Smarties).

En dan, ná dit alles, moet jy nog die energie bymekaarskraap om opgewonde te lyk oor ’n naweek waar manlief definitief 24-uur seks verwag. Is dit regtig die moeite werd?

Promosie

O ja! Dít is hoekom:

  1. Sodat jy nie klippe in jou kinders se rugsakke pak en hulle rivierlangs huis toe stuur nie…

Dit was baie snaaks toe Gaby in Desperate Housewives gedreig het om dít te doen, maar kom ons wees eerlik: Elke ouer het so af en toe ’n breuk weg van die kinders af nodig om weer behoorlike ouers te wees! En voor jy skuldig voel om dit te erken, dit is nie soseer die kinders nie, maar dis die skoolhuiswerk, die ertjie-oorloë en vuisiegevegte waarvan jy soms nodig het om te ontsnap.

  1. Sodat jy kan onthou dat jy actually lief is vir die ou langs jou.

Die lewe beweeg teen só ’n snelle pas dat dit maklik is om te vergeet van die persoon langs jou. Daar is soveel dinge om op te fokus dat paartjies vergeet om soms op mekaar te fokus. Dit is dán wanneer jy die basics begin vergeet, soos dat manlief van oggendseks hou, dat hy basilliekruid nie kan verdra nie en om jou bikinilyn te waks.

  1. Want roetine kan sieldodend wees.

En nou bedoel ons letterlik sieldodend! As jy elke oggend presies om seweuur die eiers sunnyside up bedien, hy jou elke middag groet met ’n piksoen op jou linkerwang en julle elke naweek die familie aan huis het, kan julle bitterlik verveeld raak met die huwelik en met mekaar. ’n Wegbreeknaweek kan die eiers so ’n bietjie deurmekaarkrap!

  1. Want selfsugtigheid is nodig vir almal om julle om te floreer.

Hiermee bedoel ons nie dat jy jou eie belange eerste moet stel nie, maar jul huwelik s’n. Té veel paartjies dink dat om verantwoordelik te wees, beteken om hulself (of die huwelik) af te skeep. Is julle een van daardie paartjies wat nooit weggaan nie omdat julle die kinders nie alleen wil los nie, nie ’n familielid se verjaardag wil misloop nie of bang is die honde verlang te veel… dan is dit tyd om jul huwelik te prioritiseer. As julle nie ’n gesonde, gelukkige huwelik het nie, gaan dit in elk geval oorspoel na almal om julle! 

  1. Want dis soos Red Bull vir julle sekslewe!

’n Wegbreeknaweek is goed vir emosionele bonding en kan julle nader aan mekaar laat voel. Daar is niks en niemand om julle oor te bekommer nie en hopelik niks anders om te doen as om mekaar se klere uit te trek nie… and then some more. Daar’s romanse in die lug, daar’s niemand om julle te pla nie en die teiken is jul huwelik. Trek voordeel uit hierdie situasie en steek weer daardie vlam van passie aan!

Sodra jy hierdie artikel klaar gelees het, hoop ons dat jy nóú jou reisagent gaan bel en gou-gou vir julle ’n plek bespreek. Daar is soveel meer voordele, maar ons spasie is beperk… gaan toets dit en vind self uit!

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: jpost.com