Voel jy deesdae dat jou huwelik uit meer frons as fun bestaan? Dat jy en manlief julself en die lewe deesdae te ernstig opneem? Hoewel roetine en verantwoordelikheid nie geïgnoreer kan word nie, het niemand gesê die huwelik hoef soos kasterolie te smaak nie…

Promosie

Inteendeel! Jou huwelik kan die ene spookasem en rock candy wees! Om pret in ’n huwelik te hê beteken nie dat jy kinderagtig is nie. In die huwelik is die gesegde “Act your age” heeltemal ontuis! Dit is belangrik om saam te speel en saam pret te hê – verál namate die erns en verantwoordelikhede ophoop, sodat julle kan onthou dat julle soveel meer as werkesels is en nie getrou het om saam huis op te sit, kinders groot te maak en ’n huwelik te laat wérk nie, maar omdat julle dit gekies het! Omdat dit vir julle lékker is om by mekaar te wees en dinge saam te doen. Die huwelik is werk, ja, maar die huwelik is beslis nie nét werk nie – as dit is hoe julle voel, is dit tyd om ’n bietjie uiting te gee aan jul wild side.

Navorsing deur die huwelikskenner dr John Gottman het bevind dat paartjies gelukkiger getroud is as hulle die tower-ratio van 5:1 in hul huwelik toepas – vyf positiewe interaksies vir elke negatiewe interaksie. Met ander woorde, vir elke argument, misverstand of seergemaakte gevoel, moet daar vyf posi­tiewe, warm, versorgende of prettige interaksies plaasvind om daardie een uit te kanselleer. En ’n New York Times-artikel, Reinventing date night for long-married couples, het berig dat om tyd saam deur te bring nie genoeg is vir verhoud­ingsbevrediging nie. Brein- en gedragswetenskaplikes het bevind dat paartjies meer tyd moet wy aan ongewone ervarings, wat hormone vrystel soortgelyk aan dié wat ’n paartjie vroeg in hul verhouding ervaar. Paartjies wat in dié studies aan “interes­sante” date nights deelgeneem het, het ’n baie groter gevoel van satisfaksie in hul huwelike gerapporteer.

Dr Michelle Gannon, ’n sielkundige wat spesialiseer in verhoudings, stel voor dat paartjies saam brainstorm oor oulike en oorspronklike afsprake, of maniere om meer pret in hul verhouding te bring. Wees dus oop vir nuwe ervarings en as die idee van karaoke jou nog altyd in ’n koue sweet laat uitslaan het, maar dit iets is wat jou man begeer om te doen, maak dit jou volgende uitdaging: Om jou vrees vir openbare vernedering te oorkom!

Promosie

Dit is belangrik dat, wanneer julle besluit het op ’n oorspronk­like date night, julle die datum eer en alles in jul vermoë doen om toe te sien dat dit realiseer. Op daardie datum is saam speel ’n noodsaaklikheid en konflik ’n taboe! As een van die partye iets opper wat gewoonlik geneig is om ’n rusie te ontketen, moet die ander party dit ignoreer en só jul speeltyd teen konflik beskerm. Het julle ’n bietjie inspirasie vir speel-afsprake nodig? Hier is ’n paar idees vir ’n oorspronklike play date sonder dat julle eens die slaapkamer hoef te verlaat!

Maak van jou slaapkamer ‘n bowling alley

Speelgoedwinkels hou oulike ten-pin bowling stelle vir kinders aan (sommer van plastiek). Koop ’n stel, en een aand, wanneer julle die kinders so ’n bietjie “uitgeleen” het, maak dit game night. Maak vir julle elkeen ’n pienk melkskommel (jy kan selfs ’n bietjie “skop” byvoeg) en neem dit slaapkamer toe. Besluit wat is die wenner se “prys” en hou daarby. Julle behoort behóórlik te lag – uitstekende doepa vir ’n saai huwelik!

Maak van jou slaapkamer ‘n eighties disko

As julle tieners was in die tagtigs, sal julle dié een behoorlik geniet. Vind uit by Boetie waar jy ’n regte diskobal kan huur en kry een vir die aand. Laat weet die bure dat julle ’n bietjie gaan lawaai en maak die honde los! Laat manlief die diskobal in die kamer opsit, speel jul ou CD’s op vol volume (of soek eighties-musiek op Spotify of YouTube) en verbeel julle julle hou weer matriekafskeid (dié keer is dit darem met jou droomafspraak).

Maak van jou slaapkamer ‘n spookhuis

Onthou jy die dae toe julle jonk was en mekaar onder die duvet met ’n flitslig bang gemaak het oor die spookhuis om die hoek? Soek op die Internet vir ’n paar goeie spookstories en klim onder die duvet in saam met manlief. Die opwinding, die donker, die gille en ’n man in wie se arms jy kan wegkruip, klink soos ’n wenresep! En as daar ’n flitslig by betrokke is… gebruik jul verbeelding!

Maak van jou slaapkamer ‘n skrywersklub

Julle is albei skrywers. En hierdie play date gaan ongetwyfeld gepaard met baie wyn en filosofeerdery. Jul opdrag? Om saam ’n erotiese gedig te skryf, in paarrym (pardon the pun!). Skryf die eerste twee reëls, vou die papier na ondertoe sodat jou woorde bedek is en gee die papier vir manlief. Hy moet nou, sonder dat hy jou reëls gelees het, die volgende twee reëls skryf en weer die papier toevou voor hy dit vir jou gee. As julle saam besluit het die gedig is voltooi, kan julle die papier oopvou en die hele gedig saam lees.

Maak van jou slaapkamer ‘n proeplaas

Kry vyf bestanddele uit jou kombuis. Tipies lyk jou mandjie soos volg: ’n bietjie kaneel, ’n glasie vol warm tee, ’n sout­beskuitjie, ’n kersietamatie en ’n stukkie kaas. Blinddoek jou maat en voer hom op die bed. Hy moet nie net die bestand­deel uitken nie, maar ook die plek vanwaar jy die bestand­deel opdis. Byvoorbeeld: die kersietamatie in jou naeltjie, die kaneel op jou tong, die kaas op jou heup. As hy sy vyf beurte gehad het, is dit jou beurt. Die wenner kan maak met die verloorder se lyf wat hy/sy wil!

Maak van jou slaapkamer ‘n aantrekhokkie

Prakseer ’n hoekie in jou slaapkamer deur gordyne op te hang of selfs net ’n skerm op die regte plek aan te bring. Vra manlief om in jou klerekaste in te vaar en te kies waarin hy jou graag sal wil sien. Onthou, jy mag nie kritiek lewer nie en moet hom free reign gee. As hy jou graag in jou swart boots van die nineties wil sien, saam met ’n rooi deurtrekkertjie en ’n cowboy-hoed, is dit sy voorreg! Netnou kry hy ’n beurt. Sit aan die musiek en begin aanpas!

Maak van jou slaapkamer ‘n stoeikryt

As manlief aan die sterker kant is, kan julle jul eie reëls maak – soos dat jy hom van die bed af moet stoot (terwyl hy lê) en hy nie toegelaat word om enigiets te doen om jou te keer nie, behalwe om sy lyf te gebruik (en dalk sy een arm). Daarteenoor kan jy doen wat jy wil – as jy hom van die bed kan afkry, wen jy! Dié een is gewaarborg om julle aan die lag te kry en die kans dat die gestoei tot ander dinge gaan lei, is goed – so wees voorbereid!

 

Deur Annelize Steyn