Ek glo ek is deel van 0.00001% van mense wat nog nooit in Clarens was nie… Toe die geleentheid my dus te beurt val rondom my verjaarsdag in Augustus, het ek my tassies vinniger gepak as wat jy kan sê “Golden Gate National Park”!
Ek weet nie van jou nie, maar vir my is die beplanning vir ‘n vakansie ‘n groot deel van die opgewondendheid! Teen die tyd wat ek ‘n plekkie bespreek, het ek al soveel tyd op die internet spandeer, dat ek al amper ‘n boek oor my besoek kan skryf, nog voor die kar aan hierdie kant nog gepak is!
So begin ek toe met my navorsing oor Clarens… En ek soek… en ek soek… en ek kry… nie veel nie. Ek stuur toe ‘n WhatsApp boodskap aan ‘n goeie vriendin van my – ek onthou dat sy liries was oor hul vorige besoek aan die oulike dorpie, en besluit om gou hulp in te roep. “Vriendin, wat is moet-besoek plekke in Clarens?”, vra ek haar. “Clarens brouery!” antwoord sy my binne 2 sekondes. Dan volg ‘n winkey-smiley en sy gaan voort: “Clarens is klein, mens stap in die hoofstraat op en af, en gaan in elke winkeltjie in”. Aha, skielik maak dit meer sin. Ek besluit om op te hou soek, en net die vakansie te “embrace”… Geen verdere planne… hier gaan ons!
Ons stop natuurlik by elke oulike plekkie tussen Pretoria en Clarens. Koop bietjie biltong hier, bietjie fudge daar, bietjie verjaarsdaggeskenkies orals… (want feitlik almal wat ek ken verjaar in ‘n kwessie van 3 weke uitmekaar!)
Soos ek vroeër reeds genoem het, speel ek mos speurder-speurder voor ek die pad vat na ‘n nuwe plekkie toe! Ek lees natuurlik elke resensie wat ek in die hande kan kry, en voel sommer of ek saam met elke reisiger deel het aan hul kuiertjie by al die mooi plekkies! En hoekom dan nou enige ander plek gaan soek as op www.lekkeslaap.co.za? My taal is mos “lekke” en ek wil “lekke slaap”, so hoe dan nou anders!? Wat die soektog nog makliker maak, is dat jy jou soekresultate kan sorteer volgens prys, resensies, tipe, fasiliteite en nog baie meer! So as jy bv net soek na 4 ster gastehuise met gratis Wifi, wat rolstoelvriendelik is en eie braaiplek het, sal die www.lekkeslaap.co.za filters net die heel beste resultate vir jou wys! Lekker, ne?
Clarens is letterlik nie veel groter as ‘n privaatskool in Pretoria nie, en ons kry Patcham Place, ons oornag juweeltjie sommer maklik! Hulle fotos op Lekkeslaap (https://www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/patcham-place-13) het my sommer in ‘n japtrap oortuig dat dit ‘n fantastiese plek gaan wees! Hier kom ‘n ding…
En kyk, soms weet mens mos sommer net jy gaan lekker bly! Johan en Tim, die eienaars van Patcham Place, was besig om met hul hond buite in die tuin te speel toe ons daar aankom. Mens kan sien Clarens is ‘n lekker plek, want die helfde van die dorp staan sommer net daar en gesels. Ek het natuurlik dadelik gevra of Bayley (die woef) die aand by ons mag kom slaap… die antwoord was ‘n baie vriendelike, maar baie ferm nee! Ai…
Ons trippel die trappe om na ons slaapkamer toe… Gretig om ons tasse neer te sit en die dorpie te gaan verken… Maar helaas, daar raak ons eers aan die gesels met Johan! Jy sien, as iemand passievol is oor hul werk en hul dorpie, dan wil mens nie ophou luister nie! Johan ken elke restaurant- en winkeleienaar op die dorpie en gee ons ‘n paar lekker idees… en sommer ook ‘n paar ondeunde voorstelle om ‘n paar van die plaaslike chefs se siele bietjie uit te trek… Ons maak ook ‘n paar notas oor ‘n paar nabygelee dorpies, en gaan ons bes probeer om in die volgende paar dae orals uit te kom!
Ons kamer is absoluut pragtig!! Is dit nie maar die klein dingetjies wat die grootste verskil maak nie? ‘n Mooi briefie met ons name wat op die bed vir ons wag en 2 Sally Williams nougats op die kussing laat ons sommer dadelik welkom voel! Die mooiste pienk en wit roos met ‘n groot bottel sjerry en 2 glasies, rond die prentjie verder af.
45 minute later besluit ons om die tasse net daar op die bed te los… Uitpak kan wag tot later! Patcham Place is ‘n bed-en-ontbyt gastehuis, en ons is honger! Ons verken natuurlik eers elke mooi winkeltjie en gallery in die hoofstraat af… en besluit toe op ‘n geroosterde wegneem-kaasbroodjie wat ons sommer so loop-loop-eet… Hoekom dan nou nie, ons is mos met vakansie!
Vir ons gaan vakansies oor kwaliteit-tyd saam. Na ‘n lekker stort (ons kamer het nie ‘n bad gehad nie), gryp ons die skaakstel wat ons ingepak het, en spandeer die res van die aand voor die tv op die lekker sagte beddens – glasie sjerry in die hand natuurlik! Ek moet net noem dat die beddens so gemaklik is, dat ons oortuig was ons gaan dwarsdeur ontbyt die volgende oggend slaap… En ons het amper! Dankie tog vir selfoon alarms!
Daar is ook ‘n lekker koffie masjien met kapsules in die kamer, so jy kan jou kaffeine inkry met die druk van ‘n knoppie. Ons enigste uitdaging die hele naweek was bietjie lae waterdruk. Dis ongeluk ‘n Clarens-probleem, nie ‘n Patcham Place probleem nie, en ons is voor die tyd ook daarop voorberei en het seker gemaak ons probeer nie stort wanneer die hele dorp wakker is nie… Wag eerder tot almal reeds werk toe is, of stort so net voor die son sak…
Die reuk van spek en eiers lok ons die volgende oggend af ondertoe… en ons stap letterlik agter ons neuse aan na Patcham Place se pragtige eetkamer toe. Ons kaasbroodjies is nou al lankal geskiedenis en ons is opgewonde om te sien wat sjef Tim vir ons opdis. Goeie genugtig… Waarskuwing… moet asb nie jou skerm lek as jy die fotos van die lekker kos sien nie… dit was ‘n smaak-sensasie uit die boonste gestoeltes! Wanneer laas het jy ‘n 4-gang ontbyt kompleet met kandelare geniet? Ons val weg met ‘n vrugtekelkie met die heerlikste vars vrugte en jogurt, en loer na die varsgebakte croissant wat ook staan en wag. Die volgende oomblik kom Tim daar aan met iets uit ‘n “movie” uit… ‘n 3-laag ontbyt buffet! Kaas en kouevleis heel onder, die heerlikste vrugte op die middelste laag, en aarbeie, brownies en bessies op die boonste laag… Tim stel voor ons begin van onder af boontoe, en eet net soveel as waarvoor ons kans sien… Uitdaging aanvaar, dankie Tim! Ons smul en gesels, en gesels en smul… en stadig maar seker raak die ontbyt toring minder… Ons wys die croissant ook sommer gou wie is baas… Maar wag so bietjie… skielik onthou ons die spek en eiers reuk… Is daar dan nog kos oppad? Inderdaad! Tim kom vra met ‘n vonkel in die oog of ons reg is vir ons volgende sarsie ontbyt… Nou het ons ‘n keuse tussen omelette, roerbraai… ag ons kan maar net noem wat ons soek en Tim sal dit maak… Ons smul verder… Tot ons regtig nie meer kan nie! Nog nooit in ons lewens het ons ontbyt so baie geniet nie! Mens proe sommer die passie en liefde waarmee Tim sy kombuis bestuur! Ek vra vir Tim of ek die brownie in ‘n woefkardoesie kan saamneem… vir myself, nie vir Bayley nie! Ons strompel weg by die ontbyt tafel met magies wat voller is as ons harte…
Golden Gate National Park is so 15-20 minute se ry van die gastehuis af. Ons het bietjie daar gaan rondry, en oppad terug weer by ‘n paar oulike eetplekkies vertoef. Dis regtig ‘n rustige ou dorpie waar jy net kan gaan ontspan en lekker kan gaan rondloop. Ons was skoon hartseer toe ons moet groet… Tim druk toe ‘n wit wegneem-bakkie in my hand en sê ek moet dit eers langs die pad oopmaak… Raai net wat dit was? Natuurlik! ‘n Chocolate brownie – my favourite! Ja ja, ek het hom gedeel met my man… regtig, ek belowe…
Hier is 5 redes hoekom ons weer sal gaan kuier:
- Patcham Place is bekostigbaar. Jy kry regtig waarde vir geld!
- Patcham Place is sentraal gelee. Jy kan sommer na ‘n restaurant toe stap vir aandete, en jy kan die hele dorpie van daar af verken.
- Johan en Tim is goud werd! Ons het hulle insette en vriendelikheid so geniet!
- Ontbyt. Geen verdere verduideliking nodig nie.
- Die gastehuis het alles wat jy nodig het – die beddens is gemaklik, die aircon werk soos ‘n droom, daar is genoeg sjerrie… wat meer het mens nodig?
Ons het LEKKE geslaap, jy kan ook! Gryp jou slimfoon, jou domfoon, jou buurman se foon… doen wat nodig is en gaan boek jou wegbreek sommer nou!