Deur Liezel van der Merwe

Promosie

Daar is oomblikke in jou lewe wanneer jy “daardie mense” is. Vir ons 28ste huweliksherdenking was ek en Nico beslis “daardie mense” – en ons vier nagte weg was nie net asemrowend nie, maar iets wat ons altyd sal onthou. Dit was beslis een van ons beste huweliksherdenkings ooit!

Ons sien dikwels “daardie mense” en dit klink gewoonlik só: “Hoe het ‘daardie mense’ kaartjies gekry vir die Wêreldbeker?” of “Sjoe, dit lyk darem maar of ‘daardie mense’ ʼn fantastiese tyd vakansie het.”

Promosie

 

En soos ek op die brug, langs die oorhang-swembad, uitkyk oor die Selatirivier met die seekoeie wat lui langs die water lê, is ek só bly ons het gekies om “daardie mense” te wees, wat hulle huweliksherdenking ekstra spesiaal vier. Ons het die uitnodiging van Kruger Shalati soos ‘n lentereën verwelkom – dit is immers 28 jaar en die perfekte verskoning vir ʼn wegbreek wat nie net luuks is nie, maar enig in sy soort!

Ons het die oggend in die Krugerwildtuin aangekom en by die Phabeni-hek ingeteken. Net nadat ons deur die hek is, het Nico by die piekniekplek stilgehou en vir ons elkeen ʼn spesiale drankie in ʼn pers blikkie uitgehaal – die pers was om die ametissteen, die 28ste herdenkingsteen, te verteenwoordig. Ek het breed geglimlag – die man het sommer vroeg-vroeg al punte aangeteken. Ons was so opgewonde soos ʼn jong wittebroodpaartjie oor die vier nagte wat voorlê.

Die eerste twee nagte was bespreek by Kruger Shalati – The Train on the Bridge, en die daaropvolgende twee nagte by Kruger Untamed – ʼn luukse tentkamp in die Krugerwildtuin – ongerep, tussen die groot vyf!

Ons word by Kruger Shalati soos koninklikes ontvang. ʼn Verfrissende koue lappie en spesiale gekleurde drankie wag by die ontvangs. Nadat ons ingeteken het en ons kamerkaart ontvang het, sit ons aan vir die eerste smullekker middagete langs die spoorlyn. ʼn Salige vreugde spoel oor my hart – ek wil nou op geen ander plek op aarde wees as hier saam met Nico nie.

Kruger Shalati het twee verblyfopsies. Jy kan in die Bridge House bly – daar is sewe kamers, met ʼn privaattuin langs die brug – of bo-op die brug in een van die 24 luukse treinwaens. Ons was in ʼn luukse treinwa bespreek.

Om by ons treinwa in te stap, was ʼn asem-wegslaan-neem-ʼn-video-oh wow-belewenis. Die binnenshuise versiering met groot vensters, wat aan jou ʼn oneindige uitsig bied, het ons behoorlik na ons asems laat snak. Dit was ongekende weelde.

ʼn Klein balkon laat jou toe om soggens met ʼn beker koffie in die hand die vars lug in te asem. Die groot bed met luukse linne is alles waarvan drome gemaak word en die badkamer kan nie eers beskryf word nie. Dink net, om in ʼn skuimbad te sit of te stort, en oor die rivier uit te kyk!

Laatmiddag het ons vir ons eerste safari gegaan en vir die sonsondergang stilgehou. Die Afrika-sonsondergang is asemrowend in die Krugerwildtuin. Nico het met sy arms om my gestaan en ons harte was vol dankbaarheid vir die voorreg om getroud te kan wees en om só ʼn spesiale oomblik saam te kan beleef. Die eerste safari is deur drie ander gevolg, en ons het die Groot Vyf te sien gekry.

Tussenin het ons vir die een uitstaande ete ná die volgende aangesit. Die spyskaart het dit amper onmoontlik gemaak om te kies, maar ons lieflike kelner, Glenda, het gehelp. “I’ll bring you half of each portion, so you don’t miss anything.” Dit is die spesiale ding van Kruger Shalati – sy mense. Hulle gasvryheid en omgee is eg.

Die kampbestuurder, Justice, het ook gereeld kom kyk of ons gelukkig en tevrede is. “Do you have any challenges?” het hy dan gevra. Ek kon net glimlag. Hier was absoluut geen uitdagings nie. Nico het wel een gehad: “I want to eat more!” Justice het gelag en ons verseker dat as daar enigiets is waarmee hy kon help, ons net op sy knoppie kon druk.

En dan was daar Hamilton, ons kelner saans. ʼn Jongman met diep dimpels wat saans die vrolike Afrika-sang gelei het. Ons het ʼn geselsie oor musiek met hom aangeknoop en hy het ons vertel hoe lief hy vir sing is. Ek het gevra wie sy gunsteling-sanger is. “Pavarotti,” het hy geantwoord. En toe vat ek ʼn kans: “It’s our anniversary today. Will you sing Pavarotti to us tonight?” “Of course.” Hy het geglimlag.

Daardie aand ná ons safari was daar ʼn spesiale tafel vir ons twee gedek. Kruger Shalati is uitstekend om spesiale geleenthede te vier en bied ekstra opsies wat jy kan bespreek, soos ʼn buitelug-spa of ʼn privaatpiekniek op die noordelike dek. Vanaand was ons tafel spesiaal langs die vuur gedek. Ons het sommer liewer vir mekaar gevoel! Daar was ʼn voorgereg en ʼn hoofgereg, met wyn wat by elke smaak pas.

Net voor die nagereg het die personeel kom sing – ʼn tradisionele Shangaan-lied wat vertel van die goeie tye wat aangebreek het. Die ritmiese sang en drom het ʼn warm gevoel in ons harte veroorsaak en ons liefde vir hierdie land bevestig. Ná afloop van die sang het die personeel teruggegaan, maar Hamilton het agtergebly. “I have a special request and a final performance for you.” En daar, onder Afrika se sterre, begin Hamilton sonder enige begeleiding Pavarotti sing. Nico vat my hand. Dis droommooi.

Die volgende oggend kies ons om nie op safari te gaan nie en eerder te kyk hoe die son oor die Selatirivier opkom. Twintig minute voor die sonsopkoms verkleur die lug oranje, geel en pienk. Ek lees later dis die sonstrale wat deur die atmosfeer breek wat die kleure veroorsaak. Ons lê styf teen mekaar en bewonder die nuwe dag se aankoms.

Koffie in die bed, geskenke en briefies. Nico trek die ontwerper-syjapon aan en sit my wit strandhoed op. Ons lag en leef elke oomblik. En dan sien ons iets naby die seekoeie in die rivierbed beweeg. Kan dit wees? Ons gryp die verkyker. Wraggies! Wildehonde op ʼn drafstap. Een, twee, drie . . . Ons tel altesaam tien.

Kort agter hulle kom hiënas aangedraf. Hulle lyk rusteloos, op soek na iets, dalk besig om te jag. Wat kan dit wees? Wat sien hulle? Dit lyk of die trop strategies in twee groepe verdeel. Die hiënas kies kant en draf verder saam. Hulle hardloop reg onder ons deur. Ek trek nog my japon aan toe een van die Shalati-personeel, wat vroeër koffie aangedra het, aan ons deur klop. “Come quickly – they’ve got an impala!”

Binne sekondes trek die wildehonde ʼn rooibokram plat! Hulle begin honger vreet. Die hiënas kom nader – reg om te steel, maar die wildehonde grom en sleep die ram ʼn entjie verder weg. Dan breek ʼn geveg uit tussen die wildehonde en die hiënas – elkeen veg vir ʼn stukkie vleis. Maar binne 30 sekondes is daar net ʼn velletjie van die bok oor en ʼn been, wat een honger hiëna beetkry.

Ons monde hang oop in ongeloof oor wat ons gesien het – die sirkel van lewe in die natuur. Met seker 50 nuwe foto’s op ons kamera, stap ons hand aan hand terug na ons luukse wa. Nou is ons “daardie mense”, wat ʼn ongelooflike belewenis op die Selati-brug gehad het.

Wonder jy op hierdie stadium oor die storie agter Kruger Shalati? Waarom staan daar ʼn luukse trein op ʼn brug in die Krugerwildtuin? Ek het ook gewonder! Met die intrapslag het ek al gevoel ek stap binne-in iemand se visie in. Ek het geweet hier is ʼn storie wat vertel moet word. Judiet Barnes, hoof van bemarking, het die storie met my gedeel.

Gedurende die 1920’s het die treinspoor regdeur die Krugerwildtuin geloop. Goedere- en passasierstreine het die spore daagliks gebruik. Die passasierstrein was bekend as die “Round in Nine”-toer – ʼn nege dae lange toer vanaf Johannesburg na die Laeveld, wat later Maputo (toe Lourenco Marques) in Mosambiek ingesluit het.

Om bewusmaking van die Krugerwildtuin te vergroot, het James Stevenson-Hamilton, die wildtuin se eerste bewaarder, met die betrokke owerhede vergader en gereël dat die trein ʼn oornagstop op die Selati-brug by Skukuza sou maak. Die trein het dan op die brug stilgehou en die passasiers het vir die aand afgeklim. ʼn Groot kampvuur, heerlike kos en selfs ʼn klavier is reggesit om die aand onvergeetlik te maak.

Die oornagstop was gou die gewildste deel van die reis! Maar die impak op die omgewing en ernstige ongelukke met diere het toegeneem, en daar is besluit om die treinspoor om die Krugerwildtuin te laat loop. Die gewilde toer het in 1973 geëindig, presies 50 jaar nadat dit begin het.

In 1916 het SANParks ʼn bod beskikbaar gestel om hierdie deel van die geskiedenis as’t ware terug te bring en unieke ervarings vir besoekers aan die Krugerwildtuin te skep. Die span van Motsamayi Tourism Group (voorheen Thebe Tourism Group) het die bod gewen om Kruger Shalati – The Train on the Bridge en Kruger Station te ontwikkel. Motsamayi se missie was om ʼn ikoniese spasie te skep en om ʼn gemeenskap se lewens positief te verander. Hulle het dit beslis reggekry.

Vandag is Kruger Shalati wêreldwyd bekend en het dit al verskeie toonaangewende internasionale publikasies gehaal. Maar meer as dit, hulle het lewens verander. Hulle volg ʼn filosofie van “Hire on personality, and train new employees into their positions”. Dit bied ongekende moontlikhede aan mense wat nog nooit enige geleentheid gehad het nie.

Soos die een kelnerin sê: “They believed in me when I didn’t believe in myself.” Talle van die personeellede getuig van die lewensveranderende ervarings wat hulle saam met hierdie maatskappy gehad het. “I’ve built a house, and I am able to pay my kids’ school fees every month,” vertel een van hulle.

Ons tyd by Shalati het tot ʼn einde gekom en ons groet swaar. Maar die volgende avontuur wag. Net eers ʼn rondte gholf by die wêreld se wildste gholfbaan, Skukuza, en dan op na Kruger Untamed.

Kruger Untamed is ʼn unieke vennootskap in die Motsamayi-familie, wat die eerste konsessie in die Krugerwildtuin het om gedurende die wintermaande ʼn tentkamp in die Tshokwane-gebied op te slaan. Streng reëls geld rondom die impak op die natuur en ná ses maande word die hele kamp afgeslaan en die natuur herstel.

As ek na ʼn kamp verwys, dink jy heel moontlik aan tente en woonwaens. Kruger Untamed is egter soos die koningin van kampe. Dit is ʼn nuwe en eksklusiewe verblyfervaring met 30 luukse tente, wat tot 60 mense kan akkommodeer. Elke tent het ʼn stoep, slaapkamer en en-suite badkamer. Luukse skoon linne en warm duvets sorg vir ʼn wonderlike nagrus. Met die minimum impak op die omgewing, word water na die tent aangedra en ʼn warm stortsak is vroegoggend en laatmiddag reg.

Die kuier- en restaurant-area is op ʼn groot houtdek met ʼn gespande tent. Hier word uitstekende etes aangebied en ons was verstom oor wat voorgesit word in ʼn gebied wat van die gewone geriewe geskei is. Die kamp is reg langs ʼn sandsloot, wat ʼn bekoring van sy eie inhou. Daar is verskeie kuierspasies, skadukolle, ʼn swembad, bomas met vuur en eetplekke.

Ons kom laat die Sondag by Kruger Untamed aan en aanskou ʼn hemel vol skitterende sterre. Hierdie is ʼn ongerepte, ongeskonde deel van die Krugerwildtuin en ʼn ervaring wat jou nader aan die natuur bring. Net die vorige dag is ʼn olifant deur die kamp. Ons voel versigtig opgewonde oor die twee nagte wat voorlê. Dalk hoor ons ʼn leeu brul!

Die bed is snoesig en ons slaap soos babas. Vroeg die volgende oggend word ons wakker gemaak – die koffie wag reeds. Vanoggend het ons die safari verruil vir ʼn staproete deur die Krugerwildtuin. Twee gewapende veldgidse, Etienne en John, neem ons uit. Ons stap tjoepstil in ʼn ry. Die klippies knars onder ons skoensole.

ʼn Nuwe dag word aangekondig deur die voëltjies wat opgewonde sing. Ons stap oos, in die rigting van die sonsopkoms. En soos die lug verkleur, hoor ons die gebulk van buffels. Ek haal effens vlakker asem. Buffels kan gevaarlik wees – en ons is te voet.

Net oor die volgende bultjie sien ons die trop in die oopte, 80 meter van ons af. Hulle wei rustig. Ons veldgids gee duidelike riglyne: “Bly in die oopte, moet nooit hardloop nie.” Hy verduidelik meer oor buffels en sê dan: “Hulle gaan heel moontlik binnekort ʼn muur vorm en bietjie nader kom.” Sy woorde was skaars koud, toe vorm die buffels ʼn muur. Met hulle koppe in ons rigting, neem hulle stelling in ʼn ry in en kom nader en nader – tot op 40 meter.

“Gee een tree terug,” kom Etienne se volgende opdrag. Ek is lam van my kop tot by my tone en klou aan Nico se hand vas. Sy glimlag gaan amper verby sy ore en ek kan sien elke stukkie opgewondenheid bruis deur sy lyf. Etienne praat rustig met die buffels en verseker hulle ons is net hier om te kyk. Hulle draai om en draf ʼn entjie terug, voordat hulle weer omdraai en vir ons kyk. “Gelukkig verstaan hulle Afrikaans,” skerts Etienne.

Ons staan daar vir 20 minute. Die son kom op terwyl ons na die buffels kyk. Dit is ʼn wonderskone ervaring. Ek dink aan Romeine 1:20, wat sê dat ons God in Sy werk kan sien, en ek beleef die almag van ons Skepper in die natuur. Ná ʼn tyd stap ons rustig weg van die trop af, opgewonde oor die avontuur. Ons leer meer oor die tambotieboom en die wonder van ʼn termietnes. Daar is soveel in God se Skepping waarvan ons nie weet nie. Ons staan in verwondering.

Terug by die kamp is dit ontbyt en ʼn warm stortsak. Dan ʼn luilekker dag in die sandsloot, met ʼn boek en oorgenoeg om te drink en aan te peusel. Dis gehalte-kuiertyd vir ons twee. Dit voel sommer of ons heuningpot behoorlik vol word. Ná die aand se safari en sonsondergang-stop, geniet ons die kampvuur in die sandsloot en ʼn heerlike ete.

Die volgende oggend is ons weer vroeg uit die vere en hierdie keer ontmoet ons ʼn jong olifantbul. Die adrenalien vloei weer deur ons are, maar gelukkig het die jong bul ook Afrikaans verstaan. Hy het sy stert eers styf gemaak en sy ore geflap om ons behoorlik ʼn hol kol op die maag te gee voordat hy die veld in is!

Kruger Untamed was ʼn unieke belewenis. Om nader aan God se Skepping te kom en die wonderskone natuur te beleef, was ʼn voorreg wat ons in ons harte bly koester. Die terugvoer van die gaste was dit eens – dit is beslis die Krugerwildtuin soos ons dit nog nooit vantevore beleef het nie.

Met stories in ons harte en ons liefde goed gesement, ry ons by die Paul Kruger-hek uit. Hierdie was een van ons luuksste, opwindendste herdenkings ooit. Dit was regtig lekker om “daardie mense” te wees.

Goed om te weet:

  • Gaan na Kruger Shalati, Kruger Station en Kruger Untamed se webblaaie en teken in op hulle nuusbriewe vir al die nuutste inligting en spesiale aanbiedings.
  • Besoek Kruger Station en gaan eet in ʼn treinwa as jy weer in die wildtuin rondry. Dit is by die Skukuza-kamp en oop vir die publiek.
  • Beide Kruger Shalati en Kruger Untamed bied spesiale tariewe vir Suid-Afrikaners. Die tariewe sluit kos, drankies en alle safari-ritte in.
  • Laat weet die ontvangs as julle ʼn huweliksherdenking of dalk ʼn verjaardag vier – hulle sal dit ekstra spesiaal vir julle maak.

 

#huweliksherdenking #KrugerShalati #KrugerUntamed #KrugerStation #KrugerPark #KrugerNationalPark #KrugerNasionalePark #Skukuza #travelblog