Het julle rolverdeling onder die knie? ’n Paartjie wat jonk getroud is, leef baie dikwels in die borrel van vrede, geluk en intimiteit vir ’n tydperk van nege tot 12 maande ná hulle getroud is – maar dan skop die realiteit van die lewe redelik ernstig in.
Die verantwoordelikhede van die lewe beur meer en meer teen die rande van die borrel en in baie gevalle bars daardie borrel! Dan voel sommige paartjies asof hulle nie eens weet met wie hulle getrou het nie! Soms is dit net ’n kwessie van “gewoond raak aan mekaar” en by ander tye is dit rolverdeling wat tussen hulle inkloof.
Die paartjie begin al hoe meer praat oor die praktiese funksionering van die huishouding, en al hoe minder oor hul verhouding en emosies vir mekaar. Hulle aanvaar dat hul maats hul gedagtes behoort te “verstaan”. Daar is niks fout nie, maar die lewe eis sy tol. Gaan dit nou hul lot wees? Nee, maar as die paartjie nie bewustelik hieraan aandag gee nie, sal dit ’n groot deel van hul saamwees beslaan en hul verbintenis belemmer.
Daarom moet die kwessie van rolverdeling en onderhoud direk gekonfronteer word. Gesels direk hieroor sodat verdere ruimte geskep kan word vir ’n paartjie se liefde, vrede en vreugde.
So hoe gemaak?
Maak ’n afspraak met mekaar, sodat julle die onderhoud en take wat daarmee saamgaan kan bespreek.
Stap deur die huis en erf waar julle woon. Gaan staan in elke vertrek of spasie, en vra vir mekaar wat in hierdie vertrek of spasie moet gebeur. Skryf neer wat julle sê. Hierdie gesprek moet ook inhou wat die paartjie se onderskeie verwagtings is vir die spasie of vertrek waarin hulle staan, byvoorbeeld hoe elkeen wil hê dit moet lyk, asook wie verantwoordelik is vir wat alles in die spasie of vertrek moet plaasvind.
Praat met mekaar oor hoe gereeld dinge in die vertrek moet plaasvind. Hier kan argumentsonthalwe gepraat word oor die kombuis, naamlik hoe gereeld moet die skottelgoed gewas word, wie is verantwoordelik daarvoor, wie moet die vuilgoeddrom leegmaak, hoe gereeld moet dit gebeur en wie is verantwoordelik daarvoor?
Maak seker dat daar nie een vertrek of spasie is waaroor nie gepraat is en nog steeds onduidelikheid oor bestaan nie.
In hierdie geval, waar na die basiese onderhoudstake in die huis gekyk word, moet na die vaardighede van die man en vrou gekyk word. Wees versigtig om in stereotipering te verval en sekere take aan mekaar te gee, omdat mans dit “altyd” doen of omdat dit “altyd” vroue se werk is.
As ’n man beter kos maak, laat hy verantwoordelik wees vir die kosmakery, en as die vrou beter in die tuin is, laat sy die tuin hanteer. Paartjies wat doen waarvan hulle hou, sal die take ook baie makliker en met baie meer energie afhandel. Baie van hierdie take wat ’n persoon doen omdat hy of sy daarvan hou, is ook ’n stresontlaaier en help die persoon om te voel dat hy of sy waarde toevoeg tot die huishouding.
Moenie net alles los sodat elkeen moet doen wat sy of haar hand vind om te doen nie, Dit skep ontsettend baie spanning, onsekerheid, onduidelikheid en onaangespreekte verwagtings by die paartjie. Hierdie ervarings is ’n broeiplek vir diskonneksie en konflik.
Hoe duideliker gekommunikeer word en hoe meer deursigtig elke party se verwagting is van hoe hy of sy ’n plek sien of wat hy of sy moet doen, hoe meer vrede sal ’n paartjie ervaar. Die rede hiervoor is dat beide sal voel dat hulle gehoor word en dat hulle waarde tot die verhouding toevoeg.
Wanneer die lewe net “gebeur”
Hoe gemaak met die takies wat sommer so deur die loop van die lewe opkom – die doenlysie?
Gaan koop ’n witbord, of as een van die twee baie kreatief is, maak ’n swartbord wat mooi sal lyk in die huis. Deel die bord in twee kolomme op. Die een kolom se naam is: “Dinge om te doen”, en die ander een: “Teen wanneer?”. Die persoon wat wil hê dat sy of haar maat iets moet doen, skryf daardie takie in die “Dinge om te doen”-kolom en die een wat die takie moet verrig, skryf die datum neer teen wanneer hy of sy dit gaan doen in die “Teen wanneer?”-kolom.
Die idee hiervan is dat dit wat gedoen moet word nie aanhoudend oor gepraat word en frustrasies onnodig losgemaak word by die paartjie nie. Dit bring mee dat daar vrye keuses is en dat die paartjie eienaarskap kan vat vir wat hulle besluit. Daar is dan geen gesprek verder oor die takie nie, tensy die sperdatum aangebreek het en die takie nie verrig is nie.
As dinge nie gedoen word soos wat bespreek word nie of as die sperdatums nie nagekom word nie, moet die paartjie weer gaan sit en kommunikeer oor die rede daarvoor. As daar spesifieke redes is wat goeie redes is, kan die take weer ingedeel word of die sperdatums aangeskuif word.
As daar egter geen goeie rede is nie, moet die paartjie besef dat konflik en frustrasie deel gaan wees van hulle verhouding en ook bewus wees daarvan dat hulle gereeld diskonneksie sal ervaar. In hierdie geval sal ons voorstel dat die paartjie ’n derde persoon gaan sien wat hulle kan help om hierdie struikelblok uit die weg te ruim. Moenie toelaat dat sleurtake julle huweliksgroei onderdruk nie!
Deur Kobus en Linda Pauw