’n Mens hoor deesdae gereeld van paartjies wat na 20 of 30 jaar se getroude lewe skei (terwyl hulle baie gelukkig gelyk het). Hoe werk dit?

Promosie

’n Mens sou dink dat ná 20 or 30 jaar se saamleef ’n paartjie mekaar goed sal ken, sal verstaan en regtig gelukkig saam sal kan oud word. Skielik is dinge rustiger, geen skoolfunksies en ouervergaderings hoef meer bygewoon te word nie, hul kinders staan op hul eie voete en gaan voort met hul eie nuwe gesinne, en uiteindelik kan die paartjie nou saam reis en ure lank saam sit en gesels. Hulle is mos mekaar se beste maats, en ken en verstaan mekaar beter as enigiemand anders.

En dan kondig hulle aan dat hulle gaan skei . . .

Dit is ’n vreemde konsep. Hoekom skei paartjies die dag wanneer hul kinders uit die huis is en dit voel asof die lewe nou eintlik makliker behoort te raak? Was hulle nooit bedoel vir mekaar nie? Het hulle uitmekaar gegroei en vreemdelinge geraak? Was hulle te gefokus op hul beroepe en kinders grootmaak, of soek een skielik groener weivelde? Dit maak nie vir ons sin nie, en dit maak ons benoud . . .

Promosie

Hoekom gebeur dit?

Daar is sekerlik verskillende redes vir elke individuele paartjie, maar hier is ’n paar algemene sondebokke:

  • Sommige mense kies regtig ’n maat om die verkeerde redes. Hulle kan vir baie jare voorgee en uithou, maar in ’n stadium raak dit vir hulle te moeilik om so baie kompromieë te tref.
  • Soms neem een of albei persone in die huwelik besluite wat nie goed is vir die verhouding nie. Die skade wat gedoen word, word dalk nie behoorlik hanteer of opgelos nie en eerder “onder die mat ingevee”. Oor jare groei daardie onderdrukte probleem amper tot ’n reuse-abses. Dit kan net nie meer geïgnoreer word nie en dit bars oop!
  • Sommige mense raak regtig só besig met ander dinge (kinders, televisie, sport, werk, familie, stokperdjies en vriende), wat hul aandag wegneem van hul verhouding af, dat hulle waarlik ’n onafhanklike lewe lei, amper parallel met hul lewensmaat. Hulle raak vreemdelinge in mekaar se lewens.
  • Sommige mense probeer om mekaar só tevrede te hou dat hulle nie uiting gee aan hul eie behoeftes nie. Op ’n dag word hulle “wakker” en besef hulle is eintlik sielsongelukkig omdat hulle té veel en vir té lank kompromieë getref het.
  • Sommige paartjies ervaar dat hulle in verskillende rigtings groei. Mense móét groei en ontwikkel – fisies en psigies. Ons kan nie vir altyd dieselfde persoon bly nie. Indien net een van die persone in ’n verhouding groei, mag hulle dalk voel een groei verby die ander een. Die persoon ervaar dat hy/sy teruggehou word.

Wenke

Egskeidings gebeur nooit oornag nie (al lyk dit soms so!). Daar is altyd klein krakies wat groter kan word en onoorbrugbare skeure kan vorm indien hulle nie vroeg raakgesien en hanteer word nie.

  • Mense maak verkeerde keuses . . .
    • Dit is moeilik om seker te wees, maar as jou intuïsie vir jou sê jy kies die persoon om die verkeerde redes (jy dink hy is redelik gaaf, maar eintlik het hy veral baie geld of status, hy is ’n goeie catch volgens die samelewing of jou familie en vriende, maar hy het ’n paar baie slegte gewoontes wat jy hoop om uit hom uit te kry oor tyd, wat later probleme kan gee), is dit waarskynlik só!
  • Mense kommunikeer nie hul behoeftes nie . . .
    • Die man of vrou het ’n onvervulde behoefte – meer tyd saam met die ander persoon, ’n spesifieke item, geleentheid of uitstappie. Of daar is iets wat hulle pla of wat hulle dalk anders sal wil hê. Maar hulle is onseker oor hoe die ander een gaan reageer of vrees hoe die ander een gaan reageer, en sê dan eerder niks nie.
    • Dis aanvanklik dalk ’n klein dingetjie – die vrou hou nie eintlik van die parfuum wat haar man vir haar gekoop het nie en gee voor sy doen, of die man wil baie graag saam met sy vriend gaan gholf speel, maar dink sy vrou gaan nie daarvan hou nie.
    • Klein dingetjies word al hoe groter oor tyd of een klein dingetjie word dalk baie.
    • As die paartjie nie met mekaar praat hieroor nie, moet die een wie se behoeftes nie bevredig word nie elke keer ’n kompromie tref en naderhand word dit soveel kompromieë dat die persoon eintlik ’n wrok opbou en onttrek of aggressief raak – ’n wenresep vir verwydering van mekaar op emosionele en fisiese vlak.

Bly só by mekaar:

  • Behou die vriendskap: Wees bedag daarop dat julle nie net oor verantwoordelikhede en bekommernisse mag praat nie! Maak tyd – al is dit kort rukkies – om na aan mekaar te bly en kontak te bly maak.
  • Hou aan om jou maat te leer ken. Vra mekaar uit, al dink jy jy ken al die antwoorde. En luister regtig. Skep van tyd tot tyd spesifieke geleenthede om dit te doen – spandeer tyd saam sonder enige ander afleidings. Vra uit oor jou maat se verlede, drome, gedagtes en plesiertjies.
  • Praat oor watter dinge julle aan kan werk of oor kan droom, en beplan hoe julle dit kan doen. Wees kreatief hiermee en moenie “ons het niks in gemeen” as ’n verskoning aanvaar nie – kry iets wat julle in gemeen het!
  • Vind maniere om fisies intiem te wees wat vir julle albei bevredigend sal wees. Maak beurte om die leiding te neem. Wees ook hiermee kreatief, liefdevol en versorgend.
  • Wees bedag op areas van jou lewe waarby jy jou maat uitgesluit het en praat oor maniere waarop julle mekaar kan betrek. Laat byvoorbeeld jou vrou daardie belangrike aanbieding bywoon sodat sy jou in aksie kan sien, nooi jou man om saam met jou ’n gunsteling fliek te kyk net om dit te kan deel.

Daar is nie ’n maklike, gewaarborgde resep nie. Die basislyn is dat ’n mens regtig emosioneel intiem met jou maat moet kan konnekteer en wanneer jy agterkom dat julle vir ’n uitgerekte tydperk dit nie regkry nie, moet julle drasties inspring en dit regmaak – moenie agteroorsit en dink dit gaan vanself regkom nie. Raak bewus van die tipe patrone waarin julle beland wat julle verder uitmekaar laat dryf en hanteer dit terwyl die krakies nog klein is!

 

Deur Wilme Steenekamp