Om die vonk te behou in ‘n huwelik waar kindersiektes, loopbaankeuses en munisipaliteitsrekeninge prioriteit geniet, is nie maklik nie. Só maak jy seker julle verloor nie die magic nie…

Promosie

In ‘n ideale wêreld, sou ons ons maats wou bederf met vuurwerke in New York, kanaalritte in Venesië en Eiffel-ekskursies in Parys… maar ‘n baie klein porsie van ons bevolking kan dié luukshede bekostig. Die meeste van ons moet magic maak van ‘n braaivleisvuurtjie in die agterplaas, ‘n boot op Bronkhortspruit Dam en ‘n hysbak-rit in Menlyn Park winkelsentrum. Maar hier is die geheim: Jy hoef nie iewers heen te ry om die magic te gaan haal nie… met ‘n bietjie kreatiwiteit bring jy dit na jou eie huis toe, en sprinkle jy die fairy dust oor jou huwelik – al is dit met ‘n voorskoot om die lyf en ‘n 90’s scrunchie in die hare!

1. Voer mekaar! Dit klink dalk vreemd. Laat manlief jou voer terwyl jy jou tweejarige ertjies voer? Dit klink dalk absurd, maar sóú jou man jou ‘n happie aanbied, kyk hom in die oë vir ‘n oomblik en neem daardie hap! Die intensie is dalk nie so romanties soos wanneer hy jou ‘n truffle-sampioen voer in ‘n duur Franse restaurant nie, maar as jy mooi daaroor dink is dit super romanties en woes intiem. Dit beteken dat hy vir daardie oomblik op jou fokus en jou probeer help terwyl jy worstel om kop bo water te hou. En wat is meer sexy as dit?

2. Praat die taal van intimiteit. Watter taal is dit? Ons weet nie, maar julle weet! Met die jare ontwikkel elke paartjie ‘n baie spesifieke taal wat net hulle twee verstaan. Wanneer jy afkyk en jou hare agter jou oor sit, beteken dit jy vermy konflik. Net hy weet dit. Wanneer hy sê: “Laat ek bietjie daaroor dink,”weet jy reeds die antwoord is ‘ja’, want hy kan dit nie verdra om jou te weier nie. Dit is subtiele nuanses. Subteks. ‘n Taal wat net julle kan verstaan. Maak die meeste hiervan.

Promosie

3. Lees saam poësie. Audrey Blignaut, Emily Dickenson, Ingrid Jonker, Rumi… dit maak nie saak wíé jy lees nie, maar maak tyd om vir mekaar te lees. In die bad, in die bed, in die kombuis. Daar is iets baie magicals en intiem daaraan om in die head space van worstelende digters te klim en hul diepste gedagtes hardop te verwoord aan die een wat jy liefhet. Dis intellektueel, dis sensueel en dit kan ‘n interessante gesprek tussen jou en jou maat aan die gang sit.

4. Vra voor jy vertel. Vra jou maat hoe sy dag was wanneer hy by die deur instap. Vra jou maat wat vir hom/haar belangrik is, wat hulle planne vir die week is en hoe jy hulle kan help. Luister voor jy reageer. Ons is so geneig om mekaar te bombardeer met reëlings en nuttelose inligting. As jy heeldag by die huis was en hy stap by die deur in, is jou impuls om hom te vertel van die geyser wat raas en sy ma wat gebel het. Haal asem, hou daardie alledaagse rumoer vir eers net vir jouself en vra jou maat uit oor sy/haar hart. Só hou jy die magic lewendig.

5. Bly sexy. Soos wat die tyd verloop, so verlaag adrenalien en dopamienvlakke en dit verg harder werk om die vonk te behou. Probeer so hard jy kan om sexy vir jou maat te bly. Verleidelikheid is die wagwoord. Laat val jou handdoek as hy die badkamer binnekom. Blaas vir hom ‘n soentjie as jy klaar jou lipstiffie aangesit het. Soen haar in haar nek terwyl sy tande borsel. Gee vir haar die stoute kyk terwyl julle by die skool se sportdag is. Doen moeite om jouself sexy vir jou maat te hou, maar ook sexy op te tree in alledaagse oomblikke en julle het die stryd halfpad gewen.

6. Waag saam kanse! Ja, julle is dalk bang om die skuif van die Kaap tot in Kaïro te maak, want wat as dit spanning op jul huwelik plaas? Maar…. Wat as dit nuwe lewe in jul huwelik inblaas? Natuurlik neem ‘n mens nie ‘n risky stap in jou lewe net om te kyk of dit jou huwelik ‘n hupstoot kan gee nie, maar dit kán ‘n byvoordeel wees. Om sáám ‘n waagstuk aan te pak, kan vreesaanjaend wees, maar dit is ook hierdie situasies wat ‘n mens die heel meeste kan laat groei en nader aan mekaar laat beweeg. So, as julle terugdeins van ‘n uitdaging, verander jul perspektief en gryp dit vas – kaalhande!

7. Delf dieper as die vanselfsprekende. Sommige paartjies raak só gewoond aan mekaar dat hulle nie meer met mekaar praat nie. Ander praat wel met mekaar, maar die taal wat hulle gebruik raak voorspelbaar en verloor impak. As jy elke aand “Lief vir jou” vir jou maat mompel sonder om enigsins daaroor te dink, raak dit soos ‘n rympie-tafelgebed waarna niemand meer lusister nie. Delf dieper as die oppervlak en raak ander emosies aan. Sê vir jou maat dat jy lief is vir hom/haar, maar op ‘n ander manier. Wat van: “Ek wonder soms of ek ooit sonder jou sal klaarkom,” of “Ek is bitter trots op jou,” of “Weet jy hoeveel jy vir my beteken?”

8. Praat oor seks. Seks kan maklik afgesaag raak. Ja, dieselfde posisies, op dieselfde tye, met dieselfde voor-en-naspel. En ná ‘n huwelik van 20 jaar voel dit soms onmoontlik om dinge steeds kreatief te hou. Een baie belangrike beginsel waarby julle moet hou as julle jul sekslewe opwindend wil hou: Praat oor seks. Daar is verskeie voordele verbonde aan dié tydverdryf. Praat oor jul behoeftes (gereeldheid, voorkeure, afkeure), praat terwyl julle seks het (dit is super hot) en praat wanneer julle wíl seks hê… om die onderwerp van seks te bespreek (terwyl julle albei nog jul klere aanhet), is ‘n aptytwekker soos min! Studies het gevind dat paartjies wat seks bespreek, ‘n groter seksuele tevredenheid het.

9. Word weer studente. Pak saam ‘n nuwe vaardigheid aan. Of dit nou ‘n taal is en of dit ilates is. Leer saam meer oor die wereld rondom julle. As julle saam leer, sal julle saam groei. Dit help jou om nuwe dinge van jou maat te ontdek en hoe jou maat met die wêreld omgaan. Boonop is nuutheid ook gelyk aan opwinding. Wanneer julle daardie nuwe Salsa-move reggekry het, sal dit julle boonop ‘n gevoel van kameraderie en trots gee!

10. Maak ‘n fles vol dankbaarheid. Ja, ‘n dankbaarheidsjoernaal of ‘n dankbaarheidsbottel sal jou herinner aan hoekom jy en jou maat saam is. Niemand hoef hiervan te weet nie – behalwe vir julle twee. Koop ‘n doodgewone Consol-fles en papiertjies in twee kleure. Skryf elke aand vyf tot tien dinge neer wat julle van mekaar waardeer en pos hulle. Teen die einde van die maand of op date night kan julle die fles saamneem en hardop lees. Of wanneer dit ‘n moeilike dag was, kan jy een van jou maat se papiertjies trek en kyk hoekom hy/sy jou waardeer – ‘n waarborg om enige swaar hart ligter te laat voel!

Eintlik is die lys eindeloos. As jy waarlik hard dink, sal jy nog tientalle kreatiewe maniere vind om jul wêreld ‘n romantiese plek te maak – selfs in die supermark!

Een van die belangrikste dinge om egter te onthou, is om tyd met jou maat deur te bring. Date night is fantasties. Maar soms beteken dit net ‘n oomblik se oogkontak terwyl die kroos om julle babbel – daardie oomblik word ‘n oomblik tussen júlle twee. Genoeg oomblikke soos dié en jul huwelik sal bly flikker. Maak fairy dust ‘n prioriteit en jy kry ‘n huwelik vol magic

Addisionele bronne: psycologytoday.com; huffpost.com; vogue.com; bustle.com; thisinsider.com;