Jy is deur al drie dele van INTIEM se libidokursus, maar voel steeds nie lus om vir manlief te bespring nie. Fisiek weet jy alles is reg, jou hormone is op koers en jou medisynekassie is uitgesorteer. Jy het boonop jou stresvlakke verminder, maar jou libido is steeds soek. Weet jy dat al die libido-boelies nie noodwendig eksterne faktore is nie, maar dat jul verhouding die oorsaak kan wees vir jou verpletterde libido?

Promosie

Elke maand loop INTIEM se briewebus oor van klagtes oor vroue met ’n lae libido. Gewoonlik skryf die Evas ook iets soos: “My man is ’n wonderlike lover en ek het geen traumatiese ervarings uit my verlede nie, maar steeds is ek net niks lus vir seks nie. As ek die res van my lewe daarsonder moet klaarkom, sal dit my perfek pas, maar ek weet dis vir my man belangrik. Help!” En ons wil julle graag help, want duidelik besef julle maar alte goed watter broodnodige bestanddeel seksuele ver­vulling vir ’n huwelik op dreef is. As jy seker gemaak het alles is in plek, maar jy het geen sekslus nie, is dit dalk tyd om te kyk na onder­liggende faktore wat ’n rol in jou verhouding kan speel.

“Die algemeen­ste oorsaak van begeerte-probleme onder vroue het te doen met kwessies rakende die maat – en ’n klomp vroue besef nie dat dít is wat aangaan nie,” sê Holly Thacker, outeur en direkteur van die Centre of Specialised Women’s Health in Cleveland. “Vanselfsprekend moet jy ’n lewensmaat hê tot wie jy aangetrokke voel en as daar huweliks- of emosionele kwessies in die verhouding is, kan dit ’n probleem skep rakende begeerte.” Ná alles weet ons dat die brein die belangrikste seksorgaan is.

  1. Daar is geen “intimiteit” nie

Vir baie vroue is emosionele nabyheid ’n voorwaarde vir seksuele intimiteit. Probleme in jul verhouding kan dus ’n bepalende faktor in jou lae seksdrang wees. Voel dit vir jou asof jy en jou maat deesdae net nie ’n “konneksie” het nie? Dit kan dalk wees as gevolg van strawwe werksure of ’n nuwe stokperdjie wat hom só besig hou dat julle nie gehaltetyd saam deurbring nie. Denise vertel dat haar man, Ollie, onlangs begin gholf speel het. “Hy is só into hierdie nuwe tydverdryf dat dit voel asof ons uitmekaar begin beweeg. Waar ons elke Saterdag as ’n gesin dinge saam sou doen, speel hy nou gholf. Ek wil nie graag hieroor kla nie, want ek sien hoe hy dit geniet, maar dit het beslis ’n uitwerking op die ‘band’ wat ons altyd gehad het.”

Promosie
  1. Daar is iets aan die broei

Nog ’n oorsaak kan onderliggende konflik wees. Marlie vertel: “So twee weke gelede het ons ’n groot rusie gehad ná ’n Sondagmiddagete by my ouers. Daar was ’n misverstand wat veroorsaak het dat Jaco en my ma-hulle begin argumenteer het. By die huis het ek en hy daaroor begin stry, maar ons kon nie tot ’n vergelyk kom nie en die rusie het ’n stille dood gesterf. Sedert daardie Sondag is dit asof iets nie lekker is tussen my en Jaco nie. Ons baklei nie, maar daar is ’n krapperigheid wat ’n negatiewe impak op ons huwelik het.”

  1. Swak kommunikasie oor seks

Daar kan ook ’n gevoel van onvergenoegdheid wees, soos in Elrie en Anton se geval. Elrie sê: “Toe Tania gebore is, het ons sekslewe ’n dramatiese laagtepunt bereik. Sy was ’n koliekbaba en ons het elke oomblik wat ons kon probeer benut om ons verhouding net op die regte spoor te hou. Dit het quickies beteken, selfs in tye wanneer ons ongelooflik moeg was. Die probleem is, Tania is nou drie jaar oud en niks het verbeter nie. Dit is asof Anton in daardie tyd vasgehaak het. Dit voel vir my asof hy voorspel afskeep en net tevrede is met seks wat onder standaard is. Ek wil so graag hê dit moet wees soos destyds, toe ons pas getroud was, en ek weet dat dinge verander, maar ek glo ons kan altwee weer daar kom as ons koppe reg is. Ek weet egter nie hoe om die onderwerp aan te roer sonder om Anton se gevoelens seer te maak nie, so ek bly stil. Dit is egter besig om te veroorsaak dat ek nie meer lus is vir seks nie.” In Elrie-hulle se geval is swak kommunikasie oor seksuele behoeftes die oorsaak van ’n lae libido by haar.

  1. Ontrouheid of vertroue wat verbreek is

In Ben en Christa se geval gaan dit goed met die huwelik – of so lyk dit. “Drie weke gelede het ek ontdek dat Ben vir my gejok het toe hy gesê het hy werk laat. En nee, hy het nie ’n affair nie. Wat hy eintlik daardie aand gedoen het, was om Poker te speel saam met sy vriende. Hy het my gebel van die Poker-game af en blatant gesê dat hy vasbrand met papierwerk en oor ’n uur by die huis sal wees. Drie uur later het hy, lekker gekuier, by die voordeur ingestap.” Wat Christa ongelukkig gemaak het, is nie die feit dat hy Poker gaan speel het nie, maar dat hy vir haar gejok het. Hy het boonop daardie aand vir die tweede keer haar vertroue in hom gebreek deur nie sy woord te hou rakende watter tyd hy by die huis gaan wees nie. “Dit is nie asof ek die tipe vrou is wat hom verbied om tyd saam met sy vriende deur te bring nie. Wat my pla, is dat hy so maklik vir my gejok het – en dit vóór sy vriende. Ek voel vernederd,” vertel Christa. Intussen het Ben gesê hy is jammer en op die oog af het hulle die probleem uitgesorteer, maar vir Christa is dit nie so maklik nie. “Ek wonder nou hoeveel keer in die verlede hy al só vir my gejok het en elke keer wat hy vir my iets sê, wonder ek of hy die waarheid praat.” Die knak in hul vertrouensband het definitief hul vlak van intimiteit beïnvloed, meen Christa.

In gevalle soos dié is die probleem dikwels iets wat “oorwaai” (op die oog af), maar eintlik sy kloue diep in die verhouding ingeslaan het. Soms besef een van die partye nie hoe teenwoor­dig die probleem nog eintlik is nie. Dit manifesteer egter in die verhouding in die vorm van ’n lae libido terwyl die paartjie dink dat die verhouding heel gesond is. Intussen word die gat in jul band van intimiteit al hoe groter. En hoe minder seks julle het, hoe dieper word daardie gat!

“Dit is belangrik om nie die kwessie van seksuele ontevreden­heid te ignoreer nie, aangesien dit beslis ’n lewe van sy eie kan aanneem as dit onaangeraak gelaat word. Moenie wag tot jul verhouding amper onherstelbaar is voor julle gaan vir terapie nie,” meen Laura Berman, assistent kliniese professor in psigiatrie en ginekologie, en direkteur van die Berman Centre. “Meer en meer paartjies gaan veel vroeër vir terapie, wanneer hulle die probleem opmerk en steeds van mekaar hou, wat die spoed en doeltreffendheid van terapie veel beter maak.”

Sy sê ongeag watter behandeling julle kies om jul libido te help genees, maak net seker dat julle nie toelaat dat enigiets julle verhoed om ’n gelukkige en gesonde sekslewe te hê nie. “Vroue wat seksueel vervul is, is ook meer geneig om tevrede te wees met die res van hul lewens – so hou aan om jou droom-sekslewe na te streef. Dis regtig die moeite werd!”

Juan J Remos, ’n dokter aan die Miami Instituut vir Ouderdoms­bestuur en Intervensie, meen dat baie mense libidoprobleme aan hormone toeskryf. “Maar dit is baie meer kompleks as dit, en oorvleuel met bykans elke sfeer van die menslike ervaring, insluitende jou hartgesondheid, geestesgesondheid, voeding, liggaamsbeeld, stresvlak en die gehalte van die verhouding in die algemeen.”

Is jy gelukkig in jou verhouding? ’n Paartjie wat lank saam is, kan oorbekend raak met mekaar (wat ’n mate van ontevreden­heid teweeg kan bring). En stres binne ’n verhouding is ’n sterker faktor by lae libido as ander soorte stres. Omdat jou maat se ontevredenheid ’n direkte impak kan hê op jou eie libido, kan een maat se lae libido ’n uitwerking op albei hê.

Wat staan jou te doen?

Wel, jy moet beslis aksie neem! Verhoudingsprobleme kan ’n lae libido veroorsaak, maar net so kan ’n lae libido ook verhoudingsprobleme veroorsaak. Om belangstelling in seks te verloor, steel passie en daardie “konneksie” uit ’n verhouding. Dit dra ook by tot ’n lae selfbeeld vir albei partye – ’n probleem wat geboorte kan gee aan verskeie ander probleme, soos verwyt en woede.

Wanneer ’n paartjie emosionele probleme het (soos woede, verwyt of ’n tekort aan kommunikasie), dink baie mense hulle moet eerste die emosionele probleme regmaak. Vir baie mense is die teenoorgestelde egter waar. “Ek dink nie seksterapie is enigsins meer apart van huweliksterapie nie,” sê Juan. “As jy be­gin om die seksuele verhouding van ’n paartjie te ondersoek, sal jy by al die ander dinge uitkom en vice versa. Seks is die venster na enigiets anders in die verhouding.”

Gewoonlik kan dit help as jy eerstens die emosionele probleme aanspreek, maar as ’n paartjie dit probeer en dit geen verskil maak nie, is die oplossing dalk om eerstens met die seksuele probleme te werk. Kenners meen dat paartjies moet praat oor hoe om hul fisieke verhouding reg te stel, of hulle nou in die bui daarvoor is of nie. “As paar tjies begin om mekaar weer aan te raak, voel hulle nader aan mekaar, wat hulle emosioneel op dieselfde bladsy plaas en dit makliker maak om ander verskille op te los,” meen Michelle Weiner-Davis, outeur van The sex-starved marriage: A couple’s guide to boosting their marriage libido.

  1. Werk aan jul kommunikasietegnieke en maak seker dat julle albei presies weet wat jul maat se seksuele behoeftes is. Luister na jou maat, praat reguit oor die saak en gee jou ondersteuning waar nodig. As julle sukkel om ‘n spesifieke teer puntjie aan te raak, hou ‘n “huweliksvergadering” een keer per week. Skryf die dinge neer wat jy voel julle moet bespreek en werk daardie dinge in diepte deur… maar eindig dit met ‘n pretsessie!
  2. As julle sukkel om dit op jul eie te doen, gaan spreek ’n seksuoloog of berader wat julle kan help om die dieper probleme in jul verhouding aan te spreek. Seksuoloog Elmari Craig meen dat dit heel dikwels nie ‘n “in-die-kop” dilemma is nie en ‘n goeie seksuoloog sal ook onder meer jou bloed trek om seker te maak alles is liggaamlik in orde. Daar is nie iets fout met jou as jy ‘n terapeut gaan sien nie en dié stigma moet verander word. Niemand kan ooit sê hulle is fisiek, geestelik en emosioneel op presies die regte plek en dat hulle nie voordeel kan trek uit bronne, leesstof en nuwe ervaringe nie.
  3. Werk daaraan om ’n groter vlak van intimiteit tussen julle te skep, en fisies na aan mekaar te wees sonder om seks te hê. Dit doen jy deur mekaar voortdurend aan te raak deur die dag. Deur koffie-afsprake te hê (net julle twee) waar julle oor drome en ideale gesels en deur mekaar soms net vas te hou…
  4. Eksperimenteer met verskeie sekstegnieke en posisies om seker te maak albei word bevredig en dit is vir albei ’n lekker ervaring.
  5. Praat oor jul seksuele begeertes en fantasieë. Aanvanklik is dit dalk iets waaroor jy bloos, maar dis soos die eerste keer wat jy die woord “seks” voor jou maat gesê het – en hoe meer julle hieroor praat, hoe gemakliker gaan dit raak.
  6. Gesels oor hoe julle konflik oplos. As julle nie behoorlike konflikhantering toepas nie, kan dit allerhande onder­liggende verwyte veroorsaak. En as konflikhantering ‘n issue in jul huwelik is, gaan julle waarskynlik selfs hieroor baklei! Daar is wonderlike boeke oor konflikhantering. Volg ‘n huwelikskursus hieroor en lees artikels hieroor om te leer hoe om konflik op die régte manier in jul huwelik te bestuur.
  7. Kyk na drie dinge wanneer jy jou verhouding met jou maat evalueer: 1. Is jul verhouding doeltreffend? Of sit julle voortdurend vas oor misverstande, tydsbestuur en dies meer? 2. Is julle verhouding toekomsgerig? Praat julle oor drome en ideale, en werk julle na ‘n punt met jul finansies en dissiplinering van jul kinders. 3. Is jul verhouding lekker en opwindend? Onthou, geen verhouding moet áltyd soos ‘n taak voel nie (al verg dit harde werk). As julle nie pret in jul huwelik beleef nie, maak nóú ‘n plan deur lekker dinge saam te doen, in die slaapkamer te eksperimenteer, speletjies te speel en nuwe dinge saam te ontdek.
  8. Sien mekaar as ’n span wat saam hierdie probleem gaan teenwerk, eerder as om mekaar as die vyand te beskou.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: blogs.webmd.com, today.com, pshycologyto­day.com, savannahnow.com, betterhealth.vic.gov.au, sexualityandu.ca, ivillage.com.