Is jou verloofde die ridder op die wit perd? Moet jy dít wat jou pla oorsien en deurdruk met die troue . . . of moet jy die blink ring teruggee?

Promosie

“Hy moet langer as 1,8 meter wees en ’n vaste werk met ’n behoorlike inkomste hê – ek wil nie met ’n ploeteraar trou nie. Hy moet verkieslik donker hare hê en as hulle krul, sal dit ’n bonus wees. Hy mag nie té veel drink, rook of dobbel nie, maar hy moet kan party! O ja, en hy moet vir die Bulle skreeu,” gesels ’n vriendin onlangs by ’n braaivleis-kuier. Dis hier waar die soveelste getroude vrou in die geselskap haar oë rol en nog ’n paar sukkel om hul lag te hou . . .

Dis goed om te weet wat jy wil hê, maar té veel vroue soek na die verkeerde eienskappe in ’n trouman en kyk die noodsaaklikhede mis. Merk die volgende lysie af en kyk hoe jou verloofde vaar.

Só lyk troumateriaal:

Promosie

Hy kom kuier as hy sê hy sal. ’n Trouman is iemand wat sy bedoelings deurvoer. ’n Huwelik vereis dat jy by jou beloftes hou en om te trou met ’n man wat net soms betroubaar is, is ’n resep vir teleurstelling.

Hy het ambisie en dit het alles met jou te doen. As jy met ’n man trou, trou jy ook met sy werksetiek, sy tydsbestuur en sy ambisie. Is dit vir hom belangrik om ’n goeie werk te hê? Werk hy slim met sy geld? Is daar balans tussen sy werk en sy persoonlike lewe?

Hy neem verantwoordelikheid en plaas nie die skuld op jou nie. Ouens wat gedurig hul grootwordjare, hul baas, die omgewing of die regering blameer vir hul foute, is nie volwasse genoeg vir ’n huwelik wat probleemoplossing en compromise verg nie.

Hy weet wat hy wil hê en val nie onseker rond nie. Ruk hy die mat onder jou uit, net sodra jy dink jy weet waar julle in jul verhouding is? As jou verloofde heeltyd van plan verander rakende sy werk, waar hy wil woon en of jy die vrou is vir hom, is hy waarskynlik nie troumateriaal nie.

Hy kan stres hanteer in moeilike situasies. In die begin van ’n verhouding sit elkeen sy beste voetjie voor en steek tekortkominge weg. Dis maklik om kalm, geduldig en bedaard te wees wanneer alles goed gaan, maar wat gebeur wanneer julle in spitsverkeer sit?

Hy stel belang in jou wêreld, selfs al verstaan hy dit nie. Hoewel hy nie jou fassinasie met Grey’s verstaan nie, probeer hy die karakters se name leer ken en sit hy soms by jou om saam te kyk sonder om te sug.

Hy bederf jou en ken jou begeertes en drome. As jou maat ná jare saam nog nie weet wat jou lewensdrome is nie, al het jy dit verskeie kere met hom gedeel, moet jy jouself afvra of jou hart vir hom belangrik is en of hy regtig omgee?

Hy kan konflik hanteer (en as hy nie kan nie, is hy bereid om te leer). Wat gebeur tussen julle wanneer die water warm word? Gryp hy sy goed en spring in sy kar? Is jou gevoelens vir hom belangrik?

Hy deel jou karakter en jou waardes. Sielkundige en outeur Amy Wood vertel dat sy gereeld lewensmaats met gebroke harte sien wat sê hulle het dit nie sien kom nie! Ná die tyd sien hulle die leidrade raak wat nog altyd daar was. As sy morele kompas nie in lyn is met joune nie, moet jy die troue heroorweeg.

Hy het jou onvoorwaardelik lief. Ook sonder grimering, met jou hare vol frizz en met PMS in sy ergste graad. Troumateriaal kies nie die hasepad as jy in trane uitbars oor jou katjie wat reeds vier jaar gelede skielik dood is nie.

Hy is op dieselfde bladsy as jy wat ernstige kwessies aanbetref. Baie mense skei as gevolg van verskille oor ouerskap en finansies. Jul gedeelde belangstelling in fiksheid gaan die huwelik nie red as julle oor belangrike punte soos kinderopvoeding of geldsake verskil nie.

Jy ervaar dat hy jou respekteer. Daar is positiewe kritiek en dan is daar iemand wat wil hê jy moet op ’n sekere manier reageer, lyk of wees. Hoe laat hy jou voel? Jou trouman moet iemand wees wat jou sien as sy gelyke en jou sal hanteer soos sy maat, minnares en vriendin.

Hy hoef nie met spesiale handskoene hanteer te word nie. Sukkel hy om met mense oor die weg te kom? Broei hy wanneer hy kwaad is en voel jy soms jy moet op eiers loop om hom gelukkig te hou? Dit beteken moeilikheid, want daar gáán konflik, pyn en struikelblokke in die huwelik wees.

Hy is gereed vir die dinge van ’n grootmens. Soms ontmoet jy die regte man – op die verkeerde tyd. As jou verloofde steeds avonture wil beleef en ’n behoefte het aan ’n leefstyl wat nie versoenbaar is met die huwelik nie, laat hom toe om dit eers uit te stoei.

Hy is onafhanklik en besef die waarde van individuele groei. As jou verloofde daarop aandring dat julle alles saam doen en wil mal word as jy met ’n ou skoolvriend gesels, is daar moeilikheid. As hy nie onafhanklike groei wil toelaat nie, gaan jy onderdruk en geïsoleer in jou huwelik wees.

Hy is realisties en sien die huwelik vir wat dit is. Selfs die sterkste en gelukkigste pare verskil, irriteer mekaar en stel mekaar soms teleur. As jou maat van alles verwag om perfek te wees, sal hy nie die huwelik se foute, lesse en curve balls kan hanteer nie.

Hy bring die beste in jou uit. God wil ’n maat vir jou hê wat die beste in jou uitbring en jou help om jou lewensdoel te bereik. Iemand wat jou selfversekerd, kalm, energiek, positief en geliefd laat voel. Iemand wat jou vrymaak om jou beste self te wees!

As jou potensiële lewensmaat nie té goed gevaar het nie, dink hard en eerlik oor jul verhouding sonder om te glo jy gaan hom verander. Julle kan moontlik ’n gesprek hieroor hê en as sy foute jou bekommer, ’n afspraak maak vir voorhuwelikse berading. Elke huwelik verdien ’n regverdige kans, maar as jy oop-oë na jou verlowing kyk, kan jy jouself baie trane ná die wittebrood spaar . . .

 

Addisionele bronne: www.howtowinamansheart.com, www.familyshare.com, www.huffingtonpost.com.