My man is onlangs afgedank by die werk. Ek verdien ’n tweede salaris, maar hy was die hoof-broodwinner. Ek is baie dankbaar dat ons nog nie kinders het om voor te sorg nie en omdat geld nog nooit vir ons baie belangrik was nie, weet ek dat ons – deur die gordel bietjie in te trek – ook hierdie uitdaging in ons huwelik kan oorleef. Enige wenke vir hoe ons op ons uitgawes kan bespaar?

Promosie

Julle is bevoorreg dat julle só ’n positiewe uitkyk op hierdie uitdaging in jul huwelik het. Ja, ons het vir julle ’n paar wenke oor hoe om geld te bespaar:

  1. Skakel die televisie drie aande per week af. Afgesien van besparing op jul elektrisiteitsrekening, is daar soveel ander voordele hieraan. Julle het meer tyd om op mekaar te fokus en julle word minder blootgestel aan advertensies, wat tot verdere besteding kan lei!
  2. Oorweeg die 30-dae reël. As jy enige onnodige aankope wil maak, wag 30 dae lank en vra jouself dan of jy steeds daardie item wil hê. Dikwels kwyn daardie aanvanklike behoefte en só spaar jy vir jouself geld deur bloot te wag en nie te swig onder impulsiewe kopies nie.
  3. Sny op klaargaar kos. Vergeet van mikrogolf-etes en wegneemkos. Koop wat jy kan, in groot maat en wanneer dit op promosie is (soos ’n sak patats) en neem twee ure oor ’n naweek om dié kos voor te berei, in vriesbakkies te skep en te vries. Só spaar julle nie net geld nie, maar het ook ’n klompie handige etes in die vrieskas.
  4. Installeer LED-gloeilampe waar julle kan. Dit kos aanvanklik meer, maar het ’n veel langer leeftyd en gebruik heelwat minder elektrisiteit. LED-ligte gebruik 2% van die elektrisiteit wat ’n normale gloeilamp gebruik, maar omdat dit duur is om die hele huis se ligte hiermee te vervang, gebruik dit in die gang of kamers waar die ligte gereeld brand.