’n Lief-en-leef-plan vir elke huwelik

Promosie

Hooglied – die mooiste lied van almal. Dít is hoe die Bybelboek beskryf word. Maar hoe maak ’n mens dit van toepassing op ’n huwelik in vandag se tyd? Hier is ’n opwindende uitdaging: Leef die beginsels in Hooglied prakties uit in jul huwelik!

Lees elke dag van die week die teksgedeelte hardop saam en kyk met verwagting hoe die Skrif elke dag nuwe insigte in jul verstaan bring. Lees dit uit verskillende vertalings en gebruik die gebedswenke om saam daaroor te bid. Maak aantekeninge en merk belangrike gedeeltes soos wat julle aangaan.

Hooglied bestaan uit ses liedere wat ons oor agt weke gaan lees:
• Lied 1: 1:1-2:7.
• Lied 2: 2:8-3:5.
• Lied 3: 3:6-5:1.
• Lied 4: 5:2-6:3.
• Lied 5: 6:4-8:4.
• Lied 6: 8:5-14.

Promosie

Week 1: Tweegesprek tussen bruid en bruidegom

Delf dieper: Hooglied 1.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: In hierdie lied gaan dit oor wedersydse waardering, aanvaarding en komplimente vir mekaar. Die vrou voel nie aantreklik genoeg nie (Hooglied 1:6), maar die man het haar onvoorwaardelik lief, hy beskerm en sorg vir haar, en dít is wat sy nodig het om te hoor en te beleef sodat sy intiem met hom kan wees.

Bid vir: Doeltreffende en respekvolle kommunikasie in jul huwelik. Bid dat julle mekaar sal eer met die manier hoe julle mekaar aanspreek en ook met die manier hoe julle oor mekaar praat.

Week 2: ’n Verlangende roep na jou geliefde

Delf dieper: Hooglied 2.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: In hierdie lied lees ons onder andere dat die man sy vrou wegneem sodat hulle alleen kan wees om intiem te verkeer (Hooglied 2:8-13, vgl. 7:11-12 ook). Beplan gereeld ’n geleentheid waar julle twee alleen kan wees – weg van die werk, huis en kinders.

Bid vir: ’n Sterk band tussen julle en dat julle albei sal aanhou hunker na mekaar se liefde, ongeag hoe lank julle al getroud is.

Week 3: Van grootste vrees na grootste vreugde

Delf dieper: Hooglied 3.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: In Hooglied 3:1-5 kry die vrou ’n nagmerrie . . . sy is bang haar grootste vrees word waar: As die jakkalsies (Hooglied 2:15) nie gevang word nie, word die wingerd (hul huwelik) verwoes. Ten diepste is haar vrees dat daar ’n emosionele en seksuele afstand tussen hulle sal kom. Verwyder die klein “jakkalsies” in julle huwelik voordat dit die wingerd verwoes. Gewoonlik kan die “jakkalsies” toegeskryf word aan een of albei partye wat selfsugtig geword het.

Bid vir: Opregte vreugde in jul huwelik en dat julle mekaar doelbewus en doelgerig gelukkig sal maak. Bid dat julle jul blydskap oor mekaar sal verwoord en sal bewys in jul liefdesdade en optrede.

Week 4: Beeldskoon en bemind

Delf dieper: Hooglied 4.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Hierdie deel beskryf die egpaar se huweliksnag. Die bruidegom kry hier iets reg waarmee die meeste van ons mans sukkel: Hy deel sy gevoelens met sy bruid wanneer hulle intiem verkeer, en sy gee haar liggaam aan hom as ’n geskenk. Seks is in wese kommunikasie. Die beginsel hier is: Die vrou wil eers kommunikeer voordat sy gereed is om intiem te verkeer.

Bid vir: Positiewe en opbouende insette in mekaar se lewens. Bid dat julle mekaar sal ondersteun en mekaar sal koester. Bid dat die mooi dinge wat kenmerkend is van jul eerste tye saam, ook in jul huwelik sal bly en sal groei.

Week 5: Ontgin die mooi in jou maat

Delf dieper: Hooglied 5.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Hierdie lied beskryf ’n toneel wat baie egpare al beleef het. Die man wil by sy vrou slaap, maar om een of ander rede wil sy nie en wanneer sy besef hoe lief sy hom het, is hy reeds weg. Albei is selfsugtig – die man wil net hê en die vrou wil nie gee nie, en dit lei tot argumente. Albei se wange is drie bar opgeblaas, hulle draai hul rûe op mekaar en uiteindelik kom daar afstand. Pasop vir selfsugtige liefde.

Bid vir: Die vermoë en begeerte om altyd die mooiste en die edelste in jou maat na vore te bring. Bid dat julle mekaar sal aanspoor om die mooi in jul huwelik ook na ander paartjies toe te laat oorspoel.

Week 6: Onvoorwaardelike vergifnis

Delf dieper: Hooglied 6.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Daar is ’n bekende spreekwoord wat lui: “Moenie kwaad gaan slaap nie”, en dit is presies wat hier gebeur. Ná hul uitval staan sy uiteindelik uit die bed op, gaan soek hom en kry hom by sy skape. Die man se liefde vir sy vrou hou nie boek van die kwaad nie. Hulle vergewe mekaar onvoorwaardelik en die verhouding word herstel.

Bid vir: Realistiese verwagtinge in jul huwelik en dat julle nooit onredelik sal wees nie, maar mekaar se sterk punte sal vier en mekaar sal vergewe.

Week 7: Liefdesappels met ’n lieflike geur

Delf dieper: Hooglied 7.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Die vrou dans kaal voor haar man en hy is in verwondering oor wat hy sien. Die vrou praat die man se seksuele taal (hy hou daarvan om te sien) en die man praat die vrou s’n (sy hou daarvan om te hoor). Dit beteken nie dat julle druk op mekaar moet sit om dit elke keer presies só te doen nie, maar eerder om hierdie beginsels raak te sien en toe te pas in julle eie situasie.

Bid vir: Groeiende verwondering vir jou maat. Bid dat julle mekaar sal waardeer en genoeg tyd saam sal spandeer om jul huwelikskruik te vul met alles wat mooi en kosbaar is van jou maat.

Week 8: Daar is niks soos ware liefde

Delf dieper: Hooglied 8.

Ds Ettienne Engelbrecht sê: Die laaste lied beskryf die klimaks van Hooglied, en nee, dis nie ’n orgasme nie! Dis nóg beter: ’n Verhouding tussen man en vrou, ’n vriendskap waarbinne erotiese liefde nie die alfa en omega is nie. Hier is die uitdaging: Is jy lief vir jou huweliksmaat vir wie hy/sy is of vir wat hy/sy vir jou kan gee (seks, geld, sekuriteit ens.)?

Bid vir: Ware liefde wat sal staande bly ten spyte van wêreldse druk, uitdagings en slaggate. Bid dat julle mekaar se liefde as geskenk van God sal aanvaar en streef daarna om jul liefde ’n spieëlbeeld van God se liefde te maak.

Maak die liefkosings, komplimente en liefdesverklarings van Hooglied deel van jul lewens. Moenie wegskram daarvan nie, want opregte liefdesverklarings hoef hoegenaamd nie soetsappig te wees nie. Wees julself, maar wys jou waardering vir jou maat.

Ds Ettienne Engelbrecht is ’n leraar by die NG Kerk Drie Riviere-Oos.

Artikel deur Ernalize Groenewald