“Die woord is magtiger as die swaard en wie dit kragtig en met wysheid kan gebruik, is magtiger as konings” – het Jeremias Gotthelf gesê. Daarom kan woorde nie net skade veroorsaak nie… In jou huwelik kan dit rampe tot gevolg hê…

Promosie

Kyk elke dag CNN en die kanse is goed dat jy die skade van sowat 300 natuurrampe per jaar wêreldwyd sal aanskou. Die skade laat ‘n mens stom. Mense wat al hul besittings kwyt is en rou oor die ménse wat hulle verloor het… Brokstukke van talle lewens wat gesaai lê tussen afval en puin. Fyn porselein tussen droë seewier. Kinder-poppe wat uitsteek onder beton-blaaie. Dis tragies.

‘n Natuurramp se direkte verlies verwys na dit wat gekwantifiseer kan word – soos die mense wat oorlede is en die skade aan geboue, infrastruktuur en natuurlike hulpbronne. Daar is egter ook indirekte verliese soos die ‘n impak op die welstand van mense en onderbreking in die vloei van dienste en goedere, verduidelik die verslag Understanding Risk: Evolution of Disaster Risk Assessment en die UNISDR Global Assessment Report van 2015.

Wanneer jy kyk na die nagevolge van egskeiding lyk die prentjie min of meer dieselfde. Die ramp vind plaas en die partye skarrel om te oorleef. Eers ná die tyd sink die realiteit en die effek van die verwoesting in: Paartjies wat verslae by ‘n prokureurstafel sit. Dít wat hulle deur die jare met bloedsweet by mekaar gemaak het – daardie eerste bank wat hulle met ‘n lening gekoop het, die lig vir die slaapkamer wat hulle uitgesoek het om die koms van die eersteling te vier … nou net bates op papier. Kinders wat getraumatiseer agterbly en van wie die emosionele skade net rakelings begryp kan word…

Promosie

Ja, ‘n egskeiding is opsigself ‘n ramp. Maar daar is ook baie woord-rampe wat aanleiding gee tot ‘n eenheid wat stuk vir stuk vernietig word.

Daar word gepraat van natuurlike rampe en mensgemaakte rampe. Mensgemaakte rampe sluit oorlog in en in ‘n huwelik kan ‘n woord-oorlog onherstelbare skade aanbring. Die paartjie (soldate) is so blind van woede dat hulle nie eens raaksien hoe hul huwelik (land) en die mense naby aan hulle vernietig word nie. Wanneer woorde as wapens ingespan word om te beledig, seer te maak, te kasty, te straf en te martel, word die effek daarvan so kragtig dat dit in ‘n oogwink dít wat mooi is, kan uitwis.

Dan is daar die natuurlike rampe, wat aardbewings, ekstreme temperature, tsunami’s en siklone insluit. In ‘n huwelik is hierdie rampe egter ook mensgemaak …

Moenie dié rampe in jou huwelik toelaat nie:

1. NAAM VAN DIE RAMP: Woord-droogte

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: “So, ehh…” (stilte)

In die VSA is die mees vernietigende droogte op rekord die een wat in die 1930’s gedurende die ‘Dust Bowl’ jare plaasgevind het. In ‘n huwelik is ‘n Woord-droogte ‘n ramp wat huwelike sonder waarskuwing tref. Die een dag gesels jy en jou maat land en sand oor petrolpryse, vandalisme, Eskom, tuisonderrig en eiendom in Helderberg… en die volgende dag is jul woorde op. Klaar.

Dit gebeur wanneer jy nie kyk nie. En dit gebeur omdat ánder dinge of mense jul woorde verswelg, of omdat julle nie hard genoeg woeker met die woorde wat julle het nie.

Kom ons noem dit nie swak kommunikasievaardighede nie, maar eerder onvoldoende kommunikasie-beleggings!

Kan jy die ramp verhoed? As jy wil hê dat jy en jou maat moet aanhou práát, moet julle bewustelik leef, kwaliteittyd maak vir mekaar en aanhou om in mekaar belang te stel.

2. NAAM VAN DIE RAMP: Vokale sneeustorm

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: “Ek sien geen uitweg nie…”

Wanneer swaar sneeu val en sterk winde waai, kan dit ‘n land dramaties impakteer en tonne graan-oeste vernietig soos die Great Blizzard van 1888 in die VSA gemaak het. In 1993 het die Superstorm in die Golf van Meksiko ontstaan en Noord beweeg. Dit het skade aan sowat 26 state gerig en meer as 300 mense is dood.

‘n Vokale sneeustorm in ‘n huwelik het nie soseer met die sneeu of wind te doen nie, maar meer met die belemmerde sig wat deur die kombinasie van dié twee elemente veroorsaak word. Soms is die woorde in ‘n storm so oorweldigend en aanhoudend dat dit die twee partye se sig versper en daar nie helder geredeneer kan word nie. In so ‘n storm verdwaal ‘n paartjie en soms kry hulle nooit weer hul pad nie.

Kan jy die ramp verhoed? As julle konflikhanteringstegnieke veel te wense oorlaat en julle sukkel om mekaar te hoor bó argumente, of as julle só blindelings baklei dat julle nie die toekoms kan sien nie, moet julle die hulp van ‘n kenner inroep om julle by te staan. Moenie dié ramp op jul eie trotseer nie.

3. NAAM VAN DIE RAMP: Woordvulkane

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: “Ek kan dit nie meer vat nie!”

Vulkane is skrikwekkende natuurrampe. Dit is ‘n opening in die aardkors wat gesmelte klip, gas en oorskot toelaat om na die oppervlak te kom. Die lawa en oorskot kan teen 160 kilometer per uur beweeg en alles wat voorkom vernietig. Vulkaniese as kan ook honderde kilometers ver trek en ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak.

Woord-vulkane gebeur in huwelike waar konflik-vermyding hoogty vier. Want jy kan konflik net só lank onderdompel voor dit begin oorkook. Wanneer hy aanhou om jou te kritiseer, hou jy jou in en draai die ander wang. Wanneer sy aanhou om grappies ten koste van jou in die openbaar te maak, lag jy na buite toe terwyl jy binnetoe ineenkrimp. Emosies van seer en woede word ingehou, tot daar ‘n uitbarsting is en die lawa wat na buitentoe stroom se hitte geen einde ken nie. Dit is hierdie lawa wat brandwonde só ekstreem los dat dit nooit heeltemal genees nie en die ander effekte wat nie gesien kan word nie (soos die gas van ‘n vulkaan) bly draal…

Kan jy die ramp verhoed? Ja! Baklei! Kyk terug in die verlede om vas te stel hoekom jy nie jou gevoelens verwoord nie. Die rede hiervoor lê waarskynlik in jou kinderjare. Indien moontlik, gaan sien ‘n sielkundige om jou hiermee te help. As dit bloot ‘n wilsbesluit is, wend ‘n poging aan om jou mening te lug wanneer jy magteloos teen jou maat se woorde voel.

4. NAAM VAN DIE RAMP: Woordtornado’s

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: “Ek wens jy het my beter verstaan”

‘n Tornado is ‘n roterende lugkolom wat in kontak is met beide grond en ‘n wolk (in rare gevalle die basis van ‘n cumulus wolk). Die windstorm wat daarmee gepaard gaan, word ook soms ‘n warrelwind of ‘n sikloon genoem.

Die meeste ekstreme tornado’s beweeg teen sowat 480kilometer per uur, is meer as 3km in diameter en bly op die grond vir meer as 100km. Dié tornado’s word as T11’s geklassifiseer en veroorsaak verwoesting.

Net so keer woord-tornado’s alles onderstebo en saai dit chaos. Gewoonlik is dit daardie woorde wat verkeerd gespreek óf verkeerd geïnterpreteer word (of albei!). Hy sê iets onskuldig (op die verkeerde manier of tydstip), jy verstaan dit verkeerd en all hell breaks loose!

Alles is deurmekaar, julle huwelik is op sy kop en die ergste van alles is – more gebeur dit weer. Julle het nie die kuns van doeltreffende kommunikasie baas geraak nie en die misverstande is besig om jul huwelik op te slurp.

Kan jy die ramp verhoed? Ja. As julle sukkel met woord-tornado’s moet julle bloot werk aan die manier waarop boodskappe oorgedra word. Praat duidelik en wees bewus van die lyftaal wat jy gebruik. Wanneer jou maat iets sê wat jou bloeddruk opjaag of jou met ‘n ander ongemaklike emosie laat, herhaal sy woorde terug aan hom en begin jou sin deur byvoorbeeld te se: “Verstaan ek reg as ek sê jy dink…” So kan potensiële miverstande uit die weg geruim word.

5. NAAM VAN DIE RAMP: Woord-vloede

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: “Al wat ek soek is rus en vrede”

In 2005 is dosyne dorpies verswelg toe reën die riviere van noordwestelike Bangladesh oor hul walle gestoot het. ‘n Vloed is die oorvloei van water wat grond (gewoonlik droog) onder water plaas. Sommige vloede ontwikkel stadig en ander kan in slegs minute ontwikkel sonder enige tekens van reën.

Net so gevaarlik soos wat woord-droogte in ‘n huwelik kan wees, so gevaarlik kan woord-vloede wees. Want té veel woorde kan jou maat verswelg of laat voel hy/sy verdrink. Wanneer jy só aanhoudend praat dat jou maat voel hy/sy het nie ‘n stem nie, kan dit jou huwelik vernietig. En wanneer jy sóveel woorde, só aanhoudend gebruik om te kerm, te kla, te verwyt of te blameer… verloor jou woorde al hul trefkrag en hoor jou maat naderhand in elk geval nie meer wat jy sê nie.

Kan jy die ramp verhoed? Ja. Deur jou woorde te oorweeg. As jy die prater is en jy wil ‘n sekere saak met jou maat bespreek, kyk na jou tydsberekening. Waak ook daarteen om jouself te herhaal en te karring asof hy/sy ‘n kind is. Hoe minder woorde jy gebruik, hoe meer gaan hy/sy ore spits.

6. NAAM VAN DIE RAMP: Koue golf

Die woorde (of gedagtes) wat jy sal hoor: ‘n Ysige stilte.

‘n Koue golf is ‘n weer-fenomeen wat veroorsaak word deur lug wat dramaties binne 24 uur verkoel, tot só ‘n mate dat landbou, sekere industrieë en sosiale aktiwiteite verhoogde beskerming moet kry.

Wanneer ‘n koue golf ‘n huwelik tref, tref ‘n kilheid die verhouding wat enige warmte en woorde vries. Huweliksmaats straf mekaar as’t ware met stilstuipe en hoop om só die gewenste reaksie te ontvang. Die probleem is, wanneer daar nie woorde is nie, kan konflik nie opgelos word nie en dit mors kosbare tyd in ‘n huwelik. En hoe meer dít as ‘n taktiek in ‘n huwelik gebruik word, hoe laer daal die algemene temperatuur van daardie huwelik, tot daar naderhand meer koue dae as warm dae is. Ons is warmbloedige soogdiere met begeerte, behoeftes en emosies. Sonder warmte sal ons ‘n gewisse dood sterf – en ons huwelike ook.

Kan jy die ramp verhoed? Ja, maar julle sal hard moet werk. Stilstuipe is ‘n vorm van manipulasie, wat baie gevaarlik vir ‘n huwelik kan wees. As julle hierdie taktiek gebruik, gebruik julle waarskynlik ook ander ongesonde taktieke wat julle huwelik kan sink. Julle sal besliste reëls vir jul huwelik daar moet stel en een hiervan is: Geen stilstuipe nie. Herinner mekaar dat julle spanmaats, en nie opponent is nie.

Artikel deur Annelize Steyn

• Addisionele bron: Understanding Risk: Evolution of Disaster Risk Assessment (GFDRR, 2014) en die UNISDR Global Assessment Report 2015; prevensionweb.net; visihow.com; quora.com; wikipedia.org

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!