Om te begroot of nie te begroot nie…

In my 20 jaar ervaring in die finansiële bedryf het ek gesien dat ons kliënte wat ten volle bewus is van hul inkomste en uitgawes, die minste spanning ervaar en die meeste spaar geld het. In my opinie is dit dus baie belangrik om ’n maandelikse en selfs ‘n jaarlikse begroting by te hou.

Promosie

’n Begroting wat op datum is help jou om:

  • Jou oog op jou doelwitte te hou
  • Te verseker dat jy nie meer spandeer as wat jy verdien nie
  • Te begroot vir jou ou dag
  • Te beplan vir onvoorsiene uitgawes
  • Van jou inkomste uit te hou om ander te help
  • Te sien waar jy moontlik maandeliks geld vermors

Dit is belangrik om elke moontlike uitgawe in jou begroting in te reken. Ek ervaar soms dat wanneer ons kliënte se begrotings met hulle deurgaan, hulle uitgawes soos spandeer-geld, welsyn, kos of brandstof uit die begroting uitlaat, aangesien hulle voel dat dit betaal moet word uit dit wat oorbly nadat die res van die uitgawes betaal is. Die gevaar hier is dat ’n mens nie ’n werklike prentjie van jou uitgawes kry nie. Dit is ook een van die hoof redes hoekom mense kredietkaartskuld, kosrekeninge en selfs klererekeninge het.

Om ’n begroting op te stel hoef nie ingewikkeld te wees nie. Dit kan aanvanklik ’n bietjie tyd neem om al jou uitgawes bymekaar te sit, maar daarna word dit net makliker. Dit is goed om ’n begroting vir 12 maande vooruit te doen. ’n Netjiese begroting bemagtig jou en gee jou beheer oor jou finansies. Ek geniet dit om maandeliks ons besigheid se begroting – asook my persoonlike begroting – te balanseer.

Promosie

Daar is verskeidenheid begroting sagteware op die mark. Ons gebruik ’n eenvoudige verpersoonlikte begroting wat ons op MS Excel bymekaar gesit het. Die begroting laat ruimte vir enige verandering wat ’n mens moontlik wil aanbring en doen die berekeninge sorgvuldig. As jy eers begin met ’n begroting, sal jy definitief meer in beheer van jou finansies wees.

Hoe gaan ’n mens ’n begroting na? As ’n begroting van die begin af reg opgestel is, is dit maklik en vinnig om aan die einde van elke maand die syfers op te dateer. Gaan jou bankstate na op die dag wat jou aftrekorders afgaan en voer die presiese syfers in soos wat dit afgegaan het. Maak seker dat die netto salaris wat op jou salaris strokie aangedui word wel so in jou rekening inbetaal is. Nadat alle debiet orders en betalings gedoen is, moet die bedrag wat in jou bank rekening oor is, balanseer met die uitgawes soos brandstof, kos en ontspanning wat nog deur die maand betaal moet word. Ons is geneig om te dink dat ons dit sal spaar wat oorbly nadat alle uitgawes betaal is. Om te spaar moet egter deel wees van jou maandelikse begroting.

Hoe gemaak as jou begroting nie klop nie? Daar is ’n basiese beginsel wat sê dat as jou begroting nie klop nie, jy jou inkomste moet verhoog of jou uitgawes moet verminder. Dit is so eenvoudig soos dit. Ons is geneig om moeilik afstand te doen van lewenstyl uitgawes soos duur huise, karre, vakansies of lekker uiteet omdat ons voel dat dit hierdie uitgawes is wat vir ons status gee. Ek wil almal daar buite uitdaag om die harde besluit te neem om af te skaal op lewenstyl uitgawes as jou begroting nie klop nie. Dit mag wees dat jy dit net vir ’n kort rukkie moet doen totdat jou inkomste verhoog óf totdat jy van jou ander uitgawes kan verlaag.

Moenie koop wat jy nie kan bekostig nie. Ons almal is geneig om met die “Joneses” te wil kompeteer – daardie kollega by die werk of ’n familie lid of selfs ’n vriend wat ons graag wil beïndruk. Die soort kompetisie eindig nooit goed nie en iemand kry altyd finansieel seer. As jy tans jouself in hierdie tipe situasie bevind, stop net vir ’n minuut en dink aan hoekom jy die mense wil beïndruk.

As jy sukkel om jou maandelikse spandering op ontspanning onder beheer te kry kan die koevertjies stelsel jou maklik help. Die beginsel is eenvoudig: die geld wat jy maandeliks in jou begroting uitsit vir ontspanning kan in kontant getrek word en in die hoeveelheid weke van die spesifieke maand verdeel word. Die bedrae kan dan in koevertjies gesit word en van week 1 na week 4 genommer word. Sit die koevertjies in jou kluis by die huis en haal elke Maandag daardie week se koevertjies uit. Los jou bank kaarte by die huis en spandeer net dit wat in die koevertjies is. Op die manier is die versoeking nie daar om jou bankkaart te gebruik as die geld in jou koevertjies klaar is nie. Ons het kliënte waar man en vrou die koevertjies stelsel begin gebruik het nadat hul spandering uit beheer geraak het. Hul begroting klop nou weer en hulle huwelike blom.

Ek deel graag ’n paar “tips” vir ’n gesonde begroting:

  • Stel so gou as moontlik ’n begroting op en gaan dit maandeliks na.
  • Probeer om al jou aftrekorders op dieselfde dag te laat afgaan. Dit sal voorkom dat jy moontlik van ’n uitgawe vergeet.
  • Gebruik die korrekte bedrae in jou begroting. Moenie skat nie.
  • Gaan elke maand jou bankstate na en bevestig die uitgawes teenoor jou begroting. Jy sal verbaas wees om te sien dat daar soms uitgawes van jou bank rekening afgaan waarvoor jy nie toestemming gegee het nie.
  • Wees bewus van wanneer jou maandelikse debiet orders hul jaarlikse verhogings het en teken dit aan in jou begroting.
  • Beplan vir die onvoorsiene. Maak ’n geldmark rekening (noodfonds) by jou bank oop en plaas ’n bedrag maandeliks in die rekening vir onvoorsiene uitgawes.
  • Spaar maandeliks vir jou jaarlikse vakansies.
  • Jou voorsiening vir aftrede moet maandeliks deel wees van jou begroting en moet ten minste 15% van jou salaris wees bo en behalwe jou werk pensioenfonds.
  • Spaar vir aftrede het voorkeur bo lewenstyl uitgawes soos huise, karre en vakansies. Jy wil verseker dat jy die lewenstyl wat jy nou leef, kan onderhou wanneer jy aftree.
  • Jou voorsiening vir jou gesin in die vorm van lewensversekering, ongeskiktheidsdekking en gevreesde siekte dekking moet ten minste 10% van jou inkomste wees.
  • Korttermyn skuld soos kredietkaarte, bank lenings en klere rekeninge is jou vyand. As jy dit nie kontant kan koop nie, kan jy dit nie bekostig nie.
  • Wees bewus van waar in jou begroting jy maandeliks mors. ’n Gesin se uitgawe op motors mag nie meer wees as hul huispaaiement nie.
  • Die bedrag wat jy uithou om ander te help moet ’n vaste maandelikse uitgawe wees. Dit bring baie vreugde om ander te help.
  • Beplan vooruit vir eenmalige uitgawes waarvan jy bewus is vir die jaar wat kom. Dit sal jou help om op ander items te sny om daarvoor voorsiening te maak.
  • Kry ’n gesonde balans tussen nou leef (lewenstyl), skuld betaal en spaar vir aftrede.

Enige iemand se begroting kan klop as jy bereid is om daaraan te werk. Finansiële vryheid gaan nie oor hoeveel jy verdien nie maar eerder oor hoe jy spandeer wat jy verdien. Maak nou goeie finansiële besluite. Jou finansiële toekoms is in jou hande.

Kontak ons gerus as jy ons eenvoudige begroting wil gebruik of selfs advies wil hê oor hoe om jou begroting suksesvol te bestuur.

Artikel deur Martin Herbstwww.herbstbluestar.co.za

maruschka.uys@herbstbluestar.co.za

Tel. nr. 012 470 0050.