Met jul eerste wittebrood het julle mekaar dalk goed leer ken, maar met ’n tweede wittebrood kan julle dié sukses beloon deur die versterking van jul huweliksband. Daar is talle redes waarom dit ’n wonderlike idee is om in ’n tweede wittebrood te belê . . .
Daar is meestal redes waarom dit dikwels nié ’n prioriteit is nie, hoofsaaklik weens ons lewenstempo van vandag, tyd (dol skedules, werk en kinders) en finansies. Verskuif jou fokus oor die lang termyn na die nodigheid om ononderbroke gehaltetyd saam met jou eggenoot te spandeer. Tyd wat julle nader aan mekaar bring, laat herenig, nuwe woema in jul huwelik plaas en julle herinner aan die tyd toe julle ewige trou aan mekaar beloof het met sterre in jul oë. Laat jul liefdesvure weer hoog brand!
- Leer mekaar van voor af ken
Gebruik dié geleentheid om weer te onthou wat julle dalk al vergeet het. ’n Stil wegbreek iewers spesiaal is dalk net wat julle nodig het om (weer) nader aan mekaar te kom. Wat julle ook al doen, doen dit saam. Met só ’n wegkomkans is dit nie net ’n breuk in roetine, stilte, tyd vir jouself en vir mekaar nie, maar dis ook ’n tyd wat rustigheid bring. Wanneer julle kan gesels oor die lewe, jul drome en vrese, en nie net oor die kinders, werk en alledaagse lewe nie.
Dis ’n tyd om mekaar weer te leer ken en bande te versterk. Ons lewens is só gejaagd en deur ’n bietjie af te skakel, kry jy die kans om te gesels én te luister. Deur dinge van lank gelede en ook die hede te deel, is ’n gulde geleentheid om weer nader aan jou eggenoot te kom en mekaar te laat deel voel van jul lewens. As julle boonop ’n goeie verhouding het, versterk dit bande met ander mense.
- Raak weer verlief
Ons verleer só maklik om te kommunikeer en leef dikwels afgeslote van die persoon wat veronderstel is om die naaste aan ons te wees. Gebruik dié kans om werklik jou maat te hoor en uit te vind wat sy hart laat warm klop. Om ’n sterk band met jou maat te hê, is voordelig op talle lewensvlakke. Kommunikeer, herontdek en refresh wat julle na mekaar aangetrek het.
Dit is die ideale geleentheid vir ononderbroke gehaltetyd, ’n tyd om saam te ontspan, mekaar te herontdek en te waardeer. Veral as die paartjie reeds kinders het, is alleentyd so skaars soos hoendertande. Voeg boonop lang, stresvolle werksure daarby en noodgedwonge vlieg gehaltetyd by die venster uit.
Deur tyd te maak vir jou maat, verdiep jul vriendskap en bevorder dit intimiteit. Dit moedig kontak en kommunikasie (ook nie-verbaal) aan tussen man en vrou en bied bevrediging waar liggaam, siel en verstand mekaar ontmoet en aanvul. Gebruik die tyd om intiem te wees en mekaar se lywe van nuuts af te leer ken, en hoe jul liggame saam pas. Wat is lekkerder as om gelukkig, ontspanne en vervuld in mekaar se arms aan die slaap te raak? Intimiteit bring ’n dieper aspek na die verhouding.
- Herrangskik die boustene
Gebruik dié wegbreek ook om produktief te wees in ander aspekte van jul huwelik. Jou eggenoot moet weet dat hy die belangrikste mens in jou lewe is en daarom verdien hy tyd wat julle aan mekaar spandeer as ’n teken hiervan. Fokus op julself en wat julle benodig om ’n sterker band en huwelik te hê. Julle verdien die aandag sonder om ander mense, soos jul kinders, eerste te stel.
Herprioritiseer wat vir julle belangrik is, asook waaraan gewerk of verander moet word aan jul huwelik om dit sterker te maak. Onthou, julle is die eenheid en fondasie waarop die res van die gesin gebou word. Gelukkige ouers is gelyk aan gelukkige kinders.
Dit is noodsaaklik dat julle ’n sterk, onwrikbare eenheid het waar eerlikheid, respek en liefde hoogty vier om die tempo in die huis aan te gee. Deur jul liefde aan mekaar te bevestig en te bepaal wat julle van mekaar verwag, gee julle aan jul kinders ’n wonderlike voorbeeld van aandag, liefde, respek en spanwerk.
- Versamel herinneringe
Op dié wittebrood kan julle nuwe herinneringe skep – niemand se lewe is elke dag rooskleurig nie. Doen lekker dinge, wees uitbundig en prettig, probeer nuwe avonture en leer om te lag en die lewe saam te geniet. Wanneer jul huwelik uitdagings in die gesig staar, is dit makliker om aan dié vreugdevolle herinneringe vas te hou sodat julle sterker as vantevore deur die storm kom.
Moenie dat dié tweede wittebrood julle laaste wees nie. Maak dit ’n instelling om gereeld ’n naweek af te knyp om gehaltetyd saam met jou maat deur te bring. Sodoende behou julle deurentyd die opwinding en is dit ’n manier om die sukses van jul verhouding en wat julle bereik het, te vier.
Deur – YOLANDA WESSELS