As seks net lyfik was, was dit darem maar ’n baie saai storie. Met emosies en menslikheid ter sprake, raak die seksdaad veel interessanter. Al is julle hóé goed in die bed, kan geen paartjie ná ’n huwelik van 20 jaar terugkyk en sê dat seks altyd onoortrefik was met dieselfde motivering daaragter nie…
Onthou jy die keer toe jy met jou man ongevalle toe moes jaag omdat seks op die trappe toe nié so ’n goeie idee was nie? En daardie keer toe hy jou in die middel van ’n woedeuitbarsting summier nadergetrek en jou mond met syne stilgemaak het? Of die keer toe jy van die bed afgeval het en die keer toe jy gedoen het wat jy gedink het jy nooit sou doen nie…?
Daar is minstens tien soorte seks wat elke paartjie een keer in ‘n leeftyd móét beleef. In ’n Redbook-artikel skryf Amy Spencer dat elkeen van hierdie soorte seks noodsaaklik is om die band tussen jou en jou maat te versterk. “’n Waarlik fantastiese seksuele band sluit baie verskillende soorte seks in – miskien selfs dít wat jy nie eens sou verwag nie. Uiteindelik is jou verhouding nie eenvlakkig nie, so hoekom moet jou sekslewe só wees?” Laura Meers, ’n gesinsterapeut, voeg by: “Namate jy ouer word, groei jy ook seksueel, en hoe meer dimensies daar in jou verhouding is, hoe meer sal jy hierdie dimensies in jou sekslewe raaksien.” Maak seker dat jy met elkeen van dié soorte seks kan identifiseer:
- Net-nie-dít-nie-seks!
Miskien kan jy jouself glad nie in ’n “nursie-outfit” voorstel nie, maar jou man kan. En hy wens jy wil ’n bietjie ontspan as dit by rolspel in die slaapkamer kom. Waarskynlik is “avontuurlik” en “opwindend” nou nie juis ’n deel van die woordeskat waarmee jy jou slaapkamerlewe sou beskryf nie. Verveling is een van die redes waarom mense die pad van getrouheid byster raak (nie dat dit enigsins ’n verskoning is nie! Inteendeel, jy kan verveling hokslaan lánk voordat dit ’n negatiewe impak op jou huwelik hoef te hê). Klouter so ’n bietjie uit die boks. As julle gedurig in die slaapkamer bly, wat van ’n vrysessie in die agterplaas? Of in die studeerkamer of in die tuinhuisie?
As jy effens benoud voel oor eksperimente, soveel beter, verduidelik Laura. Die effense angs wat jy voel deur iets nuuts te probeer, is soortgelyk aan wat gebeur wanneer jy saam met ’n nuwe persoon is. So, as jy daardie gevoel binne die perke van ’n intieme, nabye verhouding skep, sal dit jou reeds bestaande verhouding ’n energie-inspuiting gee. Deur jul grense effens te verskuif, bou julle ook aan die vertrouensband tussen julle. Dit verg waagmoed om te sê wat jy wil hê en as julle boonop tot aksie oorgaan, neem julle ’n risiko. Dit is ’n aktiwiteit wat julle nader aan mekaar kan laat beweeg. Maak net seker dit is nie iets wat heeltemal teen jou morele waardes indruis nie, anders kan dit meer skade as goed doen.
- Seks-sonder-rede
As jy wag vir klokke en weerligblitse, vir sagte lig en hartstogtelike passie, gaan julle waarskynlik eendag besef dat julle jul sekssessies op die een hand kan tel! Seks mág maar gewoon wees. Julle kán dit maar sommer net doen, sonder dat julle ’n brandende begeerte daarvoor het. Om die waarheid te sê, julle móét. “Hoe is dit dat die kosbaarste deel van ons lewens voorkom asof dit teen die agtergrond van ons daaglikse roetine inskakeer, amper asof dit nie eens bestaan nie?” vra Debra en Don MacLeod in hul boek Lube Jobs: A Woman’s guide to Great Maintenance Sex. “Dit is belangrik vir ’n paartjie om hul eie, spesiale, intieme roetine by hul groter, daaglikse roetine te inkorporeer.” Daarom is maintenance seks so verskriklik belangrik. Dit is wanneer jy dit net dóén, selfs al is jy nie heeltemal reg daarvoor nie. Seks-sonder-rede is noodsaaklik vir langtermynverhoudings, omdat dit nie saak maak hóé lief jy almal om jou het nie (jou familie, kinders en vriende), jy gaan nie tyd soos dié saam met enigiemand anders deurbring nie. “Seks is die een aktiwiteit wat ’n paartjie het, wat ander mense uitsluit,” sê Anita Clayton, outeur van die boek Satisfaction.
Olivia (33), ’n tuisteskepper en ma, maak staat op seks-sonder-rede om haar verhouding energiek te hou. “My man wil dit altyd doen, maar as ’n nuwe ma, is ek heeldag moeg,” verduidelik sy. “As ek egter die moeite doen, voel ek daarna altyd nader aan hom. Selfs al is die seks gemiddeld, voel dit asof ons nader aan mekaar beweeg en niks in die pad van ons verhouding kan staan nie.” En natuurlik is gereelde seks goed vir jou – dit verlig spanning, verbrand kilojoules en verbeter jou bui. En onthou: hoe meer seks jy het, hoe meer wil jy hê!
- Aarde-sluk-my-in-seks
Dit moet die een of ander tyd gebeur. In die hitte van die oomblik klap julle sweterige velle teen mekaar en ’n onaardse geluid ontsnap! Of jou skoonma kom ingestap terwyl julle seks op die kombuisblad het. Of jy maak die deur in jou ietsie-bietsie nagstukkie oop, net om te ontdek manlief het sy baas huis toe gebring. Onthou dat seks menslik is en menslikheid gaan noodwendig met embarrassing moments gepaard. En regte seks is veel eerder ’n Discovery Channel tipe daad as wat dit op die silwerdoek tuishoort. Dit is vol reuke en klanke wat natuurlik is, verduidelik Debra Herbenick, ’n navorser aan die Kinsey Instituut. “Julle het seks met menslike liggame en soms doen hulle snaakse goed, dit is okei.” ’n Oomblik van verleentheid kan julle baie nader aan mekaar bring. Dit hang net af van hoe julle die situasie hanteer. “Ware intimiteit gaan daaroor om gemaklik en eg met mekaar te voel in moeilike, vernederende situasies,” sê Ruth Morehouse, ’n kliniese sielkundige en verhoudingsterapeut. Tommy Jordan skryf op askmen.com dat dit wel moontlik is om ná ’n vernederende oomblik te herstel, soos wanneer jy van die bed af geval het, of julle koppe in die donker teen mekaar gestamp het sodat een van julle met ‘n bloeiende lip sit. “Die beste ding om te doen is om dit af te lag.” Onthou, seks kan lomp wees. “Soen net die boe-boe, laat hom beter voel en gaan aan,” is die raad van Yvonne K. Fulbright, FOXNews se sekskenner.
- In-ons-eie-wêreld-met-vakansie-seks
As mans net weet watter positiewe effek die trope op ’n vrou se libido kan hê, sal soveel meer van hulle hul vrouens op eilandvakansies neem! Vakansieseks is ’n móét vir enige paartjie. Ons praat nou nie van die Aventura-tipe vakansie met ’n kroos kindertjies wat al skreeuend met draairoomyse om die swembad hol nie, maar van ’n egte, romantiese, net-die-twee-van-ons-vakansies. As jy bang is jy bekommer jou te veel oor die baba, pak ’n au pair in jou tas. Vakansies is veronderstel om sorgeloos te wees en vakansieseks laat mense snaakse dinge doen. Soos om buite op ’n duin seks te hê in die wete dat enigiemand daar kan verbyloop. Of stoute geflirt in ’n restaurant. Hoe bisar dit ook al klink, jou omgewing kan ’n radikale verskil aan jou sekslewe maak. So, as jy lanklaas vakansieseks gehad het, bespreek nóú daardie vliegkaartjie. As jul tyd dit egter nie toelaat nie, bespreek ’n hotelkamer weg van jou huis se gejaag, en noem dít ’n vakansie. Bestel skemerkelkies met sambreeltjies en neem jou sonhoed saam. “Vakansieseks is geneig om ’n mens se bui te verbeter, omdat jy die onmiddellike eise van jou huis en kantoor kan agterlaat,” verduidelik Sharon Begley op newsweek.com. Volgens haar wei vroue uit oor die kwaliteit van vakansieseks, terwyl die mans van oor tot oor glimlag oor die kwantiteit daarvan!
- Neem-jou-tyd-seks en gou-verby-seks
Gewoonlik is vakansies die enigste tyd wanneer ’n mens werklik hierby uitkom. Dit is daardie sekssessies wat sommer ure duur. Voorspel word uitgerek, daarna gaan haal jy roomys uit die yskas, wat julle begin eet en wat later op jul lywe eindig. Julle vry so ’n bietjie, kyk televisie en dan loop die erotiese toneel weer op ’n bietjie bedpret uit. As die kinders nie by maats kuier nie, is neem-jou-tyd-seks so uit soos koekies in die weeshuis, maar die geskenk van tydsame seks is iets wat elke paartjie hulself van tyd tot tyd moet gun. Sensuele seks gaan oor die reis, eerder as oor die bestemming, en ’n orgasme is nie alles nie. Dit is baie goeie gom vir enige verhouding. “Die wete dat hy genoeg omgee om sy liefde vir ure op jou uit te giet en dat jy sy nommer een prioriteit is, bou vertroue en sekuriteit,” meen Deb Levine, outeur van The Joy of Cybersex. “Julle band sal in die algemeen meer intiem voel, omdat jy die slaapkamer ’n plek gemaak het waar julle mekaar kan geniet en dit nie net tot sensuele sensasies beperk nie.”
- Trae-tot-vas-aan-die-slaap-seks
Elke seksuele ervaring hoef nie noodwendig in ’n orgasme te eindig nie. Soms begin seks goed en jy wil graag voortgaan, maar ai, slaap klink só goed… en dit is waar alles uitrafel, meen Amy. Kenners meen selfs hierdie soort seks is goed vir die band tussen julle. “Selfs om te erken dat jy jou maat wil hê, is belangrik, of jy dit nou deurvoer of nie,” meen Laura. As jy voel die slaap oorrompel jou, stel sy voor dat jy vir jou maat moet sê hoe lief jy hom het en hoe graag jy hom wil hê. Dit tel reeds baie. Om net styf teen mekaar te lê en slaap, kan soms oorgenoeg wees.
- Opmaakseks
Miskien werk dit vir jou en miskien nie. Mienkie, (39) vertel: “Ek en my man kan verskriklik baklei! Ek raak so kwaad dat ek glase rondgooi en ek wens ek kon my humeur beter beteuel, maar in die slaapkamer kom dit handig te pas, want ná so ’n hittige argument kan ons ewe passievol opmaak.” Almal het dit al gehoor: “Moenie kwaad gaan slaap nie.” Voer dit tot die uiterste en gaan slaap baie gelukkig! Opmaakseks werk soos ’n bom, omdat jy ná ’n rusie rou, blootgestel en weerloos voel. Dit skep die ideale broeigrond vir intense, siel-tot-siel fisieke binding. “In baie opsigte herstel make-up-seks ’n vlak van nabyheid wat deur die argument gebreek is,” vertel Anita. “Seks kan daardie fraktuur herstel.” Onthou egter dat as julle rusies begin net om ná die tyd op te maak of jul probleme ignoreer en summier in die bed spring, is dit tyd om na jul verhouding te kyk. “Daar is ’n baie fyn lyn tussen woede en seksuele opwinding,” skryf David Strovny op askmen.com. “Vir sommige mense moet ingehoue aggressie, net soos seksuele frustrasie, elke nou en dan vrygestel word.” Terwyl party mense glo dat opmaakseks gesond kan wees, glo ander dat dit disfunksionele gedrag is. Onthou, as jy seks as ’n oplossing vir rusies gebruik, is dit soos om ’n pleister op ’n koeëlwond te plak – dit gaan nie regtig die verhouding laat vorder of genees nie, verduidelik David. Maak dus seker dit gebeur nie elke keer wanneer julle ’n rusie het nie, maar daar is min dinge so lekker soos ’n bietjie opmaakseks.
- Toemaar-dis-okay-seks
Wanneer jy regtig hartseer, depressief, alleen of seergemaak voel, kan seks die perfekte teenvoeter wees, aangesien dit direk teenoorgesteld aan al daardie dinge is. Dit gaan daaroor om warm, naby, liefdevol en saam te wees. Soms wil jy nie oor jou probleme of hartseer praat nie, maar seks kan jou beter laat voel. “My man se ma het Parkinson’s en ’n beroerte gehad, my pa het ernstige hartchirurgie gehad en my ma, Alzheimer se siekte, so ek en my man het baie tyd in die bed deurgebring en mekaar getroos,” vertel Beth (57). “Soms is dit volledige penetrasie, soms net koestering of stimulering met die hand, maar vir ons is dit belangrik. Dit herinner jou waarom jy leef. As jy op die slegte dinge fokus, is dit nie die moeite werd nie. Jy moet fokus op dit wat jou elke oggend laat wakker word, wat jou deur elke dag laat kom. En deel daarvan, vir ons, is die seks.” Ruth meen dat troosseks nie net algemeen is nie, maar ook baie belangrik as ’n bevestiging van die lewe in die aansig van rou. “Seks is ’n manier om die feit dat jy lewe, te verklaar,” sê Ruth. “Dit is ’n manier om jouself teen die onvermydelikheid van dood of verlies te verdedig. Dit kan mense ook help om nader aan mekaar te voel in ’n tyd waar hulle voel asof die seer hulle van mekaar verwyder. “Ek het al gesien hoe paartjies uitmekaar gaan omdat iets slegs gebeur, maar seks kan help om die intieme verhouding te herstel. In plaas daarvan om toe te laat dat die rou julle uitmekaar skeur, kan julle dit gebruik om nader aan mekaar te beweeg,” verduidelik Anita.
- Vinnig-verby-seks
So belangrik soos wat stadige seks is, kan ’n mens ook nie die opwinding van die immer gewilde quickie agterweë laat nie. Dit kan met ’n aardskudding vergelyk word. Dit jaag jou adrenalien op en is baie gou verby. Dit laat jou lam in die knieë. Net soos wat daar ’n plek vir tydsame seks is, is daar ook ’n plek vir haastige seks. As julle dit wil aanpak, onthou die smeermiddel. Dit is absoluut jou beste vriend as jy nie tyd het om op jou eie opgewarm te raak nie.
- Hang-aan-die-kandelare-seks
In ’n ideale wêreld kry jy dit elke dag. Daardie sweterige té-goed-om-waar te-wees-seks, waarvoor jy 11 uit 10 sal gee. Dit maak nie saak hoe lank julle al by mekaar is nie, julle moet aardskuddende seks soos dié elke nou en dan hê. Paartjies wat lank getroud is, kan ekstra warm seks as terugflitse ervaar. Dit kan daardie vroeë gevoelens wat julle vir mekaar gehad het, stimuleer en julle herinner waartoe julle as ’n paartjie in staat is. Maureen (40) onthou só ’n sessie. “Ek het net klaar aandete gekook en die kinders was nie by die huis nie. Toe my man inkom, het hy gesê hy gaan boontoe om aan te trek, maar soos hy my gesoen het, het dit van net oor die dag gesels, tot seks op die kombuisblad ontwikkel! Dit was heeltemal spontaan en onverwags!” Ruth verduidelik dat dié soort seks belangrik op ’n dieper vlak is. Dit verg baie van jou om jou maat toe te laat om jou in volle oorgawe te sien. Wanneer jy jouself só blootstel, kom vrae soos “Wat as my gesig pers raak of my oë omdop?” ter sprake. Natuurlik het dit ’n hoë vlak van intimiteit tot gevolg. Hierdie is die soort rou seks wat die bure wakker maak en die bed breek!
Miskien het julle al sommige van die bogenoemde ervaar en miskien lê ’n leeftyd se sekservaringe nog voor jou. Hoe dit ook al sy, onthou egter dat wat julle ook al doen, julle dit moet geniet. As iets geforseerd voel, skuif dit opsy en moet nooit die waarde van humor in die slaapkamer onderskat nie!