Elke gelukkige paartjie baklei. Dis onvermydelik en baie nodig! Daar is egter ’n verskil tussen dié paartjies wat ’n hewige rusie oorleef en dié wie se huwelike vou na een groot argument.
Deur Annelize Steyn
Elkeen van ons stap ’n pad met reëls. As ’n laaitie kan jy nie verstaan wie ooit die simpel reël uitgedink het dat jy eers jou broccoli moet eet voor jy jou Smarties kan kry nie. Dan word jy ouer en besluit dat reëls daar is om gebreek te word. Wanneer die onderhoof jou agter die toilette met jou pa se pakkie Stuyvesants vang, is die detensie die thrill werd.
Maar wanneer ’n mens grootword, skel jy op die skeidsregter wat ’n blinde oog gooi wanneer die opponerende span ’n reël oortree en jy besef: Geen samelewing of span kan funksioneer sonder ’n stel soliede reëls nie. Reëls is daar vir veiligheid, struktuur en voorspelbaarheid.
Net so werk dit in ’n huwelik! En wanneer dit kom by oorlog, gaan die reëls bepaal of julle met ’n paar skrape of met ernstige letsels anderkant uitstap . . . Hier is die reëls vir ’n fair fight met jou vrou:
- Onderhandeling en compromise is noodsaaklik. Dit gaan nie oor wie die fight wen nie – julle as ’n paartjie moet wen! Want as een “wen”, is daar negatiewe gevoelens wat aan die ander kant broei en net opbou tot ’n volgende rusie.
- Albei moet instem. Moenie aandring op ’n rusie as jou vrou moeg is, gespanne is of nie kans sien daarvoor nie. As dit die geval is, stel die rusie uit. Besluit byvoorbeeld: “Kom ons gesels môre ná werk hieroor”, om seker te maak dit word nie afgestel nie.
- Bly by die onderwerp en die hede. Dit is maklik om af te wyk, beskuldigings heen en weer te gooi en ou koeie uit die sloot te grawe. As daar ’n hele paar dinge is wat pla, plaas net een op ’n slag op die tafel. Beweeg verby beledigings en woede-uitbarstings.
- Moenie beheer verloor nie. As jy voel hoe jou selfbeheersing breekpunt bereik, neem ’n stap terug en haal asem. Stap uit die vertrek vóór jy dinge sê waaroor jy later spyt gaan wees. Koel af voor julle die rusie hervat. Daar is waarde in time-out.
- Neem beurte om te praat. Net een persoon op ’n slag kan praat terwyl die ander persoon luister. Dit beteken dat jy waarlik moet luister na wat sy sê en nie jou volgende aanval beplan terwyl sy praat nie. Moet ook nie jou maat in die rede val nie.
- Tel jou woorde. Moenie jou vrou se swakhede uitlig om haar seer te maak nie. Moet haar ook nie etiketteer deur te sê sy is oorsensitief, buierig, depressief, vervelig en so meer nie. Moet ook nie vloek of haar doelbewus probeer seermaak met jou woorde nie, en moet nooit dreig met egskeiding nie.
- Aggressie is taboe. Om te gil, vererger dinge! En ons het nie eers nodig om vir jou te vertel hoeveel skade fisieke aggressie aan ’n huwelik doen nie – jy weet dit. Ons leer baie van ons tegnieke by ons ouers en hoe hulle rusies hanteer het. Dis nie noodwendig reg nie! Vermy enige aggressie (dit sluit ’n aanvallende houding en die gooi of breek van voorwerpe in).
- Kies jou tyd en plek. Dit is slegte maniere om in ’n geselskap te baklei. Probeer dit ook vermy om voor die kinders te baklei, veral as woede julle gedrag bepaal. As dit wel gebeur, maak seker julle hou by die reëls en maak ook seker dat julle die konflik dan voor hulle oplos sodat hulle kan sien hoe julle konstruktief argumenteer, tot ’n vergelyk kom en vrede maak (slegs as mense erg van mening verskil, maar uiteindelik die geslypte byle eenkant laat lê).
- Baklei oplossing-gedrewe. Die doel van ’n argument is nie om die ander persoon te laat verstaan hoe verkeerd hy/sy is nie, maar om by ’n oplossing uit te kom waarby julle as ’n paartjie kan baat vind sodat julle albei wen.
- Beweeg vorentoe. Watter nut hou dit in om wrokke te koester, stilstuipe te kry en jou maat dae aaneen te “straf” vir julle bakleiery? Gaan draf, ry fiets, kry ’n vriend vir ’n bier en ry dan huis toe met ’n bos blomme.
Addisionele bronne: crosswalk.com, foryourmarriage.org.