Die wêreld gee soveel riglyne vir ’n huwelik wat hou, maar sommige hiervan is twyfelagtig vir ’n paartjie wat daarin glo om dit op die Christelike manier te doen. Hier is beginsels wat veilig is vir Christen-paartjies om as boustene te gebruik.

Deur Annelize Steyn

  1. Gaan slaap in vrede. Ja, soms is jy blind van woede en lyk ’n hoofpynpil en vroeg inkruip na die veiliger opsie (ten minste vir manlief). Sommige kenners meen dis beter om sekere rusies in die oggend te hervat omdat ’n mens varser is en dan weer hernude krag het, maar as dit moontlik is, probeer om ’n rusie nie uit te rek nie. Efesiërs 4:26 sê dat jy nie ’n dag kwaad moet afsluit nie.
  2. Lees saam uit die Woord. Die meeste ouers van tieners sal bieg dat in die dolle tyd waarin ons leef, daaglikse Bybelstudie ’n groter uitdaging is as om tieners te leer om kougom toemond te kou! As julle meer as een kleuter in die huis het, lees julle waarskynlik vir elkeen onderskeidelik saans die Kinderbybel. En as jy jou besige tiener so af en toe gewaar, is jy gelukkig. As dit een van hierdie moeilike fases in jou lewe is, maak dan minstens net tyd vir jou en jou man om een keer per week saam Bybel te lees. Neem ook net een Bybel kerk toe en lees saam. Deur te lees en dit te bespreek, kan julle help om in voeling te bly met mekaar se geloofsgroei.
  3. Eet saam aan tafel. As ‘n mens punt nommer 2 in aanmerking neem, is ook dít ’n uitdaging, maar probeer streef daarna om rondom ’n tafel te sit en eet wanneer julle wel almal by die huis is – trek sommer die DSTV se prop uit! Die verwarring sal net duur totdat die lasagne daardie hongerige magies tref en hulle agterkom dat dit eintlik lekker is om so nou en dan met hul ouers te gesels. Dit skep ook die geleentheid om oor dieper dinge te praat en in voeling te bly met jul kinders en met mekaar.
  4. Hou jul huweliksake júlle s’n. Moenie jul huweliksprobleme met ander deel nie (behalwe met jul terapeut). Baie vroue dink dit is okay om ligtelik te “skinder” oor hul huwelike – hetsy by die haarsalon of by ’n lunch saam met die girls. Jy is dalk smoorkwaad vir jou maat en pak met mening af! Maar om sesuur vanaand, wanneer jy en manlief lankal oor die telefoon vrede gemaak het, deel jou vriendinne die storie met hul mans. Jy vergeet, maar hulle onthou en die negatiwiteit gedy . . .
  5. Bid saam met jou maat. Vir sommige mense kom dit makliker as vir ander. As jou maat nie daarvan hou om voor jou te bid nie, bied aan om die praatwerk te doen. Afgesien van die voor-die-hand-liggende rede om as ’n paartjie openlik voor mekaar vír mekaar by God in te tree, versterk dit ook die intimiteit tussen ’n man en vrou wonderbaarlik.
  6. Kies julle vriende met oorleg. Maak seker dat julle vriende maak met paartjies wat ’n goeie invloed op jul huwelik en geloof kan hê. Negatiwiteit van ander paartjies wat nie dieselfde oor geloof of oor die huwelik voel as julle nie, kan ’n groot nadelige uitwerking op jul eie huwelik hê. Ja, julle kan húlle dalk positief beïnvloed, maar as dit jul plan is, maak seker jul eie huwelik is sterk genoeg om die negatiwiteit te absorbeer of af te weer.
  7. Hou egskeiding buite jul beplanning. Egskeiding is nie ’n opsie nie (onthou egter daar is wel uitsonderings waarin egskeiding wel die enigste uitweg is – dit is nie God se wil dat jy deur jou maat vernietig word nie). As julle byvoorbeeld deur diep waters gaan en finansiële moeilikheid of ontrou moet deurwerk, onthou dat julle ’n belofte voor God gemaak het en dat dit julle taak is om alles in julle vermoë te probeer om hierdie probleem te oorkom. Markus 10:9 sê immers: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.” As die probleem te groot is vir julle om te dra, gaan sien ’n terapeut om julle by te staan hiermee.
  8. Maak daagliks kontak. Dit is baie maklik vir twee mense om uit mekaar te dryf as gevolg van ’n besige skedule. Sorg dat daar altyd raakpunte is deur gereeld uit te gaan, weg te breek vir ’n naweek , belangrike besluite te bespreek en te neem. Maak ook tyd vir seks, selfs al is jou dagboek só vol geskryf dat dit lyk soos iets wat deur die Egiptenare ontsyfer moet word. Moenie die spasie tussen julle toelaat om te groei nie.
  9. Mentor ’n jonger paartjie. Ja, julle dink waarskynlik: “Gits, nee. Ons is nie rolmodelle nie, ons maak self te veel foute om ’n ander paartjie te mentor.” Raai wat? As dit is wat julle dink, is julle die perfekte mentors! Want hoe kan ’n paartjie aan ander raad gee as hulle self nog nie deur ’n probleem geworstel het nie? 1 Petrus 4:8 sê dat die liefde baie sondes bedek. Geen paartjie is perfek nie. As julle in ’n formele mentorskap-verhouding met ’n ander paartjie tree (waarbinne julle inligting diskreet en veilig met mekaar deel), kan julle huwelik ewe veel hierby baat vind!
  10. Bespreek jul rolverdeling en verwagtinge met mekaar. Sommige paartjies gly moeiteloos in hul onderskeie rolle in, maar die meeste mense ervaar tot ’n sekere mate uitdagings in dié verband. Dit is ook waar onrealistiese verwagtinge intree. Jy verwag sekere dinge van jou maat, maar hy besef dit nie en kan dus nie aan jou verwagtinge voldoen nie. Jy word kwaad omdat jou maat dit nie doen nie en hy is salig onbewus van jou stryd! Onthou ook dat die sleutel tot jou geluk nie in jou maat se hande lê nie en dat niks wat hy doen of nié doen nie jou geluk mag bepaal nie. Daardie geluk lê net in jouself en nie in jou omstandighede nie.

Daar is nog talle beginsels waarby ’n Christen-paartjie kan baat vind, maar as julle dié boustene gebruik, ’n oop en eerlike lewe leef, mekaar vergewe en jul harte teen versoekings bewaar, is dit heelwat makliker om ’n sterk huwelik op die regte fondasie te bou.