Die hofdatum was vasgestel en Antionette was nog nooit so seker van haar saak nie. Maar, vertel sy, God het ter elfder ure ingegryp en ’n paar dae voor die egskeiding hul huwelik handomkeer verander.

Op die oog af lyk Antionette (31) en Martin (38) James soos ’n pasgetroude, verliefde paartjie wat hul troudag met oorgawe geniet. Kyk jy egter ’n bietjie dieper, kom jy vinnig agter dat hierdie bruilof uit veel meer fasette as die tipiese troue bestaan.

Die uurglas begin uitloop

Dit was liefde met die eerste oogopslag toe Martin die eerste keer vir Antionette, tóé in matriek, raakgesien het. Hy was haar eerste groot liefde. Hulle is drie jaar later getroud en het saam hul woning in Oranjemund, Namibië, gemaak.

’n Dogtertjie, Annika (nou tien), is kort daarna gebore. Maar, vertel Antionette, die huwelik was beslis nie maanskyn en rose nie. “Nadat ons omtrent drie jaar getroud was, het ons begin agterkom dinge tussen ons gaan nie goed nie. Die woord ‘skei’ het toe reeds ’n paar keer in ons gesprekke voorgekom.”

Antionette vertel hoe haar en Martin se opvoeding as kinders merkwaardig verskil het, en dat dit hulle onderskeie perspektiewe oor ’n verhouding beïnvloed het. Sy kom uit ’n baie streng pastoriehuis, terwyl Martin weer in ’n baie liberale huis grootgeword het. Boonop het hy ook gereeld té veel en té hard gekuier, bieg sy.

“Ek het stadig maar seker in my eie dop begin wegkruip en alles begin opkrop wat só seer gemaak het. Ek het verder en verder van God af beweeg.” Om die pyn te verdoof, het Antionette begin om alkohol as kruk te gebruik.

Intussen het hulle nog ’n dogtertjie ryker geword, maar die huwelik het begin verkrummel. “As gevolg van die komplikasies met die swangerskap het ek ook my werk verloor. Dit het nóg meer stremming op ons huwelik geplaas en veroorsaak dat Martin selfs meer begin drink het. Ons het al hoe verder en verder uitmekaar beweeg.”

Die groot woorde: “Ek wil skei”

Een aand, ná ’n groot drinkpartytjie, het Martin besope aan die slaap geraak. “Soos baie aande vantevore,” dink Antionette hardop.

“Daardie aand het ek betrokke geraak by ’n ander getroude man wat dieselfde tipe probleme as ek in sy huwelik ervaar het.” Kort daarna het sy met die egbreuk op die lappe gekom en vir Martin gesê sy wil skei.

Hy het geskrik en voorgestel dat hulle ’n berader gaan sien, maar Antionette het geweier. “Met die jare wat verbygegaan het, het ek só hard geraak. My keuse was finaal en ek het nie meer my gevoelens weggesteek of ’n geheim daarvan gemaak nie.” Sy het die volgende dag ’n prokureur gekontak.

Dit word erger . . . voordat dit beter word

Sonder dat Antionette dit geweet het, het Martin ’n berader begin sien en ’n geestelike pad met God begin stap. “Nooit het ek werklik besef dat daar probleme tussen ons was nie,” vertel Martin. “Ons is mos getroud, hoekom sal ’n mens dan ooit skei? Hoe verkeerd was ek nie!”

Vier dae voor die skeisaak in die hof sou voorkom, het Martin onverwags aan Antionette se voordeur geklop. “Uit die bloute stel hy my toe aan sy pastoor voor. Ek was nie beïndruk nie.”

Die pastoor het egter vir Antionette uitgenooi om alles wat op haar hart was te deel. “Vir die eerste keer in my lewe het die woorde van woede, haat en pyn uit my mond begin loop. Al die verwerping, al die seer, die beledigings. Die pastoor het vir Martin gekyk en gesê ná alles wat hy gehoor het, het ek die volste reg om vir Martin te los.”

Uiteindelik het die pastoor vir haar gevra of sy vir Martin – en vir Jesus – nog ’n kans sal gee. Hy het ook vir hulle gebid. Antionette het onverwags ’n verandering in haar gemoed begin ervaar. “Dit het skielik gevoel asof ek op Jesus se skoot sit en Hy my vashou. Ek het ’n onbeskryflike liefde ervaar en ook ’n begeerte gevoel om vir Martin vas te hou. My kop het egter volstrek geweier om op hierdie gevoelens te reageer.” Haar hart het bitter en hard geword oor die jare, vertel sy. Sy was baie skepties.

Ná die gebed het Antionette sonder ’n woord opgestaan, haar motorsleutels gevat en in die kar geklim. Sy het ’n afspraak met vriende gehad om na ’n rugbywedstryd te gaan kyk. Maar, sê sy, God het duidelik met haar gepraat.

“Ek was nie eers 20 minute daar nie . . . toe wou ek huis toe gaan. Ek het ’n diep verlange na my man gevoel. Vir die eerste keer het die woord ‘skei’ soos ’n mes deur my gesny.” Sy het deur die nag geworstel met baie vrae in haar gemoed. “Ek het gehuil soos nog nooit vantevore nie.”

Die volgende oggend het sy vir Martin in die kerk gesien. Dit was drie dae voor die egskeiding voltrek sou word. In haar gedagtes het sy regdeur die kerkdiens met God gesels. Wat moet sy doen? Hoe gaan sy weet wat God se wil vir haar is? Sy het in haar onsekerheid vir God gevra vir ’n teken, enigiets waaraan sy kon vashou. Sy het intens probeer sin maak van haar gevoelens.

Toe die leraar die laaste seëngebed uitspreek, besluit sy om uit te glip na die naaste bakkery om asem te skep en ’n vars brood te koop. Sy het egter ’n gevoel gekry dat sy moes teruggaan kerk toe. “Toe ek terugkom by die kerk, was die hele gemeente weg – behalwe Martin, die pastoor, my twee kinders en my ouers. In my hart het ek gewéét hierdie is die teken waarop ek gewag het.”

Sy het reguit na Martin toe geloop, in sy arms geval en kliphard gesê sy wil nie skei nie. Die trane het oor Martin se wange begin rol. “Hy het verskriklik begin huil en het my stywer as ooit vasgedruk. Ek kon skaars asemhaal!” lag Antionette. Die kinders, die pastoor en haar ouers het almal die Here begin loof. “Ek het myself voorberei om haar te verloor,” dink Martin terug. “Maar ek het bly hoop vir ’n wonderwerk.”

Twee dae voordat hulle skeisaak voor die hof sou verskyn, kontak Antionette haar prokureur en gee vir hom die opdrag om die saak terug te trek. “Van daardie dag af het die woord ‘egskeiding’ nie een keer weer oor ons lippe gekom nie.”

God maak heel wat stukkend is

Wat het hulle as paartjie anders gedoen nadat hulle op die vooraand van ’n egskeiding omgedraai het? Beide van hulle het besef en erken dat hulle foute gemaak het in hul huwelik. Hulle het dit wat belangrik is vir die ander maat begin prioritiseer en eerlikheid baie hoog op prys begin stel.

“Ons het in mekaar se skoene begin staan en saam ’n opregte pad met God begin stap. Ons het God gevra om die motor se stuurwiel te neem en ons te lei. Ons moes leer om reg te kommunikeer, te luister en nie net te hoor nie,” verduidelik Antionette. Hulle het saam vir berading begin gaan en dié sessies gereeld, vir drie maande lank, deurgesien. “Ons het mekaar vrygespreek van al die bagasie uit die verlede,” sê Martin.

Agt jaar ná hul troudag en drie maande nadat hulle herenig het, het hulle hul huwelik se grootste oorwinning gevier deur hul troubeloftes te herbevestig. “Ek het weer die paadjie afgestap in ’n spierwit trourok. Martin het voor die kansel vir my gewag. Ons gesin het ons lewens en ons huwelik daardie dag voor die kansel weer in God se hande geplaas.”

In Junie vanjaar sal hulle hul tiende huweliksherdenking vier.

Bybelstudie is nou ’n integrale deel van hulle huwelik. Dis vir hulle soos ’n vaste afspraak, verduidelik Antionette – amper soos date nights saam met God! “God was voorheen slegs ’n Bybelstorie en ’n man met ’n groot baard en ’n vriendelike gesig in Kinderbybels,” lag Antionette. “Ná dit wat God in ons huwelik gedoen het, kan ons vandag met alle eerlikheid sê: By Hom is niks onmoontlik nie.”