Elkeen smag na ‘n sterretjie op die voorkop. Of jy nou in graad 1 is en of jou kléínkind nou in graad een is, dis lekker om te hoor dat jy iemand se goedkeuring wegdra. So, moenie suinig wees met jou sterretjies nie!
Dit was ‘n rowwe dag vir Jacques. Hy is weereens deur sy boelie van ‘n baas verneder, en weereens moes hy op sy tong byt, terwyl hy so graag wou sê wat hy op die hart gehad het. Hy het nié die aanstelling gekry waarvoor hy al die afgelope drie jaar lank so hard werk nie en ‘n jong outjie, vars uit matriek het in dié posisie ingestap.
Terug by die huis het hy in die nuwe Great Dane se landmyn getrap. En toe hy by die voordeur instap, het kleinsus aan sy bene kom klou, huilend omdat haar boetie haar terg. Hy voel soos ‘n nikswerd en wonder wat Magdaleen ooit in hom gesien het. Op skool het sy die skool se eerstespan rugbykaptein gedate en Jacques was heimlik verlief op haar. Op Universiteit het hulle oë mekaar ontmoet tussen al die groentjies en hy het later nader gestap om te hoor hoe dit met haar gaan. Die res is geskiedenis. Maar vandag voel hy asof hy haar nie verdien nie. Hy loop druipstert slaapkamer toe en gaan staan stil by die deur. Magdaleen is op haar selfoon en hy hoor sy naam…
“Ek weet nie meer nie, ma. Hy is altyd nors, hy is pal op my case en ek is raadop met hom. Om hom altyd te moet red wanneer dinge nie goed gaan nie, is nie my werk nie. Ek is moeg. Miskien is dit tyd vir my om hom vir ‘n paar weke uit my lewe uit te skuif…” Jacques sak teen die muur en gaan sit plat. So, dís wat Magdaleen van hom dink? Hy voel hoe die paniek aan sy keel gryp. Sy praat verder.
“Nee ma, hy weet niks. Ek wil hom nie met Gideon se probleme opsaal nie. Hy is mý broer en dis nie Jacques se verantwoordelikheid om hom weer op koers te kry nie. Ma weet, ek kon nie vir ‘n beter man gevra het nie. Deur hierdie hele ding met Gideon was ek so afwesig en kort-af met my man, maar hy bly ‘n anker in my lewe. Hy weet net wanneer om die regte dinge te sê en hy dra my deur hierdie tye, al weet hy dit nie eens nie. Jacques is ‘n yster.”
Het hy reg gehoor? ‘n Glimlag sprei oor Jacques se gesig – al sien niemand dit nie. Sy vrou is trots op hom. Sy dink hy is ‘n yster…
Oor trots en respek
Shaunti Feldhahn, outeur van die boek ‘For Women Only’, het 1000 mans ondervra om vas te stel wat hul emosionele behoeftes is. In ‘n FamilyLifeToday onderhoud met Dennis Rainey en Bob Lepine het sy gesê: “Vir mans is die hoogste behoefte nie om geliefd of gekoester te voel (soos vroue) nie. Dit is om gerespekteer deur ons te voel en vertrou te word. Om die waarheid te vertel, ons kan soveel tyd bestee daaraan om ons mans te wys dat ons hulle liefhet, deur te sê “Ek is lief vir jou” en alles doen om liefde te wys. Maar as ons hulle in die openbaar terg of hulle laat voel dat ons nie hul besluite respekteer of vertrou dat hulle die regte besluit sal neem nie, sal hulle gedisrespekteer en ongeliefd voel…” Hoe wys jy jou maat jy is trots op hom?
- Jy sê Nie te veel, sodat dit impak verloor nie. En nie so min dat hy daaraan twyfel nie. Net genoeg sodat hy weet jy bedoel dit opreg. “Ek is so trots op jou.” Dit is woorde wat soms moeilik is om te sê en dit kan vreemd voel, maar hoe meer jy dit sê, hoe makliker gaan dit raak. Moenie dit algemeen hou nie, maar wees spesifiek: “Ek is so trots op jou vir die hands on pa wat jy vir ons kinders is.” Of: “Ek is so trots op jou dat jy doen waarvan jy nie noodwendig hou nie, om vir ons gesin te voorsien.” Of: “Ek is so trots op die mooi manier waarop jy met my pa werk.
- Maak soos Magdaleen. Skinder van hom! Maar skinder mooi. Vertel die mense na aan jou hoe trots jy op hom is en hoekom jy so trots is op hom. Raam die sertifikaat wat hy ontvang het as verkoops-verteenwoordiger van die jaar en hang dit op waar almal dit kan sien. Wys almal wat kom kuier hoe mooi is sy nuwe rotstuin. En vertel vir die kinders van die prestasies wat hy bereik (klein en groot). En ja, vryf dit in! Is daar mense in sy lewe wat hom dalk minderwaardig laat voel? Soos sy pa in wie se oë hy nooit die regte loopbaan gevolg het nie? Of sy jaloerse suster? Fokus juis op hulle.
- Droom saam met hom (ook oor die onmoontlike). Sy drome klink dalk verregaande! Daardie lappie grond in die Karoo wat hy eendag wil koop en waar hy ‘n koepel met die grootste teleskoop denkbaar wil gaan installeer… jy én hy weet dit gaan nooit gebeur nie. Maar entertain Droom saam met hom. Vertel hom van die gastehuis wat jy daar naby wil inrig waar jy net vegetariese karoo-kos wil opdien. En die kamers met glas-plafonne. En die vyftien skapies en drie boerbokkies wat daarbuite sal wei… Die kanse is goed dat hy in sy agterkop baie goed weet dit sal nie realiseer nie, maar elkeen is geregtig op ‘n droom. Nee wag – elkeen is genóódsaak om te droom.
- Leer die kroos ook om hom te respekteer. Jy is die ma in die huis, jy is ‘n rolmodel en die manier wat jy met jou maat omgaan, sal bepaal hoe hulle ook teenoor hom optree. As jy vir hom jok oor jou koop-gewoontes en hom ignoreer wanneer hy jou vra om die limiet op sy kredietkaart te respekteer, sien jul tienerdogter dit en dink sy dit is heeltemal aanvaarbaar. Sy sal dit boonop eendag met haar maat ook doen! As jou kinders hom ignoreer wanneer hy hulle vra om die sosiale media af te skakel, moenie agteraf fluister “Nog net vyf minute” nie en sê eerder: “Julle pa het gepraat. Ons wil hê julle moet dadelik weg van die skerms af kom.”
- Lag vir daardie grappie en beaam sy stories! Wanneer hy die storie vertel oor die turbulensie op sy vlug Duitsland toe, weet jy reeds met watter kragwoorde dit gepaard sal gaan. Jy ken al elke handgebaar wat hy sal gebruik en die manier waarop hy sy asem ophou teen die einde vir addisionele dramatiese effek. Maar in plaas daarvan om jou oë te rek, vir jou vriende te knipoog en te sê: “Hier gaan ons al weer!”, gaan sit styf teen hom, jou hand op sy been, en luister daarna asof jy vir dit die heel eerste keer hoor. Vra vrae by dié dele wat jy weet hy graag oor wil uitbrei en lag die hardste by die snaakse dele. Wanneer hy ‘n storie vertel waar jy teenwoordig was, moet hom nie korrigeer nie. En as die vis wat hy gevang het sedert die vangs met 70 sentimeter gegroei het, laat dit daar!
- Wys hoe trots jy op hom is. Wanneer julle by ‘n openbare geleentheid is, en daar ‘n fisieke afstand tussen julle is, maak oogkontak met hom, glimlag vir hom en stap doelgerig na hom toe. Haak in, asof jy wil wys: Dié is my man en ek is deksels trots op hom! Plaas foto’s van hom op sosiale media om te spog met wat hy doen en wie hy is.
- Wanneer julle baklei, hou dit privaat. DIt is natuurlik dat jy soms jou humeur met jou man gaan verloor – ook in die openbaar. Jy sal soms op jou tande moet byt, maar dis die moeite werd. Moenie oorlog maak voor mense wat julle ken nie (ook nie mense wat julle nié ken nie). Moet ook nie in die hitte van die oomblik vir jou vriendin vertel hoe kwaad jy vir jou maat is nie. Onthou dat al daardie mense wat julle sien baklei, nie daar gaan wees wanneer julle later dinge uitpraat en vrede maak nie en al wat in húlle koppe gaan vassteek is die nare goed wat heen en weer geslinger is.
- Kies sy kant. Ja, jy kan hom terg en hom uithaal oor sy snorkery! Maar as iemand anders jou maat benadeel, verneder of slegmaak, staan op vir hom. Kies sy kant. Wanneer iemand klem lê op een van sy swakhede, vertel hulle van sy goeie eienskappe. Wys jy is trots op hom en dat jou lojaliteit by hom lê.
Moenie net vir jou maat vertél hoe trots jy op hom is nie. Wys hom deur jou dag-tot-dag gedrag en houding teenoor hom. Jou maat sal regop staan en weet – dit maak nie saak wát die lewe na jul kant toe waai nie, jy staan agter hom – onvoorwaardelik.
- Artikel geïnspireer deur Familylife.com
Artikel deur Annelise Steyn