Ek en my man was onafskeidbaar, maar 2 kinders later is ek nou ‘n tuisbly-mamma, maar dit voel of die kinders meer aandag kry as ek. Ek moet intieme tye inisieer en ons gaan nooit uit nie, want hy is tevrede met die minste. Intussen voel dit of ek stadig maar seker dood gaan van binne. Geen avontuur, geen liefde sessies en geen ambisie van my man af nie. Ek is more 31 en ek wil hom nou los terwyl ek nog tyd het om ‘n nuwe lewe te begin. Maar wat dink God? My man het my tog nie verneuk of mishandel nie?
Peter Edgar, huwelikskenner en -berader, antwoord:
Jy beleef ‘n stadium in jou lewe waar jy, as ‘n tuisbly-mamma, nie veel werd voel nie – en ongelukkig besef jou man nie altyd watse harde werk dit is nie (al doen jy dit vrywillig en met liefde) en dit kan tot gevolg hê dat jy depressief raak en jou motivering verloor. En dan die eentonigheid! Jy druk hierdie gevoelens so duidelik uit deur te sê dat dit voel asof jy binnekant doodgaan – sonder enige opwinding of doelwitte in enige area van jou lewe. ‘n Mens sien jou desperaatheid raak; dat jy selfs daaraan dink om hom te verlaat. En natuurlik, wat is God se siening hieroor? Jy ken die antwoord – wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie – en jy noem dat jou man nie ontrou was of jou sleg behandel nie, so daar is geen Bybelse gronde vir egskeiding nie.
Daar is hoop. Jy kan hierdie situasie verander na iets wat jy en jou man saam kan doen. Sodra dit moontlik is, maak tyd sodat julle twee ‘n ope gesprek oor die hele situasie kan hê – dit is juis waar die probleem begin het; kommunikasie het opgedroog en plek gemaak vir aannames. Kom ooreen om tydens hierdie gesprek nie aggressief of emosioneel te raak nie en nie met mekaar te argumenteer nie, maar probeer om eerder ‘n gemeenskaplike grondslag te vind (dinge waaroor julle saamstem) en ervaar die liefde en samehorigheid wat julle vir mekaar gehad het toe julle net getroud is. Begin om saam doelwitte daar te stel. Maak “date night” ononderhandelbaar en maak beurte om die afsprake te beplan en mekaar te verras, en probeer nuwe dinge. Laastens, stem in om dinge openlik met mekaar te bespreek eerder as om toe te laat dat sekere situasies in probleme ontaard.
***
Kom in kontak met Peter Edgar vir huweliksberading en -ondersteuning. Kliek hier!