Vergifnis is die laaste onderwerp in hierdie huweliksreeks wat ons glo nodig is om ‘n huwelik se fondasie goed en stewig vas te sement.
Die oomblik as die woord “Vergifnis” gehoor word, dan word daar dadelik aan die groot dinge wat probleme kan veroorsaak in ‘n huwelik gedink, soos buite-egtelike verhoudings, ontrouheid, ens. Die waarheid is egter dat vergifnis nie net tot dit beperk is nie, maar eintlik ook op die klein dingetjies wat voorkom in paartjies en wat diskonneksie bring, van toepassing is. As daar vergifnis vir die kleiner oortredings is, sal daar ook makliker vergifnis vir die groter misstappe wees. As die klein dingetjies nie vergewe woord nie het dit die geneigdheid om op te hoop en soms saam baie meer gewig te hê as dalk een groot oortreding. Pas dus op om ‘n moordkuil van jou hart te maak.
Die een feit bly egter soos ‘n paal bo water staan. Ons het almal vergifnis nodig en ons moet almal vergifnis kan gee. Die Woord is baie duidelik hieroor. Die voorbeeld is vir ons deur die Here self gestel, ‘n beter voorbeeld kan ons nie voor vra nie. Vergifnis lê sentraal in die hart van God. As Hy nie vergewe nie, sal ons in ‘n baie slegte toestand wees.
Maar wat doen onvergewinsgesindheid dan aan ‘n huwelikspaartjie?
Dit kan vergelyk word met iemand wat ‘n swaar vrag op sy rug dra. Wanneer iemand ‘n swaar vrag op sy skouers of rug dra, is hy geneig om al sy kragte in te span om die vrag te kan dra. Sy liggaamshouding is geboë en sy fokus is reg voor hom op die grond. Hy sal nie sy kop kan optel nie, want die gewig van die las sal hom dwing om af te kyk. Onvergewinsgesindheid neem alle visie weg, aangesien sy fokus op niks anders kan wees as die gewig van die las wat hy besig is om te dra of op die grond voor hom nie. As ‘n las baie swaar is, sal hy ook die vermoë verloor om te luister na enige instruksie. Al sy energie sal in hierdie een ding ingaan, naamlik om die las ta dra. Hy sal buigsaamheid en vryheid verloor en ‘n oop teiken raak vir dinge soos depressie en bitterheid. In hierdie staat kan hy nie die Here hoor nie en wil hy verseker glad nie sy maat hoor nie. Dit is die rede waarom die Here sê dat ons eers moet vergewe en dan kan Hy vergewe.
Onvergewensgesindheid hou ‘n persoon vas, hy is die een wat daaronder ly. Niemand anders word daardeur benadeel nie. Een van die mees beskrywende voorbeelde is dié van een van die terregstellingsmetodes wat klaarblyklik in die ou Romeinse tyd gebruik is. As ‘n persoon iemand anders doodgemaak het en hy is skuldig bevind aan die moord, is daardie dooie persoon op die rug vasgemaak van die moordenaar en het hy doodgegaan van die lyk wat ontbind het en in kontak was met sy eie lyf. Die dood het jou letterlik stukkie vir stukkie geïnfiltreer. Die seer en dood van die situasie vreet in jou lewe in. Jy word bitter, hard.
As paartjies lank dinge en laste ronddra begin hulle hulle identiteit daaraan meet. Dit word so deel van hulle dat hulle hulself nie daarsonder kan voorstel nie. As paartjies dit toelaat sal die Here se stem by die een oor ingaan en by die ander uit, of Sy stem sal stil raak in hulle spasie as ‘n paartjie.
Ons dink nie dat ons verder nodig het om voort te borduur op die gevolge van onvergewinsgesindheid nie. Dit is duidelik dat dit in ‘n huwelik laste bring, visie en fokus steel, biiterheid en selfs die dood tot gevolg kan hê.
Dit is daarom so wonderlik om te weet dat vergifnis ‘n krag is wat bevryding, restourasie, heling en groei voortbring. Dit is die water wat die harde grond sag maak sodat die lewe kan uitbreek in ’n dooie plek. Dit spreek die gevolge van onvergewensgesindheid 100% aan en lei tot vryheid.
Deur iemand te vergewe is jy besig om ‘n spasie in jou hart te skep waar die Here kan begin werk. ‘n Plek waar Hy liefde en die verstaan van omstandighede kan plant. Hierdie sou ons nie in ons eie krag en intellek kon uitwerk nie.
In ‘n huwelik is dit baie keer nodig om hierdie spasie te skep waar paartjies gereeld die kans kan kry om mekaar te vergewe vir die dingetjies wat kan pla. Daarom dat ons voorstel dat daar op ‘n weeklikse basis gepraat word oor of daar enige dinge in die huweliksverhouding is wat vergewe moet word. Begin weekliks op ‘n skoon bladsy en vergifnis sal net soveel makliker wees.
Om vergifnis deel van julle verhouding te maak is aanvanklik ‘n keuse en dan moet daar op hierdie keuse gereageer word. Wees bewus daarvan dat daar nie op emosies gereageer moet word nie. Jesus het nie na die kruis toe gegaan omdat Hy so gevoel het nie. Hy het eintlik Sy Vader gevra dat, indien dit moontlik is, die beker by Hom verby moes gaan. Hy het nie gevoel om dit te doen nie. Hy het dit gekies. Hy weet hoe moeilik dit was. Hy sal jou help. Laat die laste gaan!
As paartjies ‘n oop en vol huwelik wil ervaar waar daar vryheid is – maak vergifnis ‘n lewensleuse en moet nie hierop kompromieë aangaan nie.