Sommige vroue kan ’n man in ’n uniform nie weerstaan nie. In die woorde van Mae West: “You know, I always liked a man in uniform . . . that one fits you perfect. Say, why don’t you come up some time. I’m home every evening.”

Promosie

Wat is dit wat ’n man in ’n uniform onweerstaanbaar maak? Is dit omdat dit die naaste is wat ons aan Superman, Batman of Spiderman sal kom? Is dit omdat ons vir ’n slag ’n man sien met klere wat netjies pas en wat glad geskeer is? Of strek die redes ’n bietjie dieper as dit?

Die webtuiste femalefirst.co.uk sê dat twee derdes van vroue ’n man in uniform onweerstaanbaar vind. Die professie wat die onweerstaanbaarste blyk te wees, is dokters. Tweede op die lys van onweerstaanbaarheid is brandweermanne en derdens is dit lede van die weermag of vloot. Vlieëniers het 18% van die stemme gekry.

Op YourTango.com skryf Dawn Turzo, wat self nog altyd aangetrokke was tot mans in uniform, dit het grootliks te doen met die respek wat deur hulle afgedwing word.

Promosie

Volgens ’n sielkundige en verhoudingskenner, dr Jeanette Raymond, mag dit wees dat die uniform wys ’n man kan die lewe se aanslae hanteer en dat dit ’n vrou veilig laat voel. Omdat hulle gevaarlike situasies moet hanteer, assosieer ons hulle met dapperheid en waagmoedigheid. En watter vrou wil nié voel asof haar man dinge onder beheer het nie?

Voorkoms speel natuurlik ook ’n rol. Jy sal selde ’n brandweerman sonder bultende armspiere kry. Boonop lyk mans in uniform netjies en versorg– hoewel dit ewe sexy is wanneer ’n brandweerman, ná ’n paar ure se harde werk, vol modder, sweet en as uit ’n gebrande gebou stap!

Vroue beweer ook dat ’n man in uniform ’n ander tipe selfvertroue uitstraal. Hulle staan regop, trots en daar is nie die hipster jeans wat laag op die heupe hang (met die houding wat daarmee gepaardgaan) of ’n kapsel met highlights wat dringend gesny moet word nie.

Daar is ook natuurlik die idee dat mans in uniform beter minnaars is. Dalk gaan dit oor die manlikheid . . . en miskien oor die feit dat hulle lyk asof hulle in beheer is (en dus ook beheer sal neem in die slaapkamer).

Ja, die redes is legio . . . maar selfs al is die naaste wat jou man aan ’n uniform sal kom, sy overalls, verhoed niks julle om ’n bietjie toneel te speel nie!

  1. “Jammer konstabel, ek hou van spoed . . .”

Om dié rolspelfantasie uit te leef, kan manlief jou in die oprit “voorkeer”, waarop jy jou wimpers verleidelik kan fladder en gemaak-onskuldig kan vra: “Is daar enige manier waarop ons hierdie situasie kan beredder, meneer? Ek bedoel, ek kan die kaartjie betaal . . . of jy kan my oor jou skoot trek?”

In hierdie situasie kan manlief daardie fluffy handboeie nader trek en jou oor sy skouer die huis indra vóór hy jou oor sy skoot trek – maak net seker die bure aanskou nie die hele petalje nie, of jul aksie ná die “misdaad” word dalk onderbreek deur ’n paar ware sirenes buite in die straat!

  1. Kan ek vir jou paaldans?

As manlief régtig ’n uniform dra, kan jy hom ’n bietjie terg. As hy sy werk ernstig opneem, glo hy in selfdissipline. Jy wil nie hê hy moet regtig reëls oortree wat hom van sy amp kan ontneem nie, maar jy wil wys – as daar iemand is wat hom daartoe kan dryf, is dit jy!

Gaan besoek jou brandweerman by die werk en probeer hom verlei met elke tegniek in die boek. As hy sy werk ernstig opneem, sal hy jou kan weerstaan – maar ook net só lank. Vra hom of jy vir hom ’n paaldans kan doen . . . en kyk na sy reaksie! Of daag hom uit om saam met jou in die openbare badkamer in te glip vir ’n quickie. Kyk hoe ver jy sy selfbeheersing kan toets voor hy ingee!

  1. Dokter, ek voel só olik . . .

Dis ’n maklike fantasie om uit te leef (gebruik sommer sussie se speelgoed-stetoskoop en trek ’n wit laboratoriumjassie aan). Bel vir manlief en sê: “Hallo dokter, ek het die ontvangsdame gevra om my sommer direk na jou toe deur te skakel, want ek het ’n groot probleem . . . ek voel só seksueel aangetrokke tot my man dat ek nie kan ophou om aan vreeslike dinge te dink nie. Ek dink dokter sal my volledig moet ondersoek om vas te stel presies wáár die probleem lê.”

Maak ’n datum en tyd, en wag vir manlief in die slaapkamer – sonder ’n draad klere aan. Julle kan self besluit hoe lank julle dié fantasie wil uitrek . . .

Rolspel is ’n wonderlike manier waarmee jy lewe in jou sekslewe kan blaas. Dis soos ’n speletjie wat inhibisies afbreek. In die woorde van pastoor en outeur Rebecca Reilly: “Dit maak jou skaam, dit breek grense af, dit help jou om oop te maak teenoor jou maat, en dit help jou beweeg na meer intimiteit.” Sy noem dat selfs Hooglied 2:16 op rolspel dui!

Maar om daaraan deel te neem, moet jy bereid wees om ’n bietjie simpel te voel saam met jou maat, sê sy. Jy moet gewillig wees om jou gedagtes en gevoelens te kommunikeer en jy moet jou maat vertrou om jou halfpad te ontmoet.

Dus, trek die oorjassie, kapteinpet of tuinslang nader en wees ’n bietjie laf. Dit gee jou minstens ’n verskoning om manlief in ’n uniform te besigtig – en om hom so gou moontlik weer daaruit te kry!

 

Deur Annelize Steyn