Nee, geen quickie is só kort nie. Maar daar is wel talle ander oulike maniere waarop jy jou man se dag kan maak en hom weer laat voel hy is on top of the world!

Dis All-Bran verslind, kiddies soengroet, laptop gryp, terughardloop kamer toe vir die selfoon en uit by die deur . . . dink ’n bietjie hoe lyk daardie laaste vyf minute voor jou maat by die deur uitstap werk toe op ’n weeksoggend. Min of meer só? Dan is jy een van miljoene vroue wat wens hulle het meer tyd gehad om alles klaar te kry. Wanneer iemand vir jou sê jy moet tyd maak vir jou huwelik of jou man boost, dink jy waarskynlik: “Urgh . . . ek het nie nog tyd dáárvoor ook nie.” Maar wat as ons jou sê dit verg slegs vyf minute . . .

  1. Los jou laptop, tel op jou selfoon

Die kans is baie goed dat jy ure per dag voor jou rekenaar deurbring. Dalk het jy ’n nine-to-five werk of jy doen jul besigheid se boeke, of jy is besig om admin af te handel . . . en dit is moeilik om alles net so te los, maar dwing jouself. Stap weg van jou skootrekenaar af en tel jou selfoon op om jou man te bel en te hoor hoe sy dag verloop. Moenie dit vra net om hom die volgende oomblik weer te vertel hoe jy sukkel met jou virusprogram nie, maar fokus jou volle aandag op hom. Stel belang in wat hy sê. As hy hoor dat dit die enigste rede is waarom jy gebel het, sal dit hom ’n instant boost gee.

  1. Los ’n liefdesnota in sy sak

Weet jy in watter sak hy minstens een keer per dag gaan vroetel? Miskien is dit sy broek se sak, sy beursie of sy hemp se sak. Dink mooi aan iets wat hy onlangs gedoen het wat jou dankbaar laat voel het en skryf dit neer op ’n klein nota, selfs ’n post-it. Bêre die nota in daardie sak en laat hom só voel dat jy hom waardeer.

  1. Bel sy broer om te hoor hoe dit gaan

As jy en sy familie na aan mekaar is, well done! Indien nie, sal dit vir hom soveel meer beteken as jy uitreik na hulle. Dis die moeite werd om ’n goeie verhouding met jou skoonfamilie te kweek. So, bel sy broer in Australië om uit te vind hoe dit gaan en sê heel toevallig later aan etenstafel: “Haai liefie, Daniel sê klein Barry het begin surf!” Om in sy familie belang te stel, wys dat hulle vir jou net soveel beteken as vir hom.

  1. Onthou tog maar van die quickie!

Nee, ons het mos reeds gesê vyf minute is te min . . . maar wat van ’n vinnige voet- of nekmassering? Kyk op YouTube – daar is soveel vinnige lesse. Leer eendag (terwyl jy voor daardie laptop sit) hoe om die perfekte massering te gee – dit sal vir hom voel asof jy sy persoonlike masseuse is.

  1. Leer jou kinders om hom te waardeer

’n Leser op happywives.club vertel hoe sy haar kinders aansê om elke keer aan die einde van die maand, as haar man sy salaristjek gekry het, vir hul pa dankie te gaan sê vir al sy harde werk. Volg gerus haar wenk en leer jou kinders ook om dit te doen. Só weet jou man jy sien dit raak en aanvaar dit wat hy doen nie as vanselfsprekend nie. Boonop dra jy by tot die vorming van ’n positiewe beeld van jou man in jou kinders se oë.

  1. Sê bietjie ja vir ’n slag!

Nog ’n leser vertel hoe ’n mens elke nou en dan moet ja sê vir iets wat jy gewoonlik huiwer om te doen. Miskien wil hy ’n ent saam met jou gaan fietsry en jy hou nie daarvan om te sweet nie. Verras hom ’n slag en stel jý dit voor. Onthou, ’n huwelik gaan oor opofferings. En só weet hy jy is bereid om iets te doen waarvan jy nie hou nie – om hom gelukkig te maak!

  1. Luister na sy passies

Gee regtig aandag wanneeer hy jou iets van sy werk of sy passies vertel. Ons is so geneig om mekaar as vanselfsprekend te aanvaar dat ’n mens maklik ingedagte “Hmm” sê wanneer jou maat jou iets vertel, terwyl jy die kinders kos gee of die hond uitjaag. Gaan sit vir ’n slag reg oorkant jou maat en luister met aandag na wat hy vertel.

  1. Koop vir hom sy gunsteling-bederf

Is hy ’n sucker vir ’n room-doughnut? Hou hy van choc-chip roomys? Wanneer jy winkels toe gaan, vergeet van jou lysie en dink wat manlief se swak plek is. Hou hy van soetigheid of iets sout? Kry dit spesiaal vir hom. Dit gaan nie net oor die geskenk nie, maar ook oor die feit dat jy genoeg oplet en omgee om te weet waarvan hy hou.

 

Deur Annelize Steyn

*Geïnspireer deur Fawn Weaver, stigter van die Happy Wives Club (www.happywives.club).