Is jou boekie vol idees deurgelees? Jou kreatiewe lus geblus? Miskien het jy net ’n paar milliliter ordentlike liefdesdoepa nodig om jou sekslewe gesond te dokter. Wel, gaan kry ’n inspuiting (sonder ’n naald) by jou naaste apteek en gebruik dié alternatiewe geneeskunde…

Promosie

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #1

Neem ’n glas vol toffelikeur met ys en ’n koppie warm koffe (effens afgekoel) slaapkamer toe. Vra vir manlief om op sy rug te lê en gee hom ’n stomende volbloedsoen op die mond. Hou skielik op. Trek nou die inspuiting vol van die koue toffelikeur en spuit dit stadig in sy mond. Wanneer hy klaar gesluk het, soen hom verder en sodra sy bloeddruk styg, hou weer summier op. Trek die inspuiting vol warm koffie op en spuit dit in sy mond. Begin hom weer volstoom soen… Die koue en hitte verras hom met die onverwagse. Die feit dat jy dit so uittrek, skep verwagting en maak die eindresultaat vir hom net soveel lekkerder! Herhaal drie keer en moet dan nie weer ophou met soen nie.

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #2:

Promosie

Gaan huur vir jou ’n stoute nursie-outfit by jou naaste kostuumwinkel. Wanneer hy tuis kom, los vir hom ’n nota teen die yskas, terwyl jy in die kamer wag. Skryf: “Die liefdesdokter het jou na my verwys. Ek is ’n lyfdokter en sy voel jy het ’n paar intensiewe sessies met my nodig. Ons eerste sessie sal jou help om te ontspan. Trek asseblief al jou klere uit en hang dit agter die deur. Ek wag in my spreekkamer vir jou. Op die bed. Sonder onderklere… maar respekteer asseblief my professionaliteit.” Wag hom in met jou inspuiting in die hand (en onthou, doen jou belofte gestand wat die dress code aan betref). Wat jy daarna met jou man doen, is jou besluit!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #3

Vanaand is ’n aand van vóél. Julle gaan jul tassintuie optimaal gebruik. Maak deur die dag ’n kissie bymekaar van dinge wat ongewoon teen ’n mens se vel voel. Dit sluit in: ’n Veer, jou inspuiting, ’n syserp, ’n haarborsel, ’n gordyntossel… gebruik jou kreatiwiteit. Los die kissie langs die bed en wanneer vry-tyd aanbreek en blinddoek hom. Speel met al die voorwerpe teen sy vel. Die geheim is om sy vel ligweg met die voorwerpe te streel en tussenin skoenlappersoene (ewe lig) oor sy vel te laat fladder. Gebruik die veer om sy arms te kielie. Die syserp kan jy tussen sy bobene laat deurgly. Gebruik die gordyntossel om sy maag te kielie en die haarborsel (liggies!) op en af oor sy dye. Die inspuiting vul jy met lug en spuit hierdie lug in sirkels in sy nek en ore. Dit sal voel soos jou asem, maar wat hy nie sal kan verstaan nie, is dat jy hom op sy mond soen terwyl jy dit doen en dit sal hom mal maak!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #4:

Stuur vir manlief ’n uitnodiging via WhatsApp of SMS. Sê vir hom dat jy hom in die slaapkamer kry vir ’n potjie strip poker. Julle kan die spanning so effe verlig met behulp van ’n lekker tong-in-die-kies alkoholiese verversing.

Maak vir julle tequila jelly shots om hierdie speletjie ekstra pret te maak.

Bestanddele:

1 pakkie lemmetjie jellie
100ml warm water
Die sap van 2 groot lemmetjies
200 ml tequila

Los die jellie in die water op. Voeg die lemmetjiesap en tequila by (en ’n druppel blou voedselkleursel vir die pret!). Meng goed. Haal die inspuiting uitmekaar, vul dit met die mengsel (terwyl jy die punt toehou met jou vinger, plaas die spuitgedeelte effens terug en draai die inspuiting onderstebo in die vrieskas. Inkorporeer dit nou by die spel. Voordat jy van ’n kledingstuk ontslae moet raak, kry jy eers ’n inspuiting!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #5

Maak botterversiersel aan (die resep is op die meeste versiersuikerpakkies). Vul jou inspuiting hiermee en gebruik dit as ’n koekversierder op jou man se hemelse liggaam. “Skryf” boodskappe met die versiersel-inspuiting op jou maat se bolyf, onderlyf… sy hele lyf! Hy moet raai wat jy skryf. En dan lek jy dit stadig af. Daarna kan jy die inspuiting vir hom gee om kreatief daarmee te raak op jóú. Hy mag nie dieselfde liggaamsdele as jy versier nie!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #6

Daar is min dinge wat aarbeie met sjokolade klop wanneer dit by romanse kom. Wat is nou meer sexy as om in ’n eina-klein nagrokkie deur jou maat aarbeie en room gevoer te word? In die bad? Des te beter! As julle dit al gedoen het, probeer hierdie twist op ’n ou gunsteling: Neem ’n pakkie aarbeie. Smelt wit sjokolade, giet dit in ’n dun straal oor die aarbeie en plaas in die yskas. Vul jou inspuiting met goeie dessertwyn (Rieslings of Hanepoot is goeie keuses). Hiervoor het jy ’n naald nodig – spuit genoeg van die wyn in die aarbeie om dit te laat deursypel, maar nie soveel dat die aarbeie pap word nie!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #7

Soms is dit makliker om iets te skryf as om dit te sê! Koop vir jou die mooiste, sexy’ste opstootbra wat jy kan bekostig en trek dit aan. Dink aan dit wat jy die graagste wil hê hy moet doen en skryf dit op die papiertjie. Trek die agterste gedeelte van die spuit uit en rol die briefie op sodat dit in die voorste gedeelte van die spuit pas. Plaas daardie deel (met die briefie daarin) tussen jou borste wat nou so ’n borsgleufie behoort te maak dat dit met gemak daar sal vassit. Dink vir manlief ’n raaisel uit en sê vir hom sy skat is iewers (tussen twee erotiese kontoere in die huis byvoorbeeld) weggesteek. Hy het net een kans om die skat te soek. As hy reg is en hom gekry het, kan hy óf die briefie lees en jou wens waar maak, óf hy kan met jou maak wat hy wil!

KUUR VIR ’N OLIKE SEKSLEWE #8

Bespreek plek by ’n lekker restaurant vir ’n spesiale geleentheid en doen werklik moeite met jou voorkoms. Laat jou hare professioneel droogblaas, gaan vir ’n manikuur en bestee die hele dag om te ontspan en te dink aan hoe sexy jou man vir jou is. By die restaurant, sorg dat julle regtig op mekaar inzoem. Flankeer met hom. En wanneer die kelner vra of hy die nagereg-spyskaart kan bring, sê vir hom: “Nee dankie, ons gaan sommer nagereg by die huis eet.” Knipoog vir manlief. Wanneer julle by die huis kom, neem ’n blikkie gekookte kondensmelk en 50ml room. Klits tot dit romerig is en skep in ’n glasbakkie. Neem die bakkie en jou inspuiting slaapkamer toe. Laat manlief op sy rug lê en sê vir hom dat jy ’n groot bederf in gedagte het… Glo ons maar – orale seks kan nie lekkerder smaak nie!