Almal dink hulle weet wat liefde is. Ongelukkig is daar soveel wanbegrip oor wat dit beteken om regtig lief te hê.

Promosie

Daar is selfs diegene wat dink dat dit die toppunt van liefde is wanneer hulle in ‘n verhouding aanbly wat dikwels gewelddadig word. Interessant genoeg is daar net soveel onkunde oor wat die Bybel vir ons oor liefde leer.

Verstaan jy 1 Kor 13 reg?

1 Korintiërs 13 word byvoorbeeld dikwels by huwelike gelees of gesing. Met blink oë word daar na die woorde geluister: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie, …” Almal dink dan dat hierdie pragtige woorde spesiaal op die huwelikspaartjie van toepassing is.

Promosie

Die waarheid is dat 1 Korintiërs glad nie gaan oor die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou nie. 1 Korintiërs 12 en 14 gaan oor die mense in die gemeente wat oor verskillende gawes beskik. Party het gawes van profesie, en ander het gawes van gesondmaking, en ander beskik ook oor ‘n hele aantal ander gawes.

In hoofstuk 13, in die middel van hierdie bespreking van die verskeidenheid van gawes in die gemeente, skryf Paulus 1 Korintiërs 13, waarin hy vra dat gelowiges in die gemeente nie afgunstig op mekaar se gawes moet wees nie, ook nie grootpraterig oor hul eie gawes nie, en dat hulle geduldig met mekaar moet wees.

So 1 Korintiërs 13 gaan nie oor die liefde tussen ‘n bruid en bruidegom nie. Ja, die huwelikspaartjie moet ook hierdie vereistes uitleef, maar hierdie hoofstuk gaan primêr oor die liefde wat gemeentelede vir mekaar moet hê, en hoe hulle mekaar moet verdra ongeag elkeen se gawe(s) en ander eienaardighede.

Kliek hier vir ‘n gratis gebed gebasseer op 1 Korintiërs 13.

Ja, Hooglied ís stomend!

Die Bybel is natuurlik glad nie bang om oor die liefde te praat nie, insluitende die seksuele liefde tussen ‘n man en vrou.  In hoofstuk 8:7 van Hooglied (wat in geheel oor erotiese liefde tussen ‘n man en vrou gaan) lees ons byvoorbeeld ”Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie. Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daarvoor uitgelag word.”

Aan die einde van die vorige hoofstuk (7:11-12) nooi die vrou die man uit om in die lentetyd wanneer wingerde en granaatbome bloei, saam met haar na die veld toe te gaan, sodat hulle daar seks kan hê! ‘n Baie romantiese plek om liefde te maak. In hoofstuk 8:3 beskryf sy selfs die seksposisie wat hulle inneem: “Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my!”

Dit is nietemin nie so vanselfsprekend om te weet wat die woord “liefde” in die Bybel beteken nie. In Johannes 13:34 sê Jesus: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê!”

Is die liefde tee en koekies saam met mede-gelowiges?

By baie kerke sal die kerkgangers mekaar soen en drukkies gee by die deur van die kerk, en na die tyd sal hulle saam tee drink en koekies eet. En so, dink hulle, kan hulle wys dat hulle mekaar liefhet. Maar dit beteken nog vir geen oomblik dat die kerkgangers mekaar liefhet nie!

Buitendien, Jesus gee ons die opdrag om almal lief te hê, en waar gaan ons die tyd kry om by almal te gaan kuier en te gaan tee drink en koekies te eet? Maar dit is nie wat die woord “agapáo” beteken wat telkens in die Bybel gebruik word wanneer ons die opdrag kry om mekaar lief te hê nie. Die Griekse woord “agapáo” (werkwoord) en “agápe” (selfstandige naamwoord) wat in Afrikaans met “liefhê” en “liefde” vertaal word, fokus op liefde wat gebaseer word op ‘n diepe waardering en respek vir die ander persoon.

‘n Kwessie van menswaardigheid

Dit is dan waarom Jesus (en die ander Bybelskrywers) hierdie woord “agapáo” gebruik wanneer ons die opdrag kry om ander mense lief te hê. Dit beteken dat ons die ander persoon se menswaardigheid sal erken, selfs al sluipslaap hy by die Poskantoor se posbusse, of selfs al bedel sy by die straathoeke. Selfs al verloor hy sy werk en is takel die depressie hom só dat dit nie meer die man is wat jy liefgekry het nie …

‘n Mens wat liefhet, sal elke ander mens met waardigheid en respek hanteer – by die kasregister in die winkel, in die lang tou voor die kitsbank, by die petrolpomp waar die pompjoggie ons motor vol brandstof maak. Ja, ons kan nie elke dag met almal gaan tee drink nie, en by elke huis gaan inloer en kuier nie, maar ons kan elke minuut van die dag wys dat liefde ons lewe kenmerk deurdat ons mense wat ons pad kruis met waardigheid en respek hanteer.

Dit is nogal snaaks dat Jesus in Johannes 13:34 hierbo sê dat Hy vir ons ‘n “nuwe gebod” gee, naamlik om mekaar lief te hê. Wat is so “nuut” aan hierdie gebod wat Hy gegee het? Levitikus 19:18 sê byvoorbeeld ook: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Hierdie opdrag is dus eeue voor Jesus se optrede op aarde reeds aan die mens gegee. Teoloë het al baie hieroor gewonder. Sommige antwoord dat ‘n mens dalk eerder die vers moet vertaal met “I give you the command anew”, in plaas van “I give you a new command”. Maar let op: Daar is wel iets nuuts in Jesus se opdrag! Jesus gee vir ons ‘n nuwe motivering vir die gebod om lief te hê. Ons moet ander liefhê “SOOS EK julle liefhet!”

Dít is die hart van die Evangelie: Ons moet mense met respek en menswaardigheid hanteer, ongeag wie of wat hulle is. Dit is wat Jesus gedoen het. Dít is die kern van liefde volgens die Bybel, en dít is wat ons moet navolg!

Artikel deur Prof Hennie Stander

***

Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!