Stel jou voor dat jou huwelik ʼn potplantjie is — een wat nét met die regte hoeveelheid water, lig en sorg floreer. Wel, kenners meen dat die liefde wel só is, en dat jul huwelik met die regte elemente altyd immergroen sal wees!

Promosie

Vir diégene onder ons wat met groen vingers geseën is, is dit goeie nuus. As jy egter sukkel om selfs ʼn kaktus aan die lewe te hou, raak jy waarskynlik benoud.

Moet jou egter nie te veel bekommer nie. Daar word nie verniet gesê dat liefde ʼn wilsbesluit is nie. Vir jou huwelik om na wense te groei, het jy nie enige spesiale talente nodig nie, mits jy bereid is om moeite te doen!

Wie kan die toneel uit die 2003 fliek, How to Lose a Guy in 10 Days, vergeet waarin Andie ʼn plantjie aan Ben gee en later by sy woonstel ontdek dat die plantjie nie meer groen is nie. “Our Love Fern! You let it die!” roep sy dan geskok uit, en vra: “Are you going to let ús die?” Ben antwoord desperaat: “No honey, it’s just sleeping … ” maar sy verweer help nie veel nie.

Promosie

Wel, as die huwelik slegs in die sorg van manne soos Ben was, was die Suid-Afrikaanse egskeidingsyfer waarskynlik selfs hoër as die huidige 70% waarop dit tans staan. Gelukkig het elke huwelik twéé versorgers en kan julle mekaar aanvul waar die ander een tekortskiet.

Die tuiniersgilde in Engeland meen dat die eienskappe van ʼn goeie tuinier ervaring, gereedskap, ʼn lisensie en identifikasie insluit. As jy in ʼn liefdevolle Christen-huwelik is, het jy dit reeds alles. Hoe langer julle getroud is, hoe meer ervaring het julle, maar selfs al is julle pasgetroud, kan julle uit ander se ervaring leer en behoort elke paartjie getroude rolmodelle te hê wat ʼn gesonde huwelik aan hulle kan voorhou. Jou huweliksertifikaat is jou lisensie. As jy getroud is, het jy die dokumente wat jou die reg (en die bevel) gee om aan hierdie kosbare, kwesbare verhouding te kweek, totdat jy dit onder die knie het. (Ons verskaf later ʼn lys toerusting wat jy nodig het sodat jou plant kan floreer.)

Laastens, maar definitief die belangrikste — Christenskap gee aan jou die regte identifikasie om jou huwelik te laat werk. As die Skepper deel van jou en jou verhouding vorm, is die kanse skraal dat jul Love Fern dit níé gaan maak nie.

Geloof is soos son vir jou huwelik …

Een van die belangrikste bestanddele en voorvereistes vir ʼn huwelik om te groei, is die teenwoordigheid van spiritualiteit. Heather Cardin, skrywer van die boek, Partners in Spirit: What Couples Say About Marriages that Work, noem die volgende perspektief in haar hoofstuk oor spiritualiteit binne die huwelik. In Ovidio Gomez van Honduras se woorde: “Elke keer wat ek nader aan God voel, of voel of ek spiritueel groei, ervaar ek meer liefde en wil ek nader aan my vrou, Coral, wees.”

Nog ʼn paartjie, Ginny en Greg Kintz, Amerikaners wat tóé in Afrika gewoon het, sê: “Fundamenteel werk ons huwelik, want ten spyte van verskille in ons individuele belangstellings, loopbaankeuses, gewoontes ensomeer, het ons ʼn gedeelde visie van ons doel in die lewe. Die ‘driehoekanalogie’ is só waar in ons huwelik. Dit is die illustrasie waarin God die apeks van die driehoek is en die ander twee punte die huweliksmaats verteenwoordig. As die maats individueel nader aan God beweeg, is die eindresultaat dat hulle nader aan mekaar beweeg.”

… en seks is soos water!

ʼn Geslaagde huwelik is ʼn rariteit, gesien teen die huidige egskeidingsyfer. Dit is makliker om na dinge te kyk wat ʼn huwelik laat misluk as na dinge wat ʼn huwelik laat slaag, wanneer jy ʼn suksesvolle huwelik wil definieer. Franscis K. Githinji, ʼn aanlynafspraakkenner, meen dat ʼn huwelik wat slaag aan ʼn paartjie ʼn lewenslange viering van hul liefde bied, en dat seks ʼn broodnodige bestanddeel hiervan is.

“ʼn Huwelik wat slaag, bevat seks as nommer een prioriteit,” meen hy. “ʼn Tekort aan seks in die huwelik is ʼn groot bedreiging. ʼn Sekslose huwelik is ʼn aanduiding dat dinge nie lekker is nie. Hoewel paartjies graag sou wou argumenteer dat dit nie net oor seks gaan nie, verskil ek sterk hiervan. Julle kan dalk baie goeie vriende in ander opsigte wees, maar die waarheid is dat een of albei van julle selfsugtig is. Wanneer jou maat seksueel toenadering soek, behoort jy — vir die huwelik se onthalwe — hom of haar nie te weier nie. Jy voel dalk nie lus daarvoor nie, maar as jy heeltemal betrokke is, sal julle albei in die genot deel.”

Vermy peste en onkruid

Daar is nie plek vir derde partye in jou huwelik nie. Ja, uiteraard sluit dit die begeerlike een by jou werk, die aantreklike reisagent wat al Manlief se reisreëlings tref en die enkellopende, sexy pappa by jou kind se kleuterskool in. Dit weet jy dalk, maar besef jy dat dit soms ook partye insluit wat nie seksueel ʼn negatiewe invloed op jou huwelik kan hê? Die vriendin wat al jou vrye tyd opeis en altyd ʼn skouer nodig het om op te huil — in so ʼn mate dat jy nie eers agterkom dat Manlief daardie einste skouer nodig het nie. Of sy vriende wat hom met hul dronkpraatjies vertel dat die huwelik eintlik hel is, dat jy Lucifer is en dat hy so gou moontlik uit die brandende vlamme moet probeer ontsnap. Of jou familie met wie jy net nie die bande kan sny nie.

Onthou dat wanneer jy getroud is, jy en Manlief jul eie gesin vorm. Moenie toelaat dat ouers, skoonouers, sussies, skoonsussies, swaers en broers jou huwelik oorheers nie. Om te groei en jul eie gesinsdae, vakansietradisies en rituele te vestig, moet julle die kans gegun word om asem te haal, en die ruimte gegun word om dit tot uitvoer te bring.

Die realiteit is dat dit dikwels nie die familie of die skoonfamilie is wat inmeng nie, maar jy of Manlief wat sukkel om van die rokspante afstand te doen. Jy het dus ʼn mate van beheer oor die indringerplante wat jul Love Fern kan skaad.

Die tuintoerusting wat jy benodig

Daar is sekere dinge waarsonder jy nie kan klaarkom as jy ʼn plantjie kweek nie. Sielkundiges, huweliksberaders en gelukkig-getroude paartjies is dit eens — wat jy insit, gaan jy uitkry. Jy het kennis en toerusting nodig. Hier is 22 belangrike elemente van ʼn suksesvolle huwelik:

  • ʼn Positiewe ingesteldheid

ʼn Paartjie wie se huwelik werk, leef aan die sonkant. Gee jou huwelik die vitamine D wat hy nodig het deur ʼn sonskynfilosofie te deel en saam na gesonde ideale te streef.

  • Vriendskap, respek en liefde

Groei is onafwendbaar. Wanneer jy trou (jou Love Fern aanskaf) is alles klein, jonk, perfek en sonder enige teken van ʼn swam. Sorg dat julle na mekaar toe groei Julle vriendskap moet sterker word, julle respek vir mekaar meer en julle liefde inniger.

  • Gedeelde belange en aktiwiteite

In die natuur staan geen plant alleen nie. ʼn Plant vorm deel van ʼn ekosisteem en klimaat waarbinne hy floreer. Jy en jou maat hoef nie noodwendig om mekaar te rank nie, maar om te leef sonder dat julle takke mekaar ooit aanraak, is ongesond.

  • Genot in mekaar

Jy koop jou Love Fern nie onder dwang nie, maar omdat jy glo dat dit vir jou vreugde gaan verskaf. Moet dus nie voortdurend oor jou huwelik kla en jouself as ‘vasgevang’ beskou nie. Geniet jou maat en die spesiale verhouding wat jy gekies het.

  • Betroubaarheid en eerlikheid

As jy doen wat jy moet, sal jou Love Fern floreer. Dit is omdat ʼn plant betroubaar is. Jy moet op jou maat kan staatmaak. Julle moet weet waar julle met mekaar staan en mekaar soms op ʼn eerlike, dog taktvolle manier kan vertel hoe sake staan, sonder om mekaar seer te maak.

  • Interafhanklikheid

Elke paartjie behoort interafhanklik te wees. Hy kan dalk finansieel vir jou sorg en aan jou sekuriteit bied, wat jou in daardie opsig van hom afhanklik maak, maar dit beteken nie dat hy nie jou sagtheid en koestering nodig het nie — dit is wat hom weer van jou afhanklik maak.

  • Trotsheid op mekaar

As jou Love Fern floreer, is jy trots op jou pragtige plantjie. In ʼn suksesvolle huwelik is ʼn paartjie trots op mekaar en wat hulle elkeen in die huwelik bereik. Hulle gee vir mekaar komplimente en bou mekaar op. So ʼn paartjie is ook geïnteresseerd in mekaar se werk en respekteer dit.

  • Opwinding midde-in roetine

In ʼn suksesvolle huwelik doen ʼn paartjie moeite om vervelige roetinetake lekker te maak. Dit is wanneer julle saam kar was en mekaar met die tuinslang natspuit, of hy jou (sonder ʼn voorskoot) help om die skottelgoed af te droog.

  • Realistiese doelwitte

Jy weet dat hy waarskynlik nooit vir jou ʼn strandhuis in Tahiti sal kan bekostig nie, en hy weet dat jy nooit sy droom DIY-assistent gaan wees nie … en dit is okei so. Julle erken mekaar vir wie julle is en julle doelwitte is haalbare teikens.

  • Begrip vir probleme

Wanneer jou Love Fern bleek word, gooi jy hom nie summier in die asblik nie, maar jy kyk eers wat jy kan doen om hom te red, nie waar nie? In ʼn gesonde huwelik sien ʼn paartjie elke probleem as ʼn uitdaging en nie as ʼn doodloopstraat nie. 

  • Finansiële begrip

As platsakstudent gaan jy nie sommer ingevoerde orgidees kweek nie. Net so kan jy in jou huwelik ook nie van jou maat verwag om vir jou ʼn sesslaapkamerkasteel met sy eerste salaris te begin afbetaal nie. In ʼn huwelik wat werk, het ʼn paartjie begrip vir mekaar se finansiële vermoëns.

  • Oplossingingesteldheid

As jy geneig is om te vergeet dat jou Love Fern gereeld moet water kry, gaan jy ʼn reminder op jou selfoon stel, of ʼn nota op jou yskas plak, nie waar nie? Net so werk dit in ʼn huwelik. Goeie huweliksmaats weet waar hulle tekort skiet en doen moeite om daarvoor op te maak.

  • Egtheid en outentiekheid

Wanneer jy ʼn plantjie koop, wil jy nie by die huis ontdek dat die blare van plastiek is nie. Net so is vennote in ʼn suksesvolle huwelik ook egte mense met regte emosies, gevoelens en eerbaarheid — mense waarop jy kan staatmaak.

  • Dankbaarheid

As jy sien hoe ʼn plantjie onder jou liefde en sorg floreer, laat dit jou tog beter voel. Jy weet jy kan ʼn sukses daarvan maak en dit laat jou beter voel. As jy sien hoe dinge in jou huwelik vlot verloop en hoe gelukkig jou maat is, kan jy weet dat dit iets met jóú te doen het, en dit laat jou goed voel

  • Gesonde aktiwiteite

Net soos ʼn plantjie het jy en jou maat ook die regte doepa uit die natuur nodig om gesonde mense te wees. As jy dit nie ter wille van jouself wil doen nie, sorg dan dat jy genoeg oefening, voldoende voeding en genoeg slaap inkry — ter wille van jou maat.

  • Empatie en onselfsugtigheid

In ʼn suksesvolle huwelik besef ʼn paartjie dat dit nodig is om soms empaties te wees en aan mekaar se behoeftes te voldoen. Dit beteken dat jy in ag sal neem dat hy laat moes werk en dus nie van hom sal verwag om vir die baba op te staan nie. Hy weer, weet dat jy aan die einde van jou kragte is en bied aan om die kinders te bad.

  • Bereidwilligheid om te gee

In ʼn suksesvolle huwelik weet die huweliksmaats dat dit lekkerder is om te gee as om te ontvang. Hulle gee onvoorwaardelike liefde, sorg, omgee en hulself — nie omdat hulle iets terugverwag nie, maar omdat hulle dit graag wíl doen. 

  • Sensitiwiteit oor taai kwessies

ʼn Wyse paartjie is versigtig rakende sensitiewe kwessies en oorweeg die voor- en nadele goed. As Manlief wil immigreer en jy nie daarvoor kans sien nie, sal goeie lewensmaats die saak oorweeg, dit goed deurtrap en alles in ag neem voordat daar ʼn besluit geneem word.

  • Verdraagsaamheid teenoor familie

In ʼn gesonde huwelik verdra ʼn paartjie mekaar se familie, ten spyte van hul foute. Jy kan dalk nie sy pa uitstaan nie en sy boetie, ʼn regte afloerdertjie, gee jou die creeps, maar jy verdra hulle en doen moeite met hulle, ter wille van hom en jul huwelik. 

  • ʼn Sin vir humor

In ʼn gesonde huwelik deel ʼn paartjie ʼn niedestruktiewe en behoorlike sin vir humor. Hoe saai sal die huwelik nie wees as jy nooit met Manlief ʼn grappie kan maak, of met ʼn vonkel in die oog vir hom kan loer nie. Humor is noodsaaklik vir enige verhouding en daarsonder is die moeilike dae maar bra moeilik.

  • Tevredenheid met toegeneentheid

Vir hom is ʼn piksoen per dag dalk genoeg, maar jy het veel meer nodig betreffende aanraking en drukkies. In ʼn suksesvolle huwelik besef ʼn man dat sy vrou dit nodig het om te floreer en pas hy ter wille van haar tevredenheid aan.

  • Fokus op die toekoms

Gelukkige paartjies fokus nie op foute uit die verlede nie, maar kyk na verskillende maniere om soortgelyke probleme in die toekoms uit te skakel. Hulle leer om mekaar vir hul foute te vergewe, te vergeet en aan te beweeg.

Wat sê God oor ʼn groeiende huwelik?

Die huwelik was nie bedoel om gekompliseerd te wees nie, en ʼn gelukkige huwelik is binne bereik van bykans almal. “Dit is ook wat die meeste mense gelukkig, en hul lewens die betekenisvolste, produktiefste en die mees bevredigende sal maak, omdat dit deel van God se plan vir die mensdom is,” skryf Maria Fontaine in haar internetartikel, Qualities of a good marriage.

Deur die volgende dinge te doen kan jy jou huwelik verder versterk:

  • Plaas God eerste en sluit Hom in elke opsig in. Dit is ʼn spirituele wet dat alles in plek val as ʼn paartjie Hom eerste plaas.
  • Wees onselfsugtig. Selfsug is die wortel van die meeste huweliksprobleme, en ʼn huwelik tuimel vinnig inmekaar as jy net aan jouself dink.
  • Wees bereid om probleme te herken en te snoei. Die meeste probleme wat huwelike laat faal, raak buite beheer, omdat paartjies nie gou genoeg daaraan aandag gee nie.
  • Kommunikeer. Goeie kommunikasie is noodsaaklik as ʼn mens mekaar se behoeftes wil verstaan en daarop ag wil slaan.
  • Vergewe mekaar. ʼn Bereidwilligheid om mekaar te vergewe, is die sleutel tot ʼn gesonde, soliede huwelik. Wees bereid om jou maat om verskoning te vra, en dit sal vir jou maat ook makliker wees om jou te vergewe.
  • Wees ondersteunend. Fokus op jou maat se goeie eienskappe, eerder as om hom of haar te verkleineer en te kritiseer.
  • Werk saam. Bespreek dinge en stem saam oor doelwitte en prioriteite. Die Bybel sê dat twee beter as een is.
  • Neem jou maat in ag. Deur mekaar se gevoelens, voorkeure en afkeure in ag te neem, sê jy op die oortuigendste manier: “Ek is lief vir jou”. Dit verlig ook spanning en speel klaar met wrywing.
  • Wys jou liefde. Soveel huwelike misluk weens ʼn tekort aan toegeneentheid. Soms spreek aanraking, soen en drukkies harder as woorde. Dit is fisieke manifestasies van innerlike gevoelens.
  • Plaas ʼn hoë premie op gelykheid. Dit beteken om mekaar by besluitneming, kinderopvoeding en finansiële en huishoudelike verantwoordelikhede te betrek, maar dit gaan ook dieper, naamlik oor waardering en respek vir mekaar, sodat elkeen se kragte na vore kan tree.
  • Bewonder jou maat. Verskerp jou waardering van die persoon met wie jy getrou het en kyk hoe hy of sy voor jou oë blom.
  • Reik uit na ander. Selfs al voel julle hóé gemaklik in mekaar se geselskap, het julle jul eie vriende nodig wat julle kan help om op mekaar te groei.
  • Wees optimisties. Min dinge kan ʼn huwelik so onderkry soos pessimisme, en om op die ergste te fokus en voortdurend te kla.

As jy jou toerusting mooi oppas, kort-kort hersien en gereeld diens, jou belangrikste elemente in ag neem, jou lisensie respekteer en jou identiteit behou, kan jy ʼn tuinier wees wat jou huwelik snoei om die mooiste opbrengs na vore te bring. Moenie dink dat ʼn suksesvolle huwelik net vir die ‘gelukkiges’ beskore is nie. Die geheim is om die ‘eie ek’ eenkant te skuif, op die vennootskap te fokus en die vennootskap as ʼn brose instelling wat sorg nodig het, te beskou.

Werk dus aan groen vingers in jul verhouding en kyk hoe ʼn immergroen huwelik voor jou oë ontvou …

Addisionele bronne: http://www.umaryland.edu; http://ezinearticles.com; http://www.activatedministries.org