Toe Nadine vir Deon ontmoet het, was sy salig onbewus van die pad wat vir hulle voorgelê het. Een van dwelmmisbruik, leuens, seksuele ontrouheid en ‘n lang pad na herstel. Hoe hervestig ‘n mens ‘n vertrouensband as dit eers gebreek is?

Nadine* het ‘n kindertyd gehad wat jy niemand toewens nie. Op tweejarige ouderdom is sy deur haar biologiese pa se broer verkrag. Haar pa het haar ses maande later verlaat en op nege-jarige ouderdom is sy gemolesteer deur ‘n vriendin se oupa. Sy was in tien verskillende skole en het in Bronkhortspruit gematrikuleer. Dit was hier, op 24, toe sy vir die eerste keer haar biologiese pa ontmoet het.

Dit was ook dié jaar wat sy vir die eerste keer vir *Deon ontmoet het. Sy en ‘n vriendin het hom raakgeloop in ‘n parkie. Hy het na Nadine gekyk en gevra: “En wie is dié?”. Nadine vertel: “Deon het soos Johnny Depp gelyk, met sy lang hare, snor en bokkie-baard. Ek kon nie wag om myself aan hom voor te stel nie.” Die aand het hy en ‘n vriend vir Nadine en haar vriendin gaan aflaai na hulle almal saam by ‘n klub gekuier het. “My vriendin het gesê: ‘Shotgun’, bedoelende sy sit voor. Toe hy agterin spring, het ek geweet hy voel dieselfde oor my.”

Twee maande later het Nadine by hom ingetrek. “Bronkhortspruit is klein en almal weet alles van almal. Die storie het by my pa uitgekom en ek was maar agtien jaar oud. Toe hy sê: ‘Solank jy onder my dak bly, mag jy nie vir Deon sien nie’ het ek besluit om nié meer onder sy dak te bly nie. Ek het my goed gepak en vir Deon gebel.”

Promosie

‘Sy buiwisselings was ‘n uitdaging’

Sy was bewus van die feit dat hy dwelms gebruik, maar het ook geweet hy probeer om dit te los en is nooit blootgestel aan sy gebruik nie. Hy was egter nie ‘n maklike persoon om mee saam te leef nie. Buiwisselings was aan die orde van die dag. “Hy was manipulerend en het my keer op keer laat glo hy gebruik nie dwelms nie. Hy het ook gesê die feit dat ek hom verdink, maak hom seer.”

Die een oomblik sou hy liefdevol optree, en die volgende oomblik het hy met Nadine baklei en gesê dat sy hom nie liefhet nie. “Hy het gesê ek haat hom en ek verneuk hom. Hy was ‘n moeilike persoon om mee saam te leef en het baie dieselfde simptome as ‘n bipolêre depressie-lyer getoon.”

Hulle het vir twee jaar by Deon se ma-hulle gewoon vóór hy ‘n werk kon kry en het vir sowat ‘n jaar in ‘n woonstel gebly toe Nadine swanger geraak het. Hulle is onder druk van die familie in die hof getroud.

Ons emosionele keerpunt

Toe hulle egter drie maande saam was, het ‘n ernstige vertrouensbreuk tussen hulle plaasgevind. Sy het agtergekom dat hy elke aand presies om middernag badkamer toe verdwyn. Een aand het sy vyf oor twaalf by die toilet ingestorm. “Soos ek ingebars het, het ek gesien dat hy iets langs die toilet teen die muur tooi. Ek het gemaak of ek hom nag soen en langs die toilet ingeloer … dit was ‘n naald en inspuiting. Op die tafel voor hom was ‘n heroïen-papietjie – iets wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie – en ‘n lemmetjie wat hy gebruik om die laaste heroïen van die sakkie af te krap.”

‘n Pad na fisieke herstel

In haar vorige dorp, Newcastle, was sy slegs blootgestel aan dagga. “Toe kom ek in Bronkhorstspruit en dit het gevoel asof elke twee persoon aan heroïen, of CAT of kokaïene verslaaf is. Ek het niks beproef nie ,omdat ek ‘n baie verslawende persoonlikheid het.” Toe sy Deon konfronteer, het hy gesê hy sal nie kan skoon kom sonder haar nie. Sy het nietemin haar tasse gepak en haar ouers (haar ma en stiefpa)  gebel. Deon het haar gesmeek om by hom te bly. Hy het vir die eerste keer erken dat hy aan dwelms verslaaf was. “Ek het vir hom gesê ek gaan nie my lewe vir hom weggooi nie …” Sy het tog besluit om te bly en hom te help om te rehabiliteer.

Sy het hom dokter toe geneem en toe begin die lang pad waar sy soos ‘n kinderoppasser teenoor hom moes optree. Die medikasie wat vir hom voorgeskryf het, het hom verskriklik siek gemaak. “Selfs ek het een of twee keer oorweeg om maar net vir hom heroïen te gee sodat hy beter voel, maar dit het in my kop gebly dril dat die dokter gesê het, hy kan sterf as hy heroïen saam met die medikasie gebruik.” Sy het hom daagliks getoets.

Die ergste van alles, vertel Nadine, was die onttrekkingssimptome. “Dit is waar ek begin bid het …” Sy vertel dat die dokter gewaarsku het: ‘Jy sal voel jy gaan dood, maar as jy kan deurdruk, sal dit beter gaan.’ Hy sou daagliks alleen by sy ouers se huis bly, terwyl Nadine gaan werk het. “Ons het net bly bid dat die medisyne hom siek genoeg maak, sodat hy nie kan dorp toe loop nie. Hy het nie ‘n selfoon gehad nie en ons het 15km buite die dorp gewoon (by sy ouers).” Sy het gewerk en saans sou sy die nagevolge van die onttrekking trotseer en skoonmaak tot eenuur soggens. Nadine het hom weekliks en later maandeliks getoets – tot hy skoon was.

Het hy in sy rehabilitasie-tydperk geswig? Ja, een keer. “Hy het ook gejok oor waar hy die geld vandaan gekry het om die dwelms te koop. Hy het byvoorbeeld sy ma-hulle se mikrogolf-oond verpand vir R30 – dit is wat ‘n sakkie heroïen kos. Hy het ook self heroïen verkoop en hy het my verkul.”

Addisionele ontrouheid

Ten spyte van die drama wat in haar lewe ontvou het wat deur dwelms veroorsaak het, voel Nadine vandag die ergste was sy seksuele ontrouheid aan haar. “Hy en ‘n dame het net foto’s vir mekaar gestuur – tot die ‘dame’ erken het ‘sy’ is ‘n man en Deon afgepers het: Hy moes R3000 neersit, of al Deon se foto’s sou op Facebook verskyn.”

Die dag in die badkamer, toe Nadine gedreig het om haar goed te pak, het Deon sy keerpunt beleef. Sy het hom tough love gegee. “Ek was die enigste een wat hom nie jammer gekry het nie en het gereeld gesê ek gaan loop as hy nie sy dinge agter mekaar kry nie.” Vandag leef sy steeds met Deon se leuens.

“Ek vang hom gereeld uit en ek glo niks wat hy my vertel, tensy hy dit kan bewys nie. Hy probeer my vertroue terugwen, maar hy is reeds in so ‘n gewoonte om te jok dat hy dit steeds doen. Later voel hy skuldig en vertel maar die waarheid …”

‘n Pad na emosionele herstel

Wat het haar laat besluit om deur te druk, ten spyte van sy leuens? “Ek moet eerlik sê die laaste dwelm urien-toets wat gewys het hy is al ‘n jaar skoon, het my hoop gegee vir ons. My vertroue is nog nie heeltemal herstel nie, maar ek kan sien hy probeer regtig hard om nie te jok nie – veral ná ek vir hom gesê het ek sal minder kwaad wees as hy doodeenvoudig die waarheid praat.” Vra jy Nadine wat hulle deur hierdie proses gelei het, en steeds lei, antwoord Nadine: “Kommunikasie en eerlikheid is koning. Lei deur jou voorbeeld en practice what you preach …”

Hulle het verlede jaar ‘n week lank geestelike berading ontvang waar hulle tot die besef gekom het dat hulle beter met mekaar moet komunikeer. “Ons was ook aan die einde van verlede jaar by ‘n pastoor wat ons baie help. Sy fokus is meer op die leuens en om ons verhouding te bou.” Deon woon ook privaatsessies by.

Sy glo hul huwelik is nou op die regte pad. “Ek hoop nie dis net ek wat vir myself probeer oortuig nie, maar dit voel al beter. Ek soek steeds bewyse vir alles wat hy my vertel en hy verstaan ook hoekom. Ek het ook foute en wou al selfmoord pleeg … maar ek glo ons is oor mekaar se pad gestuur om mekaar te red. Hy is nou my steunpilaar en het soveel potensiaal. Hy werk nou al vyf jaar lank by dieselfde maatskappy (waar hy ook gereeld getoets word) en sy bestuurder stuur vir my sy uitslae. So, ek weet, of hoop, die dwelms gaan nie weer gebeur nie, want ek weet dit pla hom …”

Hoe hanteer jy ‘n maat wat lieg?

Ontrouheid kan verskillende vorme aanneem, maar die uiteinde is altyd dieselfde: Jy voel ontnugter, seergemaak en wantrouig of agterdogtig. Ontrouheid kan ‘n huwelik vernietig en daar is baie redes waarom ‘n maat ontrou is of leuens vertel. Wanneer dit so lank vir jou maat ‘normaal’ was om die waarheid vir jou weg te steek, kan dit moeilik wees om die patroon te verbreek. Huwelikskenner Sheri Stritoff gee die volgende wenke op www.verywellmind.com:

  1. Aanvaar jou gevoelens. Jy sal skok, vrees, pyn en depressie ervaar. Verwarring is normaal. As jy eers uitgevind het jou maat was ontrou (in watter vorm ookal) sal dit voel asof jy wipplank ry en dit sal tyd neem vir jou om die pyn te verwerk. Moenie verwag dat dit oornag sal verdwyn nie. Jou huwelik het verander en jy het nodig om te rou oor die verhouding wat julle gehad het.
  2. Wraak is nie die antwoord nie. Ja, jy gaan voel asof jy hom wíl vermoor, kastreer of martel! Maar om hom sleg te sê op sosiale media, gaan niks tot die saak bydra nie. Ook nie om self ‘n affair aan te knoop nie. Dit kan jou dalk kortstondige bevrediging wees, maar sal jul huwelik net op die lange duur verder beskadig.
  3. Versorg jouself. Spanning kan baie fisieke reaksies meebring – naarheid, diarree, slaapprobleme, bewerigheid, eetsteurnisse ensomeer. Probeer jou bes om gesond te leer, genoeg te slaap en oefening in te kry.
  4. Moenie die wereld blameer nie. Ook nie jou maat nie. En ook nie jouself nie. Moet ook nie die slagoffer speel nie. Selfbejammering gaan niks aan die saak doen en jou net nóg meer hulpeloos en sleg oor jouself laat voel.
  5. Hou jou kinders uit die saak. Dit is tussen jou en jou maat.
  6. Soek na berading. Moenie probeer om op jou eie hierdeur te kom nie. Praat met ‘n berader wat neutraal is en jou kan help om insig te kry. ‘n Ervare terapeut kan jule ook help om beter te kommunikeer en jul gevoelens van skuld en skaamte te prosesseer.
  7. Raak prakties. As die rede vir jul vertrouensbreuk ‘n affair was, dink prakties. Wat is jou volgende stap? Laat toets jouself vir seksueel oordraagbare siektes en kry jou ondersteuningstelsel in plek.
  8. Neem dit een dag op ‘n slag. Ontrouheid (in welke vorm) is een van die moeilikste uitdagings wat ‘n huwelik kan trotseer, maar dit beteken nie noodwendig dit is die einde nie. Julle kan deur die nagevolge werk en soos wat tyd verloop, sal julle duidelikheid kry oor wat in die volgende fase van jul huwelik moet gebeur.
  • Skuilname gebruik

Artikel deur Annelize Steyn

Indien jy opsoek is na meer sulke artikels KLIEK HIER vir nog INTIEM ware verhale!