Weet jy regtig wat in jou tiener se wêreld aangaan? Die druk is groot op jong mense om hul maagdelikheid prys te gee. En dikwels loop al die euwels hand-aan-hand. Sigarette, dwelms, drank, losbandigheid. Samantha Coetzee was vasgevang in ’n maalkolk van selfvernietiging . . . dit kan jou kind wees.
Ek onthou die aand toe ek in die bad afgesak het, met my kop onder die water, en met alles in my gewens het dat my ouers wil skei. Daar was nooit die liefde wat tussen man en vrou moet wees nie, en daar was nooit daardie “familiegevoel” in ons huis nie.
My wens het waar geword en ek was elf jaar oud toe my ouers geskei is. Hoewel ek geglo het die egskeiding het my nie geraak nie, was daar ’n warboel emosies wat ek moes konfronteer en wat vernietigende gevolge op my lewe gehad het.
Direk ná die egskeiding het ons by my grootouers gaan bly, want my ma kon nie bekostig om ons te onderhou nie. My pa het ’n nuwe meisie gehad en dit was vir my vreeslik dat hy my ma met niks gelos het, terwyl hy in ’n mansion ingetrek het en ’n grand kar in die garage getrek het. Hy het nie onderhoud betaal nie, maar self in weelde geleef. Hy sou dikwels sê hy kom ons haal vir ’n naweek en het dan net nooit opgedaag nie. Dit het my laat wonder of ek en my sussie enigsins iets vir hom beteken het. Die gevoel van verwerping wat ek gehad het, het ’n groter impak op my lewe gehad as wat ek gedink het.
Toe my ma se pensioen uitbetaal, het sy ’n huis gekoop en ons kon weer by haar gaan bly. Ons het stad toe getrek, na ’n goeie woonbuurt, en dit is hier waar dinge woes begin skeefloop het. Ek het nuwe maats gemaak en my eksperimente het by sigarette begin. Een aand het ek oudergewoonte op my ma se skoot gelê terwyl sy my wenkbroue pluk en sy het gevra: “Het jy gerook? Daar is seker niks wat ek daaraan kan doen nie, maar ek gaan nie vir jou sigarette koop nie en jy gaan nie in my huis rook nie.”
Daarna het ek met drank begin eksperimenteer. Op my 16de verjaardag het ek ’n outjie ontmoet op wie ek verskriklik verlief geraak het. Kort daarna het ons een aand by ’n restaurant gekuier, waarna ons na sy huis toe is. Ek was so dronk daardie aand dat ek nie kon loop nie en hy het gesê hy gaan my in die bed sit sodat ek nie buite hoef te sit en slaap nie. Hy het my na sy kamer toe geneem en die laaste wat ek kon onthou, was sy blou lakens . . .
Toe ek in die middel van die nag wakker word, het ek onmiddellik besef hy het my verkrag. Ek het deur die huis begin loop op soek na ’n bad, toe ek in hom vasloop. Hy het gevra hoekom ek huil en ek het geantwoord: “Ek het seer, wat het jy met my gedoen?” Waarop hy gesê het: “Dit het gelyk of jy dit geniet het.” Daardie aand het hy my huis toe geneem op sy motorfiets. Hy het gejaag en ek het gebid om nie af te val nie.
Ek wou só graag vir my ma vertel wat gebeur het. Sy is my beste vriendin, maar ek was bang vir wat sy gaan dink. Ek het tog na haar toe gegaan en gesê daar het die vorige aand iets met my gebeur. Dat ek gekuier het en met hierdie outjie gevry het . . . Haar gesig het geval en sy het dadelik begin huil. Ek het besef sy dink ek het seks gehad en was besig om uit te freak. Toe sê ek net: “Moenie worry nie. Ek het nie seks gehad nie.” Sy was verlig, maar ek het nie die moed gehad om die waarheid te vertel nie. En al wat ek so graag wou sê, was: “Help my net, ma. Ek weet nie wat om met myself te doen nie.”
Drie maande later het ek weer die moed bymekaar geskraap om met my ma te praat. Ek het gesê: “Onthou mamma, daar was iets wat ek wou vertel . . . ek wil ma nou vertel, maar moet my asseblief nie weer dieselfde reaksie gee as laas nie.” Ek het haar vertel en sy het dit heeltemal anders hanteer as die vorige keer. Sy het my hand gevat en saam met my gehuil. Gesê dat alles okay is en ek nie bekommerd hoef te wees nie. Dat ’n slegte ding met my gebeur het omdat ek op die verkeerde tyd by die verkeerde plek was en so baie gedrink het.
Ek was 16 (in 2006) toe my depressie begin het. Ek het daardie Desember ’n ou ontmoet en met hom begin uitgaan. Ek het maklik my maagdelikheid (gewillig) prysgegee. Dit was nie vir my traumaties nie . . . inteendeel: Ek het besluit dat ek elke mansmens wat oor my pad kom, se lewe sal hel maak oor die een wat myne omvergewerp het. Ek het besluit om soveel as moontlik mans te “misbruik”. Wat het ek gedínk? Dit is bykans nie moontlik om ’n man seksueel te misbruik nie omdat hulle so anders dink as vroue en dit op die ou end ons is wat seerkry. Maar seks was my wapen. Ek was bekommerd oor siektes. Nie oor swangerskap nie.
Ek het later uitgevind dat die ou wat my verkrag het (kom ons noem hom Michael) baie dwelms gebruik het . . . maar ’n ou wat na die verkeerde dinge in die lewe neig, was nog altyd vir my meer aantreklik as iemand wat die regte pad loop. Hy het Cat gesnuif en heroïen gespuit en sy bad boy image was vir my onweerstaanbaar. Ek wou net vir hom gehad het en niemand anders nie. Ek is terug na hom toe en hy het my voorgestel aan dwelms.
Ek het seks gehad, gedrink, Cat gesnuif . . . soveel soos ek wou. In my graad 11 jaar was ek 75 dae afwesig van die skool. My ma het naderhand moed opgegee, want ek het elke keer vir haar gelieg – gesê ek was in die siekekamer of iewers, tot sy opgehou het om my te vra.
Dit was sleg dat sy ophou vra het. Ek was nog altyd iemand wat die grense getoets het. Ek wou kyk wat is die kans dat ek uitgevang word. So onderbewustelik het ek probeer aandag trek deur wat ek gedoen het. As die kans dat ek uitgevang kan word 70% was, het ek dit gedoen en as die kans vir uitvang kleiner was, het ek dit gelos. Ek hou van daardie adrenalien-rush en kon myself uit ’n storie uit jok.
Bogenoemde is bloot ’n greep uit Samantha se verhaal. Een van dwelmmisbruik en gevolglik ’n bad trip. Een van ’n meisie wat aan hewige depressie gely het en haarself met ’n Minora-lemmetjie gesny het. ’n Meisie wat handevol pille op ’n keer gedrink het en uiteindelik vir twee weke in ’n inrigting beland het.* Uiteindelik het die besef dat sy besig is om haar lewe te vernietig tot haar deurgedring. Sy het antidepressante begin drink en besef dat net God haar kan genees.
Ná my tyd in die inrigting het ek een of twee keer weer Cat gesnuif en dronk geword, maar nooit weer gevoel ek moet saam met ’n man slaap om gewaardeer te voel nie. Nou is seks voor die huwelik vir my heeltemal uit! Ek het geleer dat dit nie saak maak hoe lief ek vir ’n man is nie. Daardie halfuur se seks is nie die ure se pyn werd nie.
Vandag kyk ek terug en weet dat ek só gelukkig is. Ek was in verskriklike klubs waar mense openlik seks gehad het. En een keer het ’n ou by ’n klub vir my gewys wat hy in sy sak het – ’n geslagte kat. Waarna ’n meisie my genader het en gevra het of ek ’n glasie van die kat se bloed wou hê.
Te midde van al hierdie dinge wat ek aangevang het, het ek geweet daar moet iewers Lig in my lewe bly. Ek het geweet God bestaan en dat Hy my sal kan help. Dat ek net alles aan Hom sal moet oorgee. Maar ek wou eers my eie probleme probeer uitsorteer. Ek het geglo jy huil nie voor mense nie, want dit is ’n teken van swakheid. Vandag kan ek huil.
Ek voel gemaklik oor my verlede, waar ek voorheen só skaam gekry het. As ek nie daardeur gegaan het nie, sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie – op ’n plek waar ek ander jong meisies kan waarsku. Ek swot nou verpleegkunde en kry soms rillings as ek sien wat met my kon gebeur het. Ons het in die hospitaal iemand gesien wat ge-“OD” het op heroïen. Alles het begin ingee, want ’n mens is nie gemaak om te funksioneer met daardie hoeveelheid gifstowwe in jou lyf nie. Ek het gehuil oor daardie pasiënt, want ek het besef dat dit ek kon wees wat daar gelê het.
Wat ek graag vir tieners wil sê is:
1. Vermy voorhuwelikse seks soos die pes, want daar is nagevolge en wat ook al jy kies, dit gaan ’n groot effek op jou hê. Tydens daardie laagtepunt in my lewe was ek nie op geboortebeperking nie, want ek het net nie omgegee nie. Ek het seker al ’n honderd tuisswangerskapstoetsies gedoen, al het ek baie goed besef swangerskap is nie my grootste risiko nie. Daar is nie ’n kuur vir vigs nie. Sifilis gee jou breinskade en dan sterf jy. As jy muffins te vroeg uithaal, gaan dit ’n flop wees. Dieselfde met seks.
2. Niemand word gebore met ’n handleiding nie, maar hopelik het jy ’n Bybel. Vanjaar word ek 22 jaar oud en ek verstaan alles nog nie heeltemal nie. Die Bybel is soms vir my tricky, maar ek het wonderlike familielede na wie toe ek kan gaan met my vrae. Ek besef daar is baie jong mense daar buite wat nie dieselfde ondersteuningsnetwerk as ek het nie, maar iewers is daar iemand wat vir elkeen omgee en sal luister as jy praat.
3. Groepsdruk is baie magtig. Ek was nie altyd die victim nie. Ek het ’n slegte invloed op my vriendinne gehad en as ek gerook het, moes al my vriendinne rook. Ek weet dit is sleg as jou ouers jou vriende vir jou wil kies, maar hulle sien iets wat jy nie sien nie. Vriende het ’n verskriklike groot invloed op skoolkinders – selfs dié wat in die mooiste, Christelikste huise grootgeword het.
4. As die klub sê: “Geen onder 18’s”, of ná 12 uur mag niemand onder 23 daar kuier nie, mág jy nie. Hatfield Square is uit. Geen tiener behoort daar te kuier nie. Die hoeveelheid drug lords wat daar uithang, is skrikwekkend. Hulle is volop en ek kan nóú ry en ’n gram Cat in Hatfield gaan koop. Ek wou ook nog altyd Oppikoppie toe gaan, maar daar was elke keer iets wat my gekeer het. Ek het nog altyd gedink: “Dit is ’n bietjie rof vir my.”
Wat ek graag vir ouers wil sê is:
1. Dit is só belangrik dat ouers met hul kinders oor seks en pornografie praat, want kom ek wees eerlik: Die hoërskool is ’n hool. Elke jaar raak dit net erger. Daar is laerskoolkinders wat dwelms gebruik en meisies van 12 wat seks het. Dit is nodig vir ouers om op te lees oor al die gevare en met hul kinders te praat.
2. Die enigste ding wat my gekeer het om iets soos heroïen te spuit, was before en after foto’s van ’n meisie wat dit gedoen het. So soms werk ’n skoktaktiek.
3. Ouers moet ook bewus wees van hoe dit met hul kinders gaan. As jou kind verskriklik vinnig begin gewig verloor oor ’n tydperk van twee maande, moet jy weet dat die kans vir dwelmgebruik goed is. Dit neem jou eetlus weg en jy het baie energie. Maar as jy agt uur lank getrip het, is jy moeg en wil jy baie slaap.
4. Toe ek 16 was, het my ma my met ’n six pack by ’n partytjie afgelaai en self weer kom haal sodat sy kon sien ek lewe nog. Toe sy egter tot bekering kom, het sy heeltemal verander en baie streng geword. Ek was 17 en daardie skielike reëls was vir my net te veel. Dit het my al meer dramaties laat rebelleer, want ek het gedink: Laas jaar kon ek suip soos ’n vis, maar nou mag ek nie meer ’n druppel drink nie. Maar my behoud was dat sy altyd toeganklik was. Ek kon met haar praat.
*Skuilnaam gebruik.