Alkohol was dít wat tussen Herman du Preez en persoonlike geloofsgroei gestaan het. Toe hy uiteindelik die besluit neem om dié vyand af te sny, het dinge egter merkwaardig verander . . .

Promosie

“Sy drankmisbruik was altyd ’n probleem, aangesien ek baie konserwatief grootgeword het en hy baie liberaal. Ek het alles moontlik gedoen: Gehuil, gedreig en gemanipuleer. Later het ek gemaak of dit my net nie meer pla nie, maar ek het myself telkemale in situasies bevind wat ek nie kon hanteer nie,” vertel Michelle oor Herman se drinkgewoontes.

Uit ’n menslike oogpunt het sy genoeg rede gehad om hul huwelik te beëindig, vertel Michelle. Tog het sy bly hoop dat iets sou verander.

’n Herhalende siklus

Promosie

Herman sou vir maande ophou drink, maar daar was ’n duidelike drinkpatroon en hoe hard Michelle ook al probeer het om hom te verander, was sy pogings nét om haar gelukkig te hou en het hy spoedig weer in sy siklus verval.

“Ek het die beste voornemens gehad om, vir Michelle se onthalwe, op te hou. Maar ek het ook geglo ons huwelik en gesinslewe was goed genoeg in vergelyking met ander mense s’n. Ek was gemaklik met wie ek was en het geglo haar pogings om my te verander, was bloot konserwatiwiteit. Ek het nie raakgesien hoe my drankmisbruik my familie benadeel nie. Ek is ook nie eers seker dat dié besef my enigsins iets sou laat verander het nie! Dit het ’n volwaardige opdrag van God geverg om my te laat ophou.”

Hy en Michelle is al 16 jaar getroud. Hulle het ’n besigheid gehad wat goed gedoen het en gelukkige kinders, maar weens sy drankprobleem het hy agtergekom hoe hul huwelik, finansies en gesinslewe besig was om te ontrafel.

God het egter ’n plan met hulle gehad – een wat nie meer kon wag nie. Herman het agtergekom dat alkohol in die pad staan van ’n lewende verhouding tussen hom en God. “My drankmisbruik het dit onmoontlik gemaak vir God om my te kan gebruik.” Herman het geweet: Solank as wat hy aanhou drink het, sou sy gesin ’n duur prys betaal om saam met hom te wees.

 Om die bottel vaarwel te roep

Eers het Herman sy besluit vir homself gehou. Michelle vertel: “Hy was twee weke skoon voor dit in ’n gesprek duidelik geword het . . . Herman se onthouding het amper te goed gelyk om waar te wees. Sy familie het gewonder of dit my invloed was, maar hoe langer hy skoon was, hoe meer het ek die veranderinge in hom raakgesien.

“Hy het die kinders om verskoning gevra omdat hy soms dronk was in hul teenwoordigheid en ’n slegte voorbeeld vir hulle gestel het. Hy het gesê dat dit nie die lewe is wat God vir hom of vir ons gekies het nie. Dit was die eerste keer wat ek regtig geglo het in die verandering, wat andersins baie duidelik was.”

Herman en Michelle glo dat die keuse om op te hou nie net was sodat hulle ’n gelukkige gesin kon wees nie, maar ook dat hulle by ’n plek kon uitkom waar God hul gesin kon gebruik. Hulle het ’n pad vol openbarings oor wie God is, begin stap. Soos Matteus 6:33 sê: “Soek eers die koninkryk van God, en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Hul besigheid wat goed doen, gelukkige kinders en hul huwelik wat sterk staan. Dít was nie die keuse wat hulle gemaak het nie, hulle het eenvoudig gekies om God eerste in alles te stel. Die res het Hy kom byvoeg.

Skielik het dinge in plek begin val

Die voordele wat sy besluit ingehou het, was legio, vertel Herman. “Ek het skielik soveel meer tyd gehad om saam met my gesin en vrou te spandeer. Dit was goed vir my huwelik en goed vir my verhouding met my drie jong dogters. Dis duur om te drink, en skielik het ek geld gehad om al die gate te begin toestop en die finansiële druk te verlig.

“Die verantwoordelikheid om jou eie besigheid te bestuur én ’n sukses daarvan te maak, het vir my ’n prioriteit geword. Om weg te hardloop van swak besluite was nie meer ’n opsie nie. Dit was lekker om vir my gesin te kon sorg.”

’n Jaar later vertel Herman dat God die keuse voor hom neergesit het, maar dat die grootwordproses ’n daaglikse pad is wat hy saam met God stap. “Selfs mense wat ons al jare lank ken, vra hoe ons dit gedoen het. Ek glo eenvoudig dat dit wat jy insit, dit is wat jy gaan uitkry. My hart is uitverkoop aan God en die beginsels in Sy Woord is die padkaart wat elke dag bepaal.

“Baie mense dink dat alles nou vir ons reg uitwerk – wat nie waar is nie. Ons is net vir die eerste keer op ’n plek waar ons God se hand in alles raaksien. Drank plak dalk ’n pleister, maar hou jou blind vir die geleenthede wat daar is vir God om sy goedheid te bewys.”

Herman en Michelle vertel dat hulle elke uitdaging tromp-op loop met ’n vertroue wat nie in hul eie kapasiteit lê nie, maar in die mag van God om alles ten goede te laat meewerk vir dié wat Hom lief het. “Daar is vir my niks mooier as om te sien hoe lief Herman vir God is nie en daarin lê my sekuriteit as sy vrou.”

Herman sê dit is vir hom ’n verligting dat sy lewenskeuses nie meer sy vrou negatief beïnvloed nie, maar haar geloof in God versterk. “Ons lewenspaadjie is nog lank nie verby nie, maar ons het ’n lewensgehalte wat aansteeklik is. En dít is hoe God ons gebruik.”

Deur – YOLANDA WESSELS