Ses oplossings om julle huwelik onbreekbaar te maak
Pieter en Annelie was net vier jaar getroud toe dit begin voel het of hulle liefde besig was om uitmekaar te rafel. Die eerste twee jaar was vol passie en drome, maar toe kom die werklikheid: finansiële druk, ’n baba wat hul nagte kort geknip het, en die spanning van werk en familie. Klein argumente het groot geword. Een aand, ná nog ’n hewige rusie, het hulle in stilte langs mekaar gesit – nie vyande nie, maar ook nie regtig vriende nie.
“Ons kan nie so aangaan nie,” het Pieter uiteindelik gesê. Annelie het net trane afgevee en geantwoord: “Ek wíl hê ons moet werk. Ek wíl hê ons moet hou.”
Daardie aand het hulle ’n besluit geneem: hulle huwelik gaan nie breek nie. Hulle wil bou aan iets wat Onbreekbaar is – nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit die moeite werd is. Hulle het weer begin praat, weer begin bid, weer begin vashou. Dit was nie ’n kitsoplossing nie, maar ’n keuse, dag vir dag. Vandag vertel hulle hul storie nie as dié van ’n perfekte huwelik nie, maar as dié van ’n sterk huwelik – een wat storms getrotseer het en bly staan.
En miskien herken jy iets van jou eie huwelik in hulle storie. Want elke paartjie word getoets. Iets gaan breek – dalk die begroting, dalk tyd saam, dalk selfs vertroue. Maar dit hóéf nie die huwelik self te breek nie. Met liefde, geloof, genade en toewyding kan paartjies saam bou aan iets wat wél hou: ’n huwelik wat ONBREEKBAAR is.
Daarom deel ons vandag ses van die mees algemene huweliksprobleme – en praktiese oplossings om dit saam te oorkom.
- Die grootste leuen oor die huwelik
Een van die mees algemene leuens wat paartjies glo, is dat die huwelik alles oor die self gaan. Dit word selde hardop gesê, maar dit wys in die klein dinge – hoe besluite geneem word, hoe met mekaar gepraat word, en of daar regtig gegee word of nie.
Die gevaar is dat die huwelik begin lyk soos ’n kontrak: “Ek gee solank jy gee.” Maar God het nooit bedoel dat die huwelik ’n transaksie moet wees nie – Hy het dit as ’n verbond ontwerp. ’n Verbond beteken om toegewy en lief te bly, selfs in onvolmaaktheid. Dit is geanker in God se liefde.
Genesis 2:24 sê: “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees.” En in Genesis 1:28 lees ons: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…’” Hier sien ons God se plan én sy opdrag: eenheid, vrugbaarheid, en ’n huwelik wat sy liefde weerspieël in die wêreld.
Die goeie nuus is: die las van geluk lê nie net op een persoon se skouers nie. In God word ware vreugde en liefde gevind – en uit daardie bron vloei die vermoë om mekaar te dra. ’n Kontrak kan breek, maar ’n verbond hou. Só word daar gebou aan iets onbreekbaars.
- Vergelykings in die huwelik
Vergelykings is ’n strik. Dit begin klein, amper onskuldig, en voor lank steel dit ons vrede en vreugde. Soms begin dit sommer vroeg in die oggend, wanneer ons op ons selfone is. Jy sien iemand anders se glimlagte en vakansies op sosiale media, en skielik lyk jou eie lewe en jou huwelik nie goed genoeg nie.
Daar is drie maniere waarop vergelyking paartjies vang:
- Om jou maat met ander te vergelyk.
Opmerkings soos: “Sy is maerder,” of “So-en-so se man is so sjarmant” mag lig klink, maar dit maak seer. Dit skep ongesonde verwagtinge en laat jou maat voel hulle is nie genoeg nie. - Om jou geluk met ander paartjies s’n te vergelyk.
Sosiale media wys net hoogtepunte – nooit die hele prentjie nie. Jy dink: “Hulle baklei seker nooit,” maar jy sien nie hulle trane of hulle stil nagte nie. As jy jou alledaagse realiteit meet aan iemand anders se hoogtepunte, verloor jy elke keer. - Om jou prestasies met dié van ander te vergelyk.
Huise, motors, geleenthede… vergelyking plaas ons op wêreldse maatstawwe van status in plaas van op God se waardes.
Jeremia 9:23–24 sê: “Moet nie roem op wysheid, krag of rykdom nie… maar daarin dat jy My ken.” Dit is die enigste vergelyking wat saak maak – dat ons nader aan God leef en Hom ken.
Vergelyking breek af. Dankbaarheid bou op. Kom ons hou op vergelyk – en bou iets onbreekbaars.
- Eensaamheid in die huwelik
Mense dink soms: “Hoe kan jy eensaam wees as jy getroud is?” Maar dit gebeur meer as wat ons besef. Twee mense deel ’n huis, maar innerlik voel een of albei alleen.
Psalm 34:18 sê: “Die Here is naby die gebrokenes van hart.” Dit beteken: jy is nooit werklik alleen nie – Hy is naby, selfs in daardie plek van leegheid.
Maar prakties vra dit stappe:
- Eerlike kommunikasie. Jy moet dit kan sê: “Ek voel alleen.” Só begin ware intimiteit herstel word.
- Regte prioriteite. As daar nooit tyd is vir net julle twee nie, begin eensaamheid insluip. Skeduleer dit – moenie wag vir geleenthede nie.
- Christelike gemeenskap. Sluit aan by ’n gemeente en ‘n selgroep. Nooi ’n ander paartjie vir koffie. Isolasie lei tot eensaamheid.
- Berading of mentorskap. Dit is nie ’n teken van swakheid nie, maar van wysheid.
- Onthou dat Jesus naby is. Dis nie net ’n mooi gedagte nie – dit is lewende waarheid.
Eensaamheid hoef nie die laaste woord te hê nie. Kom ons kies weer konneksie en tyd saam – en bou iets onbreekbaars.
- Skoonfamilie
Ai, selfs die wonderlikste skoonfamilie kan soms spanning bring. Baie paartjies ervaar dit: jy voel vasgevang tussen jou maat en jou familie.
Maar Genesis 2:24 sê: “’n Man sal sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees.” Die huwelik is ’n unieke eenheid – dit is man en vrou wat een word, nie families wat almal inmekaar smelt nie.
Praktiese sleutels:
- Vorm ’n eenheid. Stem saam voordat julle iets vir die familie sê.
- Stel gesonde grense. Dit kan ongemaklik wees, maar dis nodig om die huwelik te beskerm.
- Voer moeilike gesprekke met deernis. Spreek dinge eerlik aan, maar met respek.
Skoonfamilie-verhoudings kan uitdagend wees, maar wanneer paartjies saamstaan, kan selfs daardie druk hulle nie breek nie. Hulle bou ‘n onbreekbare huwelik.
- Grense in die huwelik
In Bybelse tye was ’n stad sonder mure kwesbaar vir aanvalle. Net so is ’n huwelik sonder grense weerloos teen spanning, versoekings en misverstande.
Grense beskerm wat kosbaar is.
- Tydgrens. Beskerm julle tyd saam – moenie net langs mekaar op julle fone wees nie, maak doelbewus tyd vir gesels en saam dinge doen.
- Versoeningsgrens. Kies om uitdagings deur te werk eerder en by ‘n oplossing te kom. Niks wat onder die mat ingevee word bly daar nie.
- Teenstander–Advokaat grens. Maak seker jy het meer mense om julle wat julle opbou as wat julle afbreek.
Gesonde grense skep ruimte waarin liefde kan groei. Kom ons stel die regte grense – en bou iets onbreekbaars.
- Verantwoordelikhede deel
Wie maak kos? Wie betaal die rekeninge? Wie tel die kinders op? Hierdie klein goedjies kan maklik groot spanning veroorsaak.
Die geheim lê in:
- Kies vrygewigheid bo telling hou. Nie “Ek het dit gedoen, nou is dit jou beurt” nie, maar “Ek doen dit, want ek wil ‘n verskil maak.”
- Herstel jou begrip van liefde. Liefde is geduldig, vriendelik, en gee eerder as om te vat. Wanneer take met dié gesindheid gedoen word, word dit ’n daad van aanbidding.
- Raak prakties. Maak ‘n lys van wat gedoen moet word en maak saam plan om die klein jakkalsies nek om te draai.
Wanneer selfs skottelgoed en wasgoed ’n manier word om liefde te wys, bou jy iets sterker as net ’n huis – jy bou eenheid. Kom ons verander selfs huishoudelike take – in boustene vir iets Onbreekbaars.
Geen huwelik is perfek nie – maar elke huwelik kan sterk wees. Wanneer paartjies hierdie ses algemene uitdagings eerlik aanpak, en hulle fondasie op geloof, genade en goeie kommunikasie bou, word hulle liefdesverhaal nie net mooi nie – dit word onbreekbaar.
Met Jesus as hoeksteen kan julle saam die storms trotseer, die seisoene oorleef en ’n getuienis wees van ’n liefde wat bly staan.

