Goeie kommunikasie kan jou huwelik verander
Marius en Leandri was al ’n hele paar jaar getroud, maar daar was sekere onderwerpe wat hulle met tyd net nie kon oplos nie. Klein gesprekke het vinnig in argumente verander. Soms was daar skerp woorde wat diep sny, ander kere was daar net stilte — ’n koue muur wat naderhand swaarder gevoel het as enige rusie.
Een aand het hulle albei besef: dis nie die groot goed wat ons breek nie, dis hoe ons met mekaar praat — of nie praat nie. Hulle het besluit om ’n nuwe manier van kommunikeer te probeer: minder praat om my punt te bewys, meer luister om te verstaan. Stadig maar seker het hulle ontdek: wanneer jy regtig hoor wat jou maat sê, begin iets verander.
En dis die waarheid vir elke huwelik: kommunikasie is nie net woorde nie. Dis die sleutel tot begrip, tot nabyheid, tot eenheid. Sonder dit bou jy op die sand. Met dit, bou jy op ‘n rots.
Waar begin ons?
1. Begin by luister, nie praat nie
Goeie kommunikasie is minder oor wat gesê word, en meer oor luister om te verstaan.
- Sit jou foon neer, kyk jou maat in die oë, en wees teenwoordig.
- Herhaal terug wat jy gehoor het: “So jy voel eintlik oorweldig omdat…” – dit wys jy het regtig geluister.
2. Kies die regte tyd
Moet nooit belangrike gesprekke begin as een van julle moeg, honger of haastig is nie. Skep ‘n “heilige ruimte” – al is dit net 10 minute per dag – om rustig en sonder afleiding te praat. As jy oor iets belangrik wil praat, vra jou maat vir ‘n tyd “Lief, ek wil graag oor Kersfees saam met die familie praat. Sal jy my laat weet wanneer jy kan?”
3. Spreek die waarheid in liefde aan
Efesiërs 4:15 sê: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid praat, sal ons in alles groei…”
- Wees eerlik, maar sag.
- Gebruik “ek”-stellings: “Ek voel seergemaak wanneer…” in plaas van “Jy maak my altyd seer.”
4. Bou eerder as breek
Kommunikasie gaan nie net oor probleemoplossing nie – dit is die boustene van ‘n goeie verhouding:
- Sê dankie.
- Gee komplimente.
- Deel hoop en geloof saam.
- Maak tyd vir klets.
5. Bid saam
Dis die sterkste vorm van kommunikasie. Wanneer julle saam by God stil word, verander dit die atmosfeer. Hy bring sagtheid, wysheid en vrede wat julle eie pogings nie kan nie.
En tog – selfs al wéét ons ons moet beter luister en sagter praat, trap ons almal keer op keer in dieselfde slaggate. Dit is nie altyd die groot dinge wat skade doen nie, maar die klein reaksies in die hitte van die oomblik: ’n steek van kritiek, ’n vinnige regstelling, ’n verdedigende uitbarsting, of sommer net raad wat nie gevra is nie. Hierdie reaksies voel onskuldig, maar keer dat ons mekaar regtig hoor.
Dis presies hoekom die KKVR-metode so ’n kragtige hulpmiddel is. Dit wys watter patrone ons moet vermy – en hoe om dit met begrip en liefde te vervang.
Die KKVR-Kommunikasie Metode
Een van die grootste uitdagings in huwelikskommunikasie is nie wat gesê word nie, maar hoe daar gereageer word. Baie paartjies val keer op keer in dieselfde patrone sonder om dit te besef. Die KKVR-metode wys wat om te vermy en waarmee om dit te vervang.
Wat om te vermy:
- K = Kritiek
Kritiek sny diep en laat jou maat voel asof hý of sý die probleem is.
➡️ Vervang met: opregte belangstelling en erkenning.
Voorbeelde:
• “Ek voel nie gemaklik oor jou kollega wat altyd aan jou arm vat nie.”
– Reaksie van kritiek: “Jy’s net so jaloers soos jou ma.”
– Beter manier: “Ek hoor jy voel ongemaklik. Hoe kan ek dit beter hanteer?”
• “Ek voel jy luister nie regtig as ek praat nie.”
– Reaksie van kritiek: “Jy’s altyd so dramaties!”
– Beter manier: “Ek wil nie hê jy moet só voel nie. Hoe kan ek beter aandag gee?” - K = Korreksie
Wanneer iemand iets deel en jy reageer met ’n regstelling, voel hulle jy hoor hulle nie.
➡️ Vervang met: begrip en empatie.
Voorbeelde:
• “Jy het vanaand vir almal vier keer iets aangebied om te drink en net een keer vir my.”
– Reaksie van korreksie: “Ek’s seker dit was net drie keer.”
– Beter manier: “Ek hoor jy het afgeskeep gevoel. Ek wil jou altyd eerste stel. Wat sal vir jou beter wees?”
• “Die kos is klaar koud. Jy’s altyd laat.”
– Reaksie van korreksie: “Dis nie altyd nie – ek was gisteraand betyds!”
– Beter manier: “Ek hoor jy’s gefrustreerd. Wat moet ek eerder doen as ek sien ek gaan laat wees?” - V = Verdediging
Verdediging stuit enige gesprek.
➡️ Vervang met: erkenning van jou maat se gevoel.
Voorbeelde:
• Hy kom laat huis toe sonder om te laat weet, sy is ontsteld.
– Reaksie van verdediging: “Ek werk hard vir ons gesin – jy waardeer niks!”
– Beter manier: “Ek verstaan jy is gefrustreerd en bekommerd. Ek sal volgende keer regtig vroeër laat weet.”
• Sy sê: “Ek voel jy maak grappies oor my voor ander mense.”
– Reaksie van verdediging: “Dis net ’n grap, jy’s te sensitief.”
– Beter manier: “Ek wil nie hê jy moet seergemaak voel nie. Watter tipe grappies pla jou die meeste?” - R = Raad
Wanneer jy inspring om ’n probleem op te los, voel jou maat se emosie afgeskeep.
➡️ Vervang met: teenwoordigheid en ondersteuning.
Voorbeelde:
• Hy verloor ’n groot kontrak en deel dit.
– Reaksie van raad: “As jy net meer soos jou broer was…”
– Beter manier: “Hulle weet nie wat hulle verloor nie! Hoe kan ek help?”
• Sy sê: “Die kinders put my uit.”
– Reaksie van raad: “Jy moet net ’n beter program opstel.”
– Beter manier: “Ek kan sien jy’s moeg. Wat kan ek oorneem om te help?”
Praktiese oefening: praattyd en luistertyd
Kommunikasie werk die beste as daar ’n “praat-tyd” en ’n “luister-tyd” is. Wanneer een praat, luister die ander net. Geen onderbrekings, geen verdedigings. Net vrae om te verstaan. Dan word die rolle omgeruil. Só kry albei kans om gehoor te word.
Wanneer paartjies ophou reageer met kritiek, korreksie, verdediging of raad, en begin reageer met belangstelling, begrip en liefde, gebeur iets besonders: spanning verminder, misverstande word minder, en intimiteit word dieper.
Kommunikasie is die brug na ‘n beter huwelik. Luister om te verstaan, nie om te wen nie – en skielik is julle altwee saam aan die wenkant.

