Dit verg meer as wat in die normale persoon se raamwerk sit, veral as jy moes ontdek dat jou man méér as genoeg weet as dit by slaapkamertegniek kom. En nie omdat hy dit wat hy weet, in boeke gelees het nie …

Promosie

As jy jou huwelik wil laat werk, is dit nodig om te vergeet. Daar is báie dinge in ʼn huwelik wat agtergelaat moet word, en as dit by die verhouding tussen twee lewensmaats kom, is dit ʼn bedekte seën dat ʼn mens se geheue jou soms in die steek laat.

“Watwou”, beweer ʼn manlike kennis onlangs, “my vrou vergeet keer op keer die Bokke se name, en sal my herhaaldelik vra wie so pas die drie gedruk het, maar sy sal nóóít die eerste meisie wie ek gesoen het se naam vergeet nie. En ek was in standerd ses!” Mans is dikwels raadop omdat hul vroue ʼn selektiewe geheue het en (waarlik) met een karaktereienskap worstel — om ou koeie uit die sloot te grawe.

Miskien het jou maat ʼn kleurryke, seksuele verlede gehad en miskien nie. ʼn Verlede hoef nie noodwendig seksueel te wees om in die pad van ʼn geslaagde huwelik te staan nie. As jy gedurig voortborduur op hoe romanties jou kêrel altyd was, kan jy ʼn wig tussen julle indryf, omdat jou man kan voel dat hy nie met die skim uit jou verlede kan kompeteer nie. Mense wat voorheen getroud was, ervaar uiteraard ook probleme met die lewe wat hul maats agtergelaat het, en dit is moeilik om jouself nie met sy eksvrou te vergelyk nie — veral as sy steeds in die prentjie is en jy minderwaardig teenoor haar voel. Die ernstige probleme tree egter in wanneer een maat nie die ander maat sy seksuele verlede kan vergewe nie.

Promosie

Tanja (22) het vir Mark (29) ontmoet terwyl sy nog ʼn maagd was. Hy weer, was wêreldwyser en het drie langtermyn, seksuele verhoudings gehad voordat hy vir Tanja gevra het om te trou. “Aanvanklik was dit nie vir my so ʼn reuse probleem nie,” sê Tanja. “Ons het binne ses maande verloof geraak en getrou, en besluit om nie seksueel aktief voor die troue te wees nie, omdat dit vir my so belangrik was. Die probleem het egter ná ons troue ingetree. Omdat ek seksueel so onervare en regtig onseker was, kon ek nie help om oor Mark se vorige verhoudings te broei nie.”

Tanja het een van Mark se eksmeisies, ʼn model, genaamd Tina (31), goed geken. Wanneer hulle seks gehad het, het Tanja gedurig minderwaardig gevoel en gewonder of sy so “goed in die bed” soos sy vorige seksmaats was, veral omdat Tina so ʼn perfekte lyf en groter borste as sy gehad het en ook soveel ouer was. Eindelik het die probleem al groter geword en die verhouding bedreig. Die paartjie moes ʼn berader gaan sien en Tanja moes leer om die verlede te los waar dit hoort — in die verlede.

Amanda Coers, ʼn outeur, skryf op www.helium.com hoe sy en haar man een aand ná seks oor vorige seksuele ervaringe gesels het en sy die brandende vraag gevra het: “Saam met hoeveel vroue het jy voorheen geslaap ?”

Sy skryf: “Ons is twee jaar getroud. Ons het baie begrip vir mekaar se verlede. Ek was geskei toe ons mekaar ontmoet het en hy het sy rowwe dae as ʼn koshuisinwoner en kroegman gehad. Ons was nie engeltjies nie. Ons het nooit in mekaar se verlede gesnuffel nie, want dit het nie vir enigeen van ons saak gemaak nie.” Haar man het gebieg dat hy ʼn ‘late bloomer’ was en hulle het styf teen mekaar gelê en hul seksuele verlede gedeel.

Vir hierdie paartjie het dinge uitgewerk. Albei kon mekaar vir hul verlede vergewe. Amanda waarsku egter dat jy versigtig moet wees indien julle besluit om jul verlede te ontbloot. “Moenie spog oor vorige maats nie, deel doodeenvoudig jou stories en luister op ʼn liefdevolle manier en met respek na jou maat sʼn.” Verseker jou maat dat jy hom of haar liefhet, dat die verlede nie saakmaak nie, maar dat julle wel op die oomblik saam is.

Amanda skryf dat sy nooit sal vergeet wat haar man vir haar vertel het die dag toe hy haar gevra het om met hom te trou nie. Dit was: “Wat ookal gebeur het, dit was alles deel van die reis wat ons bymekaar gebring het.”

Allen Teal, ook ʼn skrywer op www.helium.com stem hiermee saam. “Elke lewensmaat kom met ʼn bepaalde verlede. Dit is hoe daardie persoon by die hede uitgekom het. Hoe jy met daardie verlede omgaan, is ʼn bepalende faktor van hoe sterk die huwelik sal word.

“Seksuele ervaringe — of die tekort daaraan — uit die verlede kan ʼn moeilike probleem word om te hanteer. As albei maats reguit en eerlik oor hul seksuele verlede is, behoort dit regtig nie ʼn probleem in die huwelik te wees nie, tensy een maat besluit om daardie vorige verhoudings weer te laat vlamvat.”

Daarteenoor, meen hy, dat sekere ervaringe wat doelbewus en met ʼn bepaalde rede weggesteek is, in ʼn volwaardige probleem kan ontwikkel as dit wel die dag na vore kom.

Die situasie kan vererger as een party ʼn verhouding gehad het terwyl julle vas uitgegaan het … en die ander persoon vind eers in die huwelik hiervan uit. “Dit is egter beter om te onthou dat die verlede in die verlede moet bly. Fokus op die feit dat vorige ervaringe nie saak maak nie, en dat jou maat jou as lewensmaat gekies het.”

ʼn Verlede kan groot probleme veroorsaak as jou maat dit gebruik om jou te laat voel dat jy nie die mas opkom nie, of as jou maat dreig om op vorige weë terug te val as jy nie jou sokkies optrek nie. In so ʼn geval flikker die rooi ligte!

Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog sê: “ʼn Mens moet goed oor die besonderhede van vorige seksuele ervaringe besin voordat ʼn mens dit met jou maat deel. Te veel detail kan dalk verkeerd geïnterpreteer word en later struikelblokke veroorsaak.

“Dit is ook belangrik om nie jou maat met vorige verhoudings te vergelyk nie — nie op emosionele, fisieke of seksuele vlak nie. Fokus eerder op positiewe terugvoer oor die eienskappe wat jou huidige maat het. Gereelde, positiewe terugvoer kan wondere verrig om jou huidige maat se selfvertroue te versterk en haar/hom van jou absolute lojaliteit te verseker, ten spyte van enige vorige verhoudings.” Wilmé meen dat die verlede beslis ook ʼn bedreiging kan inhou, indien jou maat gedurig daarna terug verwys.

Op die webtuiste www.lightyourfire.com skryf ʼn man anoniem aan agony aunt, dr. Ellen: “Ek is ses maande getroud, maar ken my vrou al sewe jaar. Ons is albei dertig jaar. Gedurende hierdie tyd het ons ons normale voor- en teëspoed gehad, maar ons kon gewoonlik na ʼn dag of wat daardeur werk. Ek is baie lief vir my vrou en ons het al oor kinders gepraat en so pas in ʼn splinternuwe huis ingetrek. Dit alles het onlangs inmekaar getuimel.

“Ongeveer vier weke gelede het ons ʼn skynbaar onskuldige gesprek oor ons seksuele geskiedenis en die hoeveelheid maats saam met wie ons geslaap het, gehad. Ons het sewe jaar gelede ʼn soortgelyke gesprek gehad, en my vrou het gesê dat sy drie of vier maats gehad het. Ons het sover ʼn lewe van wonderlike herinneringe opgebou, en ek het gevind dat sy ʼn fantastiese mens is wat my liefhet, wat nie rook of dwelms gebruik nie, selde drink en nie meer by die nagklublewe betrokke is nie.

“As jongman was dit vir my belangrik dat my maat seksueel rein moet bly totdat ons trou. My vrou is baie mooi, en aangesien sy in Australië grootgeword het, was ek daarop voorbereid dat sy dalk ʼn seksuele verlede het. Teen die einde van die gesprek het sy egter erken dat sy ongeveer elf maats gehad het, en ná ʼn bietjie druk, is die getal tot veertien opgeskuif (alles in ʼn tydperk van drie jaar)!

“Ek het uitgevind dat sy one night stands gehad het en ouens by nagklubs ontmoet het. Ek sien al haar stories oor klubs en haar geflankeerdery, asook die manier waarop sy diégene om haar soen en druk, as ʼn verwysing van hoe sy is. As sy saam met soveel mans geslaap het, wat van dié waarmee sy amper seks gehad het? Ek kan nie help om depressief oor haar losbandige verlede te voel nie.

“Ek het ook seks gehad, maar ek was in ʼn langtermynverhouding, en ek het nie naastenby soveel seksmaats soos sy gehad nie. Nou kan ek nie na haar kyk en dieselfde oor haar voel nie. Ek kan nie help om tydens seks die ouens met wie sy seks gehad het, te visualiseer nie. Soms gaan aaklige gedagtes deur my kop as ek na haar kyk, en in my kop verwys ek na haar as ʼn ‘slet’ … (brief verkort).

So, wat maak ʼn mens?

Onthou, die verlede is verby: Dr. Ellen antwoord soos volg: “Die verlede is verby en kan nie verander word nie. Die meeste van ons kom met bagasie in ʼn verhouding, dinge wat ons sou wou verander, en ervaringe wat ons sou wou wegwens. Jou teerheid en liefde het die vermoë om die wonde te genees en haar weer heel te laat voel. Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Dit is ʼn geskenk wat jy vir haar vir die res van julle lewens saam kan gee. Sy het ʼn man nodig wat haar liefhet vir wie sy vandag is. Die belangrikste woorde wat ʼn vrou kan hoor as sy iets negatiefs uit haar verlede gedeel het, is: “Ek is lief vir jou, dit maak nie saak wát nie!” Die verlede is verby en dit het niks met die hede of die toekoms te doen nie.” Dit geld vir albei.

Vertrou jou maat

Leandie Buys, ʼn seksuoloog van Port Elizabeth sê: “Neem ʼn daadwerklike besluit om jou maat te vertrou, in die wete dat ons almal ʼn verlede het wat ander mense ingesluit het. As jy heeltyd aan jou vorige romanse, of jou maat se vorige verhoudings gaan terugdink, beteken dit dat jy onderliggend onseker is.”

Wees innerlik gesond voordat jy ʼn huwelik aanpak

Leandie meen dat daar ook soms trauma by die opbreek van vorige verhoudings betrokke is, en dat dit daarom belangrik is om eers deur al die emosionele fases van die trauma te werk, voordat jy weer by ʼn ander verhouding betrokke raak. “Dit is ook belangrik dat jy jou maat onvoorwaardelik moet kan vertrou en kan weet dat hy of sy lojaal teenoor jou is. Indien jy dit bevraagteken, trek jy nie net jou maat se integriteit in twyfel nie, maar ook jou eie.”

Raak hierdie kwessie betyds aan

Die belangrikste, meen baie kenners, is om hierdie kwessies te hanteer voordat julle besluit om die knoop deur te haak, en om dit dan daar te laat. “Hoewel dit moeilik is om dit nie in gesprekke of argumente op te haal nie (veral as ʼn mens dit so maklik in ʼn argument kan gebruik om jou standpunt te beklemtoon), moet julle die goeie dinge in jul verhouding kan waardeer,” meen James Sabasa (www.helium.com).

Neem mekaar se gevoelens in ag

Besluit watter seksuele ervaringe relevant is as julle huidige kwessies bespreek. Té veel openheid kan nadelig wees. Hou die gesprek daarop gefokus om die intimiteit tussen julle te verhoog. As jy voel dat dit te veel skade gaan aanrig, moenie die gesprek aanpak nie, of besluit om sekere dinge agter julle te laat.

Wees bedagsaam teenoor jou maat

Onthou dat gesprekke oor seks, voormalige liefdesmaats en seksuele ervaringe onderwerpe is wat sterk emosies van jaloesie, verwerping en skaamte kan ontketen. Of die verhouding nuut of volwasse is, lewensmaats moet mekaar se gevoelens in ag neem, veral as dit by besonderhede en houdings oor voormalige seksuele verhoudings kom.

Besluit wat relevant is

Besluit wat relevant tot die huidige gesprek is. Daar is besonderhede wat eerder nie bespreek moet word nie. Dikwels vergelyk lewensmaats hulself met vorige seksmaats. Dit is ʼn slegte idee, omdat dit die wenresep vir potensiële teleurstelling is en die eiesoortigheid van die huidige seksuele verhouding in die gedrang bring.

Voorspel die gevolge van openbaring

Eerlikheid is noodsaaklik in verhoudings, maar té veel openheid kan ook nadelig wees. Sekere kwessies moet eerder vermy word, byvoorbeeld die vraag hoeveel seksmaats jou maat al gehad het. Die antwoord gaan geen positiewe uitwerking op jul verhouding hê nie. As maats se antwoorde op sodanige vraag boonop drasties verskil, kan dit konflik veroorsaak. ʼn Persoon se gevoelens moet altyd gerespekteer word en nie een van die individue behoort te voel dat hulle meer moet ontbloot as waarmee hulle gemaklik is nie.

Bronne: www.helium.com; www.lightyourfire.com