Saamgestelde gesinne kan ’n wonderlike seëning vir al die betrokke partye wees, maar dit is ’n emosionele pad om te loop. Jy en jou maat moet voor die tyd deeglik praat oor hoe julle die toekoms gaan benader.

Promosie

As jou toekomstige man reeds kinders het, moet jy seker maak hoe jy daaroor voel. Kan jy hulle as jou eie aanvaar? Gaan jy ook wil kinders hê by hom en is hy gewillig?

Pieter van Rensburg (37) van Gauteng het onlangs met sy tweede vrou, Rita (28), getrou. Hy het reeds vier kinders en wil onder geen omstandighede nog kinders hê nie. “As daar nog ’n kind sou wees, sal dit ’n geweldige impak op my ander kinders hê. Dit is emosioneel net té veeleisend. Ek wil nie hê een van my ander kinders moet afgeskeep voel of dat hulle nie deel van die gesin is nie.” Hy is seker hy sal nie oor ’n paar jaar van plan verander nie. Rita moet aanvaar sy het met hom én sy kinders getrou. Hulle is nou een gesin. Alhoewel Rita sê sy sou graag ’n kind van haar eie wou hê, is sy tevrede met Pieter se besluit. “Sy kinders is nou my kinders. Ons het dit deeglik bespreek voor ons getrou het. Dis harde werk om ’n saamgestelde gesin te wees en ek moet hard werk om in te pas. Ek wil nie sy kinders met ’n nuwe baba in die huis vervreem nie.”

In die geval van saamgestelde gesinne, meen Zanne Pienaar, ’n sielkundige, jy moet van die begin af eerlik wees oor wat jy wil hê. Jy moenie jou maat mislei en dan later in ’n ding indwing nie. Dit skep ’n geslag kinders wat nie welkom voel nie. Zanne sê sy sien dikwels die gevolge van onbeplande en onwelkome kinders. Dié kind word dan gebore as ’n “pion” en ’n manier om jou maat mee te manipuleer. “Jy moenie dink jy gaan ’n Von Trapp-gesin wees waar jy gaan klavier speel, maar die kinders haat musiek nie. ’n Kind moet ook nie ’n manier wees om jou maat aan jou te bind nie. Jy moet verantwoordelikheid neem vir jou keuses. Jy belê in jou verhouding met elke onderhanding.” As albei van julle dit wíl laat werk, sal julle ter wille van mekaar ’n kompromie moet bereik.

Promosie

Kliek hier vir die volledige artikel oor wanneer jy ‘n kind van jou eie begeer, maar jou maat is nie op dieselfde bladsy as jy nie.