Kom ons wees maar eerlik: om ’n goeie man vir jou vrou te wees, is nie elke dag ewe maklik nie. Jy het baie druk by die werk en wanneer jy saans poegaai tuiskom, wink die rusbank jou dadelik nader.

Promosie

Hier is vyf maklike stappe om ’n beter man vir jou vrou te wees. Maak dit vir haar maklik om jou lief te hê! Maar wag, daar is nog goeie nuus: Dié wenke gaan nie net jou vrou bevoordeel nie, jy sal sélf ook die (soet en sexy) vrugte daarvan pluk!

  1. BEGIN MET ’N SPESIALE LIEFDESDAAD ÉLKE DAG

Dis die klein dingetjies wat uiteindelik jou vrou se hart steel. Begin met iets soos daardie eerste beker wakkerword-koffie, ’n skuimbad aan die einde van ’n lang dag of ’n nek-en-skouer massering elke aand. Maak dié liefdesdaad ’n daaglikse instelling. ’n Gelukkige en tevrede vrou sal beslis ook nie jóú behoeftes miskyk nie!

  1. ’N GOEIE DOSIS ME-TIME

Een van die dinge wat vroue en ma’s die meeste na smag, is om net op ’n Saterdag ’n paar ure vir haarself te hê sonder dat iemand honger is of vuil wasgoed en skottelgoed vir haar loer. Stuur haar haarkapper, koffiewinkel of selfs mall toe – enige plek wat vir haar ’n wegbreek uit haar daaglikse roetine is. Wanneer sy terugkom van dié heerlike alleentyd, sal sy beslis verlang na ’n gesteelde uur saam met jou . . .

Promosie
  1. NEEM VAN HAAR HUISTAKE OOR

Help haar met ’n huistaak waarvoor sy gewoonlik verantwoordelik is. Of dit nou skottelgoed, wasgoed, die kosgee van die diere of selfs om die kinders te karwei is, doen ’n slag een van haar gewone take sodat sy kan ontspan. As jy haar verras, sal sy beslis jou moeite en poging raaksien. Wie weet, dalk verras sy jou wanneer jy dit die minste verwag.

  1. BEDERF HAAR MET IETS WAT SY NOOIT VIR HAARSELF GUN NIE

Bederf haar met iets waarvan sy hou: Mooi linne, krale, ’n goeie boek, musiek. ’n Ma is gewoonlik só ingestel op alles wat noodsaaklik is dat sy haarself min luukses gun. Of koop vir haar daardie rok waarna sy nou al vir weke in die winkelvenster staar.

  1. SKEP DOELBEWUS VIR JULLE COUCH TIME

Tussen werksoproepe, e-posse, kinders en televisie is dit dikwels moeilik vir julle twee om mekaar net in die oë te kyk en waarlik te gesels. Waak streng oor sulke couch time. Dit hoef net vyf of tien minute elke dag te wees. Los julle selfone in ’n ander vertrek en laat die kinders hulself besig hou. Julle sal gou die waarde daarvan sien om net rustig by mekaar te sit en iets oor jul dag te deel. Dalk kan julle tydens hierdie gesprek ’n “I owe you” teken vir méér pret later!

 

Deur Lize Groenewald