Botox®, threading, fillers… ons doen wat ons moet om jonk te bly en die vooruitgang in die esteties geneeskunde bedryf is merkwaardig! Maar het jy geweet dat verjongingskure nie meer net beperk is tot dit wat ander kan sien wanneer jy in jou bikini verskyn nie…?
‘n Nuwe vagina? Wanneer ‘n vrou aan die verkeerde kant van veertig staan, is woorde soos ‘jonk, nuut, vars, ontrimpeling, ferm’ woorde wat jou soos ‘n magneet trek!
Daarmee saam besluit vroue jónger as veertig om behoorlik voorsorg te tref en vroegtydig aksie te neem teen die gevolge van tyd.
Ek is redelik oopkop en avontuurlustig, maar toe ek hoor dat ek die nuwe Vaginale Vernuwingsbehandeling (Vaginal Rejuvination Treatment) moet (mag?) beproef, het ‘n warboel gedagtes en talle vrae by my opgekom: Hoe veilig is dit? Is daar mediese goedkeuring? Hoe werk dit?
Ek was benoud oor die veiligheid van die behandeling en ook ongemaklik en selfbewus oor die area ter sprake. Daar is immers net twee mense met toegang tot dié area: My man en my ginekoloog!
Ginekologiese estetika is blykbaar tans een van die mees relevante onderwerpe ooit en Vaginale Vernuwing is, in die mediese estetika-veld, nommer vyf op die lys van mees nagevorste onderwerpe van 2018! Ja, vullers in die suidelike streek is niks nuuts nie. Die O-shot ook nie (as jy nog nie hiervan gehoor het nie, google dit!).
Maar vaginale vernuwing was vir my ‘n vreesaanjaende gedagte.
Is dit veilig? Dr Chris Giezing, eienaar van Aesthetic Lab Medical Aesthetic Clinic in Pretoria, het bevestig dat dit heeltemal veilig is, mits ek die afgelope 12 maande ‘n papsmeer laat doen het en geen abnormale selle teenwoordig is nie. BTL (die vervaardigers van die masjien wat gebruik word) is ‘n medies gesertifiseerde maatskappy en die masjien is FDA goedgekeur. Boonop is dr Chris,‘n voorloper in die ginekologiese estetika-bedryf en ook die stigter van Medskills, ‘n estetiese medisyne opleidings-akademie vir professionele persone in die mediese industrie. Goed, dit het my effe meer gerus gemaak, maar wat kon ek te wagte wees?
Heleen het verduidelik dat die behandeling inwendig (in die vaginale kanaal) sowel as uitwendig (op die labia minora en majora) gedoen word en dit veroorsaak dat die vaginale kanaal en uitwendige ‘lippe’ van die vagina fermer word, danksy radio-frekwensie wat die kollageen stimuleer om die slymvliese te herstel. Die gevolg is beter sensasie gedurende seks (vir beide partye), verhoogde lubrikasie en intense orgasme! Daar is ook verbetering in stres-inkontinensie. Boonop word die voorkoms van jou genitale area ook positief geaffekteer, met kleiner en meer jeugdige labia en ‘n sterker pelviese vloer. Daar is aan my verduidelik dat die vaginale kanaal fisiek vernou.
Ek was so gereed soos ek kón wees toe ek die kliniek binnestap, maar is gerus gestel deur Heleen Marx, die vroulike terapeut wat in estetiese behandelings spesialiseer en ook mede-direkteur van die kliniek, wat my gemaklik laat voel het.Die agt minute interne gedeelte en sestien minute eksterne gedeelte was effe ongemaklik en ja, ek dink ek het al die pad gebloos. Maar dit was pynloos, privaat en baie diskreet. Volgens haar beleef pasiënte ná drie behandelinge ‘n dramatiese effek en baie mans koop die behandeling vir hul vroue! Die kollageen-effek is beter drie tot ses maande ná die behandeling, maar die uitwerking van die behandeling hou vir twaalf tot agtien maande, waarna ‘n opvolg-kursus aanbeveel word.
Die resultaat? Ek weet nie of dit in my en my man se verbeelding was nie, maar daar was definitief ‘n merkbare verskil wat sensasie aan betref – ook vir my! Ek het twee behandelings wat nog voorlê en my man sê ek moet dié afsprake asseblief nie misloop nie!
• Vir meer inligting oor die behandeling, besoek www.aestheticlab.co.za of epos heleen@aestheticlab.co.za vir ‘n kwotasie. Daar is tans ‘n spesiale aanbod vir INTIEM-lesers. Gebruik die kode INTIEM wanneer jy navraag doen.
Artikel deur Liezel van der Merwe