Ek het ’n baie lae libido – om die waarheid te sê, ek is glad nie lus vir intimiteit met my man nie.
Ons is tien jaar getroud en ons sekslewe was altyd goed – tot so vier jaar gelede. Ek het my stadig van seks begin onttrek, maar is in daardie stadium ook met depressie gediagnoseer. Ek weet depressie het ’n groot invloed op die libido, so ook sommige medikasie, maar selfs in die maande wat ek baie goed voel, is ek nog steeds nie lus nie.
Dit is baie selde dat ek in die bui is vir seks. Ek is lief vir my man en daarom pla dit my geweldig baie. Hy is só geduldig, maar dit voel onregverdig teenoor hom. Ek het al met sielkundiges, my dokter en psigiater daaroor gepraat. Almal gee raad, maar niks help nie. Ek het al daaraan gedink om iets te kry, soos pille vir libido, maar ek weet nie of ek dit saam met my huidige medikasie sal kan gebruik nie.
My vroulike psigiater het voorgestel dat ons seksspeelgoed aanskaf, maar ek is skaam as dit daarby kom. Ons het nie goeie winkels hier in Klerksdorp waar ’n mens so iets kan koop nie. Sy het ook al my medikasie verander, wat steeds nie gehelp het nie. Ek is desperaat en wil my man alles gee wat ek kan, maar hoe gaan ek dit regkry as ek so bly voel? Daar het ook niks in my lewe gebeur wat dit tot gevolg kon hê nie. Ek kan ook nie ’n orgasme kry nie. Ek is amper nooit lus nie, en wanneer ek dit wel toelaat, gebeur daar niks met my nie. Kan iemand help?
Elmari Mulder Craig, seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en outeur antwoord:
Jy sukkel met ’n probleem waarmee baie vrouens worstel: “Ek is net nooit in die bui vir seks nie.” ’n Lae libido kan baie oorsake hê. Ek sou eers kyk wat gebeur in julle verhouding. Kan julle openlik gesels en voel julle albei emosioneel veilig? Jou man voel waarskynlik hy is die probleem en voel ook verwerp.
Ek besef jy is moedeloos omdat dit voel asof niemand jou kan help nie. Die antidepressante is wel ‘n groot probleem. Daar is nuwer middels op die mark wat nie so ’n negatiewe impak op die seksdrang en die vermoë om ’n orgasme te kry, het nie. Ek sou ook sterk aanbeveel dat jy jou hormone laat toets – veral jou testosteroon en vry-testosteroonvlakke. Indien dit laag is, kan dit baie verklaar en daar is natuurlike testosteroon room wat seksuoloë voorskryf om die vlakke na normaal te laat terugkeer. Natuurlik wanneer jy seks kan geniet, sal jy ook meer seks wil hê. Onthou wel dat net ongeveer 20% van vrouens orgasme met penetrasie kan kry. Die meeste het stimulasie van die klitoris en lank genoeg voorspel nodig.