Daar is diegene wat meen dat enigiets battery-aangedrewe nié in die huweliksbed hoort nie. En dan is daar diegene wat meen dat seksspeelgoed hul huwelike gered het.

Promosie

Binne die Christendom heers daar ’n hewige debat oor die reg of weg van seksspeelgoed … INTIEM het gaan ondersoek instel.

Daar het baie water in die see geloop sedert die dae toe vroue se “histerie” deur ’n stoom-aangedrewe kontrepsie “genees” is en kort daarna opgevolg is deur die eerste elektromeganiese vibrators, wat in 1884 die lig gesien het! Vandag is daar seksspeelgoed in elke kleur en geur. Van ruwe swart nommers met studs wat enige normale Afrikaanssprekende Christenvrou die berge sal laat inhol, tot die doodonskuldige eendjie of skoenlapper of hasie.

Die afgelope paar jaar het die mensdom se houding jeens seksspeelgoed óók baie ontspanne begin raak, tot op ’n punt waar dit glad nie meer as snaaks beskou word om seksspeelgoed aan die etenstafel te bespreek nie. Dit beteken egter nie dat die kontroversie rondom die saak heeltemal verdwyn het nie …

Promosie

NEE! Seksspeelgoed is steeds taboe

Verbreek seksspeelgoed die eenheid tussen man en vrou? Word seksspeelgoed later ’n plaasvervanger vir jou bedmaat? Vir verskeie Christene is seksspeelgoed taboe en nie iets wat hulle met hul geloof kan versoen nie.

Die bekende spreker, Gretha Wiid, het ’n paar jaar gelede op haar persoonlike Facebook-blad geskryf dat sy glo die grootste geskenk wat God mense gee met seks nie ’n wonderlike orgasme is nie, maar die geskenk van intimiteit. Sy maak dit duidelik dat sy nie ’n voorstaander van vibrators is nie en verwys ook na haar man, Francois, se DVD Seks wat vernietig.

Gretha is oortuig dat ’n mens wellus in jou huwelik kan bring en dat alles wat vir beide maats aanvaarbaar is, nie noodwendig geoorloof is nie. Sy glo dat níks jou man of vrou se plek behoort in te neem nie. ’n Mens moet ook versigtig wees vir die begeertes van die vlees en eerder Goddelike intimiteit in jou huwelik kry, meen sy.

“Onnatuurlike hulp hoort nie in ’n Christen-huwelik nie”

Dr Stella Potgieter is ’n pastorale berader en doen navorsing in seksueel afwykende gedrag. Sy bied ook lesings aan gegradueerdes sodat kerke toegerus kan wees om mense te help. Stella sê: “Seksspeelgoed is hulpmiddels wat gebruik word vir seksuele stimulasie sodat intimiteit bevorder kan word. Intimiteit, aan die ander kant, is ’n proses waar twee persone wat mekaar lief het vrylik gevoelens, gedagtes en handelinge deel. Met seks soek ons intimiteit. Iemand om aan te behoort. Soos daar dikwels gesê word: ‘God rus ons met al die regte hulpmiddels toe’ en ons het nie ‘hulp’ van ’n onnatuurlike aard nodig nie,” verduidelik Stella.

“God het onder andere aan die mens seks gegee om een te word. Dit wat tussen twee mense gebeur wanneer hulle seksueel verkeer, is ’n diep geheimenis en ’n ontmoeting van twee siele. Hoewel die menslike liggaam in sy liggaamlikheid tydelik en ruimtelik is, moet dit gesien en behandel word as ’n liggaamlike ruimte vir die versorging van intimiteit en binding, want die liggaam huisves die siel.

“Wanneer penetrasie plaasvind, vind daar ’n ontmoeting plaas, ja ’n ontmoeting met die ander, maar ook ’n ontmoeting met die ANDER. Die diep mistieke seksuele eenwording geskied in God se teenwoordigheid. Dit is wanneer man en vrou een word. Met die gebruik van seksspeelgoed vind dié ontmoeting nie plaas nie.”

“Seksspeelgoed kan verslawend raak”

Die gebruik van seksspeelgoed kan volgens Stella aanleiding gee daartoe dat persone hulle passie vir die seksdaad verloor en/of na méér en méér stimulasie soek op ’n onnatuurlike manier. “Seks is deur God aan die mens gegee sodat ons dit kan geniet (Spreuke 5:18). Omdat die seksuele verkeer tussen twee mense die diep geheimenis van die ontmoeting van twee siele is, doen seksspeelgoed afbreuk aan die krag daarvan.”

Sy sê voorts: “Die tendens in die samelewing is dat daar al hoe meer vryheid ten opsigte van seksuele praktyke, oriëntasie, gewoontes en begeertes bestaan. Pornografie as seksspeelding word ook deur sommige as stimulant gebruik. In hierdie geval lei dit tot afstomping en verveling, met die gevolg dat daar dan na sterker prikkels en meer blatante vorms gevra en gesoek word. Die betrokkenes word al hoe verder weggevoer en word van ware seksualiteit in ’n normale situasie ontneem.”

“Dis soos ’n deur van versoeking”

Juane, ’n INTIEM-leser, en haar man is albei gekant teen die gebruik van seksspeelgoed. “Eerstens, uit ’n Christelike oogpunt het die Vader man en vrou vir mekaar gegee. Hy het ook aan ons opdrag gegee om onsself nie oor te gee aan versoeking nie. Versoeking kom gewoonlik in deur ’n deur wat doelbewus oopgelaat is. Dit mag dalk vir baie mense onskuldige pret wees… tot dit ook nie meer genoeg is nie.

“My mening is dat dit soos ’n dwelm is. En dit is juis waar die versoekingsdeur oopgeruk word en pornografie, ontkleeklubs en wie weet wat nog begin kop uitsteek. So van my kant af, geniet mekaar en vind ’n kosbare liefde. Ek glo nie sexy onderklere het so ’n groot invloed nie. ’n Mens wil tog mooi lyk vir jou man. Dit bly tog net ’n rukkie aan, of hoe? Ek dink net sodra iets ’n afhanklikheid word, moet dit dalk uit ’n ander oogpunt beskou word,” sê Juané.

René, ’n besoeker op Gretha Wiid se Facebook-blad, meen: “Ek glo nie daar was vibrators en speelgoed in die paradys nie en my man is al wat ek nodig het, dankie. Jy en jou man sluit ’n verbond met God elke keer wanneer julle seks het, en waar pas plastiek speelgoed daarby in?” Die ander kant sal natuurlik kan redeneer dat daar ook nie Lindt-sjokolade en bubble bath in die paradys was nie, maar dat ons vandag die geleentheid het om hierdie plesiertjies te geniet!

“Jy maak nie met jou man liefde nie”

Sheila Wray Gregoire, skrywer van The Good Girl’s Guide to Sex, voel ewe sterk oor die gebruik van seksspeelgoed. Volgens haar beklemtoon seksspeelgoed fisieke intimiteit teenoor geestelike of emosionele intimiteit. Sy is bekommerd daaroor dat mense te afhanklik sal word van seksspeelgoed en die najaag van ’n orgasme eerder as die uitdrukking van liefde. Sy is ook van mening dat baie (maar nie almal nie) seksspeelgoed masturbasie is. Selfs al gebruik jou man die seksspeelgoed op jou, is hy nie die een met wie jy liefde maak nie, meen sy.

Sommige mense begin gebruik seksspeelgoed so baie dat dit nie meer hul maat is nie, maar die speelding wat hulle goed laat voel. Wanneer jy te veel op seksspeelgoed begin staatmaak, verloor jy die nabyheid wat seks moontlik kan bring. Seks is nie veronderstel om net oor een mens te gaan nie, dit is veronderstel om gemeenskaplik te wees, vertel Sheila.

Sy is ook van mening dat seksspeelgoed dieselfde uitwerking as pornografie kan hê, deur liggaamsdele te herskep wat onrealistiese verwagtings kweek en kan veroorsaak dat jou maat uiteindelik nie meer “goed” of voldoende genoeg is vir jou behoeftes nie.

JA! Seksspeelgoed het my huwelik gered

*Charmaine van Schalkwyk het ongeveer agt maande ná haar troue met ’n skok ontdek dat sy vaginismus het. Seks met haar man was so te sê onmoontlik – elke probeerslag was meer pynlik as die vorige. Haar man het sy bes probeer om ondersteunend te wees, maar Charmaine was doodbang dat haar huwelik mettertyd sou verbrokkel omdat hulle sekslewe beperk was tot wedersydse masturbasie.

Sy het uiteindelik die moed bymekaar geskraap om ’n ginekoloog te besoek. Hoewel sy verlig was om ’n diagnose te ontvang, het sy ook besef dat sy nie oornag “normaal” sal kan seks hê nie. “Een van die voorstelle wat ek van my terapeut ontvang het, was om seksspeelgoed te gebruik om myself ‘mak te maak’ vir seks,” sê Charmaine. “Ek was werklik doodbang vir seks, want ek wou nie weer daardie pyn ervaar nie. Met behulp van ’n vibrator kan ek myself bietjie-vir-bietjie ontdek sonder om getraumatiseerd te voel.”

Charmaine en haar man inkorporeer nou verskeie battery-aangedrewe toestelle in hulle roetine om die druk ten opsigte van penetrasie te verlig. “Dit is vir geen pasgetroude paartjie lekker om met seksuele probleme te worstel nie – wat ’n ontnugtering!” sê Charmaine. “Ek het selfs vir my man na ’n pynlike sessie een aand gesê dat ek sou verstaan as hy my nie meer wou hê nie, want ek het soos ’n halwe vrou gevoel. Te danke aan seksspeelgoed kan ons egter seksueel met mekaar verkeer. Dit het my huwelik gered!”

“’n Vibrator kan ’n hulpmiddel wees”

Dr Ettiene Kok, ’n seksuoloog en uroloog van Pretoria, wys daarop dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen seksuele hulpmiddels en speelgoed. ’n Item wat deur een persoon bloot gebruik word vir kicks, kan vir ’n ander persoon die verskil tussen ’n orgasme of geen plesier beteken.

“In my boek is ’n vibrator nie ’n speelding nie, maar eerder ’n hulpmiddel (enhancer) wat baie vrouens kan help om hulself en hulle eie seksualiteit te ontdek, maar ook saam gebruik kan word as deel van die liefdespel en proses van liefde maak,” sê dr Kok. “Dit is uit hierdie oogpunt dat ek vir ’n persoon in terapie of vir ’n egpaar sal voorstel om ’n vibrator aan te skaf en te gebruik. Dieselfde geld vir die gebruik van smeermiddels.”

Maar waar trek ’n mens die lyn? Is mooi onderklere, vere en sjokolade nie ook speelgoed nie? “Sagte” speelgoed soos sjokolade, body paint, vere en so meer kan help om mense se sekslewe opwinding te gee. “Die grootste prikkel kom hier in elk geval nie van die speelgoed af nie, maar eerder van ’n goeie verhouding met respek, vertroue, openlikheid, kommunikasie en ‘ek hou van jou’ gevoelens!” meen Etienne.

Wat van “harde/ rowwe” speelgoed soos boeie en swepe? “Ek voel dit het nie plek in ’n huwelik nie,” meen hy. “Dit lê vir my op die vlak van sado-masochisme en die Fifty Shades of Grey-idee, waarmee ek ’n groot probleem het. Dinge wat seermaak en pyn veroorsaak, is nie veronderstel om eroties te wees nie!”

“As dit lei tot wedersydse genot, hoekom nie?”

Volgens dr Johan Nel, ’n pastorale terapeut in Bloemfontein, staan daar nie veel in die Bybel oor seksspeelgoed nie. Hooglied lei ons wel om te verstaan hoe ’n noodsaaklike en genotvolle bestanddeel ’n goeie seksuele verhouding binne die huwelik is. Mooi en sensuele onderklere/slaapklere is aanvaarbaar, binne die beperkte ruimte van die huweliksmaats se liefdespel. So ook lekkerruik-masseerolies en geurige kerse.

“Dis goed om sexy te voel – dit gee selfvertroue en help met die selfbeeld. As dit kan bydra tot wedersydse genot, kan dit nie skade doen nie,” meen hy. Dr Nel is dit ook eens dat vibrators ’n grys area is wanneer dit kom by die onderskeid tussen ’n hulpmiddel en ’n speelding.

“’n Vibrator is soms meer funksioneel as eroties, aangesien dit ’n hulpmiddel is vir persone wat moeilik ’n orgasme kry. Die gebruik daarvan is algemeen, en word ook deur seksuoloë en terapeute aanbeveel. Daar is situasies waar penetrasie nie kan plaasvind nie, en dan is ’n vibrator baie nuttig. Dis ook nuttig in gevalle waar die vrou byvoorbeeld langer neem om ’n klimaks te bereik. Solank die maats konsentreer op nabyheid, romantiek en wedersydse bedagsame optrede om die verhouding te verdiep, is daar na my mening nie ’n probleem nie.”

“Dit kán deel vorm van ’n Christen-huwelik”

Die webtuiste themarriagebed.com, ’n webtuiste vir getroude Christen-paartjies, meen die woord seksspeelgoed is ’n power beskrywing vir items wat seks versterk.

“Enigiets wat nie deel is van ons liggame nie, wat ons gebruik om seks te verbeter, is ’n item wat seks versterk. Die Bybel noem kruie en spesiale lakens om seks meer genotvol te maak, in Spreuke 7.”

So is daar ook items wat vandag gebruik kan word om seks meer genotvol vir ’n Christen-paartjie te maak, meen hulle. Dit sluit “mak” hulpmiddels in, soos satynlakens, gegeurde kerse, spieëls en smeermiddels. Dan is daar vir die meer avontuurlike mense poeiers en olies wat geurig is, soos heuning en sjokolade. Onderklere pas ook in dié kategorie. Die webtuiste meen seksuele hulpmiddele soos dié word nie in die Bybel verban nie en dit kan deel vorm van ’n liefdevolle sekslewe binne huweliksverband.

“Maar hierdie items kan ook die bron wees van afleiding, argumente en harde gevoelens. Baie Christene worstel steeds met reëls en perke wat aan hulle geleer is in die verlede en seksuele items kan hulle onseker of ongemaklik laat voel.” Die belangrikste is vir jou en jou maat om oor die gebruik van hulpmiddels saam te stem en nie die ander een daarvoor te druk as hy/sy ongemaklik is daarmee nie.

Johan stem saam en sê speelgoed kan ’n probleem word as die man byvoorbeeld daarop aandring dat sy vrou haarself met die vibrator bevredig omdat dit vir hom opwindend is, maar sy hou nie daarvan nie. “Of as een maat wil hê dat die ander die vibrator anaal gebruik terwyl daar nie ooreenstemming is nie. Hier kom dit neer op liefdeloosheid en seks wat vervlak tot ’n blote daad.”

Hy waarsku dat enige Fifty Shades of Grey-tipe speelgoed liefs nie in die huwelik hoort nie. “Die Bybel slaan die liefdespel met die klem op liefde baie hoog aan, trouens daar word gesê dat mens mekaar nie onnodig omgang moet weier nie. Waar lê die knoop met rowwe speelgoed? Sommige van die praktyke raak gewelddadig, en dit is nie die bedoeling van die gawe van seks nie.”

’n Hele arsenaal speelgoed …

Die term “seksspeelgoed” is nie beperk tot dildos en vibrators nie. Volgens die seksuoloog Elmari Mulder-Craig het die publikasie van Fifty Shades of Grey die verkope van seksuele hulpmiddels en veral vibrators drievoudig laat toeneem. “Seksuele hulpmiddels sluit onder meer smeermiddels, vibrators en penisringe in. Onthou ook dat jy ’n hele huis vol seksuele speelgoed het, soos fluweel, syserpe, spuitroom, masseerolies en so meer.”

Volgens Mohamed, ’n verkoopsman by Adult World in Vredenburg in die Wes-Kaap, is poppers en ereksiepille hul beste verkopers. ’n Vibrator (dalk kan dit vertaal word as “wikkelspies”), wat die klitoris stimuleer, is die beste verkoper onder getroudes. “Getroude paartjies besoek die winkel gewoonlik saam op soek na iets om hulle huwelikslewe op te kikker.”

Wie koop seksspeelgoed?

Michael Brauer van’n onderneming wat seks-hulpmiddels aanlyn verkoop, skat dat minstens 50% van hul kliënte paartjies is. “Ons kan aan ’n bestelling sien as dit ’n paartjie is. Hulle koop byvoorbeeld goedjies vir haar én hom (met ander woorde ietsie van alles), of die man koop iets vir sy vrou: Die bestelling word deur ’n man geplaas, maar dit is ’n vibrator of lingerie, gewoonlik ’n geskenk van hom aan haar. “Ons kom agter dat baie paartjies saam aanlyn kyk na wat hulle graag wil hê,” sê Michael verder. “Dis meestal die man wat dan die bestelling plaas (en daarvoor moet betaal!).

“Ons kry gereeld navrae oor watter couple’s toys aanbeveel word. Ons het ’n hele afdeling met speelgoed wat spesifiek vir paartjies ontwerp is. Paartjies begin gewoonlik met produkte wat hulle tydens voorspel kan gebruik. Indien hulle daarvan hou (dis amper altyd die geval!), stel hulle ander dinge ook op die proef. Ons het paartjies wat al vir jare by ons koop en gereeld iets nuuts probeer. Dit is wonderlik dat mense al hoe meer besef dat seks en pret hand aan hand gaan.”

Michael sê vibrators bly die gewildste. Die verkope van seksspeelgoed onder paartjies neem beslis toe. “Mense raak oor die algemeen al hoe meer ‘oopkop’. Die Fifty Shades of Grey-boeke het ook baie gehelp om stigmas af te breek.”

Wat kan jy doen om “veilig” te bly?

Elmari sê: “Koop ’n vibrator van ’n goeie gehalte wat deur ’n seksuoloog aanbeveel word. Besoek die webtuistes van die voorste seksuoloë in Suid-Afrika vir riglyne. Wanneer een van die liefdesmaats verkies om eerder ’n seksuele hulpmiddel te gebruik as om intiem met sy of haar maat te verkeer, is daar rooi ligte. Dit dui waarskynlik op onderliggende dinamika in die verhouding wat hanteer moet word. Kommunikeer hieroor. Dit is nie waar dat jy nie weer ’n orgasme sal kan kry as jy eers aan ’n vibrator gewoond geraak het nie. Jy kan beslis ook nie daaraan verslaaf raak nie.”

Elmari se wenke:
• Daar is nie ’n resep wat vir almal werk nie. Ons het verskillende behoeftes en voorkeure. Seksuele hulpmiddels is nie ’n vereiste vir goeie of interessante seks nie.
• Uiteindelik gaan die liefdespel oor intimiteit, sensualiteit en wedersydse behoeftebevrediging. ’n Vibrator is bloot ’n seksuele hulpmiddel.
• As vrou hoef jy glad nie skaam te wees dat jy ’n vibrator gebruik nie. Jy is deel van die enigste spesie op aarde met ’n klitoris, wat uit sowat 8 000 senu-eindpunte bestaan en uitsluitlik vir seksuele plesier geskep is.
• Maak seker julle weet wat elkeen se voor- en afkeure is en respekteer ten alle tye jou maat se grense.

Addisionele bronne: www.facebook.com/permalink.php, tolovehonorandvacuum.com.

Is jy en jou maat lus om jul hand aan seksspeelgoed te waag? Ons het gaan snuffel en iets vir elke vlak ontdek. Van die mak hasies onder ons tot die wilde tiere!

KLIEK HIER EN KRY DIE SEKSSPEELGOED-OPSIE WAT BY JULLE AS ‘N PAARTJIE SAL PAS!

Hierdie artikel is met trots geborg deur Désir