Dalk wag jy vir manlief om eerste toenadering te soek. Min wetende dat hy, moeg vir verwerping, vir jou wag om die eerste tree te gee. Hoe inisieer jy seks en hoekom is dit belangrik dat jy móét?

Promosie

Die algemeenste klagte wat ek in die praktyk sien, is vroue wat kla oor ’n lae seksdrang: “Ek is nooit in die bui vir seks nie, maar as ons eers daar is geniet ek dit.” Daar kan baie redes vir ’n lae seksdrang wees, van die medikasie wat jy gebruik tot jou voorbehoedpil, depressie, angstigheid, siektetoestande, pynlike seks, ’n hormonale wanbalans, lae testosteroonvlakke en natuurlik dit wat in die verhouding gebeur.

Die moderne lewe, spanning, gejaagdheid, moegheid en bloot “net nie tyd hê daarvoor nie”, speel natuurlik ook ’n rol. Wanneer jou leefstyl jou sekslewe negatief beïnvloed, moet jy wonder oor jou prioriteite. Werk en kinders kan nie ’n hoër prioriteit as jou huwelik inneem nie – en iewers moet jy vir jouself ook nog tyd maak!

Beplanning is die wagwoord! Ja, soos jy al jou ander take beplan en lysies maak, só kan jy seks ook beplan. Wanneer jy dink hoe jy seks gaan inisieer, wat gaan jy aantrek, hoe jy hom gaan uitnooi en seksuele spanning skep, begin jy jouself outomaties in daardie “seksuele spasie” plaas. Jou kop is dus nou by seks. So, daag jouself uit en besluit dat jy self seks een keer per week gaan inisieer en beplan dit haarfyn. Maak dit interessant – soos jy ’n stylvolle funksie sou beplan.

Promosie

Hoekom is dit belangrik om seks te inisieer?

Seks is goed vir jou. Dit verlig spanning, is ’n natuurlike anti-depressant, is goed vir jou brein en vir jou vel, en is boonop nog goeie oefening ook.

Maar bowenal wil die man wat jy liefhet eintlik net twee dinge hê:

  1. Hy wil weet die vrou vir wie hy lief is, wíl met hóm seks hê.
  2. En dat sy dit geniet!

Só maak jy die sement vir julle huwelikshuis sterk en dig aan.

Maar afgesien hiervan het die nuutste navorsing bewys dat baie vroue nie volgens die tradisionele seksuele reaksiesiklus opgewek word nie. Dus nie die siklus van behoefte, opwekking, plato en orgasme nie. Maar eerder dat baie vroue eers met stimulasie die behoefte om seks te hê, ontwikkel. Dit maak ’n groot verskil.

Omdat vroue dikwels dink hulle moet eers ’n “drang” vir seks hê, inisieer hulle nie seks nie en voel hulle soms hulle seksdrang is baie laag. Waar, as mens verstaan dat vroue se testosteroonvlakke baie laer is as mans s’n en dat vroue nie so sterk visueel as mans gestimuleer word nie, dit sin maak dat wanneer jy ’n wilsbesluit neem dat seks lekker is, goed is vir jou en jul verhouding en dat jy dit moet inisieer – gebeur dit dan dat jou natuurlike seksdrang met stimulasie oorneem. In hierdie opsig is jou brein dus jou belangrikste seksorgaan.

Hoe inisieer jy seks?

Op enige manier waarmee jy gemaklik voel. Almal gaan nie om ’n paal wil dans nie – en hoef ook nie. Dit gaan oor die bedoeling – dat jy vir jou man wil wys jy begeer hom. En as jy mooi daaroor dink, sal jy weet daar is sekere dinge wat spesifiek sy bloeddruk opjaag. Of jy nou in die winter jou sykouse suggestief aantrek, hom die oggend ’n ekstra lang en passievolle soen gee, ’n uitlokkende foto of ’n stoute boodskap stuur. Jy kan hom uitnooi vir ’n romantiese ete tuis, die kinders by ouma aflaai, hom inwag met jou sexyste, deurskynende rok sonder onderklere en hom ’n sensuele massering gee terwyl hy nie aan jou mag raak nie . . . Gebruik jou verbeelding – die geheim is om hom spesiaal te laat voel. Vergeet van jouself en of jy dalk ietwat ongemaklik of laf voel. Wéés net in die oomblik en staar diep in sy oë. Die res sal vir hulself sorg.

Beplan vir seks

  1. Beplan watter aand in die week die beste gaan werk.
  2. Beplan jou plan van aksie.
  3. Maak ’n lysie van benodigdhede, bv. kerse, ’n kombers, vonkelwyn, klere, hulpmiddels.
  4. Laat weet hom vroegtydig jy het planne vir hom (dan moet jy daarby hou).
  5. Nooi hom amptelik uit (wees kreatief).
  6. Herinner hom af en toe daaraan – dit bou seksuele spanning.
  7. Maak seker jy het alles op jou lysie en is gereed vir aksie.
  8. Voila! Wees jouself, wees in die oomblik en slaan sy asem weg.

Beplanning beteken ook dat julle saam besluit oor ’n aand in die week wat date night is. Dit is ononderhandelbaar en julle hou daarby. Dit is julle aand, waar julle – soos aan die begin van die verhouding – mekaar in die oë kyk, oor dieper, belangriker dinge gesels en sommer net lekker tyd saam spandeer.

Beplan ook hoe julle in jul dag-tot-dag lewe tyd saam gaan deurbring. Drink ons saam koffie op die stoep as ons by die huis kom, of maak ons saam kos en gesels oor die dag? Om saam te bad of te stort, is ook ’n daaglikse gebeurtenis wat intimiteit kan skep.

Die geheim is . . . maak planne, beplan jou planne tot in die fynste detail en voer dan daardie planne uit!

 

Deur Dr Elmari Mulder Craig