Ons trou binnekort en ek het onlangs uitgevind ek het (ná maande se pyn, aanhoudende menstruasie en ’n siek gevoel) ’n gewas wat moontlik uitgesny moet word. As ek chirurgie kry, sal dit twee tot drie weke voor die troue gebeur. Ons venue het laat weet dat daar ’n kansellasie in September is (vyf weke later) en ek wou natuurlik die troue skuif.

Promosie

Ek wil nie siek voel op my troue nie, want ek gaan nog seer hê. Ek wil ook nie die operasie uitstel tot ná my troue nie, want dit gaan beteken dat ek steeds siek voel en pyn en bloeding het op my troue. Toe ek my verloofde daaroor gevra het, het hy sommer oor die telefoon vir my begin skreeu dat die latere datum sekere van sy familielede nie sal pas nie. Ek weet nie wat om te doen nie. Ek is ’n bruid, maar voel glad nie soos een nie. (Brief verkort)

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:

Dit is ’n bitter slegte situasie waarin jy jou tans bevind en ons harte gaan absoluut uit na jou. Jou troue is veronderstel om jou beste en mooiste dag te wees, en ons kan onsself net indink hoe ontsettend moeilik dit vir jou moet wees.

Promosie

Eerstens wil ons net sê dat jy asseblief nie skuldig moet voel nie. Daar is niks wat jy aan die situasie kon doen nie en jy het tans die chirurgie dringend nodig. In hierdie geval moet jou eie gesondheid en welstand eerste kom, selfs bo jou troue. Dit maak ook sin dat, indien jy sou voortgaan met die troue, jy in pyn kan wees en dit ook uiters ongemaklik vir jou sal wees. Die gevolg sal wees dat jy glad nie jou troue sal geniet nie.

Volgens ons is die enigste oplossing tans dat julle die troue uitstel en dat jy eers jou mediese situasie hanteer en ook meer sekerheid hieroor kry. Jy wil immers jou spesiale dag en jou wittebrood ten volle geniet, sonder pyn en ongemak.

Dit bring ons by die reaksie van jou verloofde. Daar kan volgens ons twee redes wees hoekom hy optree soos wat hy doen. Die eerste is dat die spanning van die troue en om almal gelukkig te hou net te veel raak vir hom en dat hy eintlik net in beheer wil voel. Jou mediese situasie is nie iets wat hy in berekening gebring het nie en derhalwe was hy net ontsteld toe hy dit hoor.

Hierdie eerste rede sal egter van korte duur wees, omdat hy wel sal besef dat jou gesondheid en welstand voorkeur geniet bo enige iemand anders, en dat hy dan ook bereid sal wees om die troue te skuif om jou situasie te akkommodeer. As dit die geval is, sal julle ook teen hierdie tyd al op ’n beter plek wees en sou hy ook al tien teen een vir jou om verskoning gevra het vir sy optrede.

Die tweede moontlikheid is egter die moeiliker een, want dit kan wees dat hy nie verstaan nie en dalk nie wil verstaan nie. Die gevolg is dan dat hy glad nie omgee oor hoe jy voel nie – dat hy net wil hê dat die troue moet plaasvind en dat jy net deur dit alles moet regop staan. Dit is vir ons ’n uiters selfsugtige siening en ons het ook ernstige bedenkinge of hy wel die regte man vir jou is as dit sy uitkyk is.

Jou eggenoot moet jou altyd eerste stel en jou in alle opsigte veilig laat voel, en ook prioriteit vir jou gee bo enigiemand anders. Jy is swak en seer en jou aanstaande moet juis nou daar wees vir jou en bereid wees om selfs mense se negatiewe opmerkings van jou af te weer.

Indien die tweede rede ter sprake is, moet jy mooi dink voor jy in ’n huwelik met hierdie man tree. As hy bereid is om jou só te hanteer in die moeilike tye, nog voor julle troue, sal dit nie verbeter nadat julle getroud is nie. Die kanse dat dit erger sal raak, is baie goed. Ons hoop en glo dat die tweede rede nie van toepassing is in julle geval nie, maar dat dit maar net trouspanning was wat hom ’n bietjie onkant gevang het. Baie sterkte.