Die winter is nie almal se maat nie. Terwyl sommige van ons gedy op warm sjokolade, dik gebreide sokkies en tamatiebredies, is daar nét soveel wat snuif-snuif deur die huis sleepvoet! As jy egter voorbereid is, kan jy en jou gesin die winter nie net oorleef nie, maar ook geniet . . .
- Kry julle griepinspuitings. Griepinspuitings genereer teenliggaampies, wat ongeveer twee weke daarna in die liggaam ontwikkel. Hierdie teenliggaampies voorsien beskerming teen die virusse in die entstof en beskerm jou teen die algemeenste griepvirusse vir die seisoen.
- ’n Studie in 2005 by Harvard Universiteit beveel aan dat jy 35 minute per dag, vyf keer per week, of 60 minute per dag, drie keer per week, vinnig stap. Dit kan simptome van ligte tot matige winterdepressie teenwerk.
- Begin die dag met ’n gesonde ontbyt. ’n Goeie, gebalanseerde ontbyt en jy weet jy en jou gesin het minstens een behoorlike maaltyd in, ongeag van watter chaos die dag na julle kant toe gooi. Voeg proteïene by jou ontbyt en jy behoort nie honger te word voor middagete nie. Probeer ook om soveel as moontlik vitamiene en minerale by dié ete in te werk. Gestoofde vrugte, melk, neute, jogurt – die opsies is eindeloos.
- Gaan kuier saam met vriende – al is dit die laaste ding waarvoor jy kans sien. Ja, mense het mense nodig en wanneer jy en jou maat lekker blou voel, het julle ’n bietjie doepa van buite af nodig.
- Gee jou immuniteit ’n hupstoot. Jy behoort altyd mooi na jouself te kyk, maar gedurende dié tyd is dit ’n absolute noodsaaklikheid. Eet gebalanseerd, kry genoeg slaap en bly aktief. Drink jou aanvullings en sorg dat dit bestanddele soos echinacea, knoffel en vitamiene C bevat.
- Hou jou bloedsirkulasie aan die gang. Daardie koue hande en voete is ’n direkte gevolg van die winter. Dit is die liggaamsdele wat die verste van jou hart is (wat natuurlik bloed deur jou liggaam sirkuleer en jou warm hou). Beweeg genoeg, en dra sokkies en handskoene.
- Koop vir elke lid van die gesin ’n warm, goeie baadjie, maar ook genoeg dun lae sodat julle laag op laag kan aantrek gedurende die winter. Kenners beveel die volgende aan: ’n Dun basislaag wat help om vog van die liggaam af weg te hou en die hele lyf bedek (torso en ledemate). Daarna volg die middellaag (wat ook uit meer as een laag kan bestaan). Die buitelaag moet jou teen wind en weer beskerm. Onthou ook dat baie hitte deur die kop en voete ontsnap, so trek die hoede en stewels nader as die temperatuur baie laag daal.
- Slaap genoeg. Net ’n paar laat nagte van jou gunsteling-reeks en jou immuunstelsel word reeds uitgedaag. Genoeg slaap (dit is agt ure vir ’n volwassene) kan jou liggaam se immuunstelsel gesond hou. Vermy alkohol, nikotien en kafeïen aangesien dit met jou slaappatroon kan mors.
- Kook warm bredies wat sommer ure lank op die stoof prut sodat jou hele kombuis soos naeltjies of roosmaryn ruik. Maak ook die bredie in grootmaat sodat julle minstens twee keer hieraan kan eet. Skep ook ’n porsie of twee uit om te vries.
- Soms is ’n winterdag sommer grou. Dit help ook nie juis dat ons dae dan ook nog korter is nie! Wanneer dit voel asof jou liggaam na sonlig smag, maak al die blinders en gordyne oop en snoei bosse voor jou vensters om meer lig in te laat. Jy kan ook so effens nader aan die vensters sit vir ’n ekstra dosis vitamien D.
- Werk sag met jou vel. Onthou, die winter is geneig om ons velle uit te droog en dit kan lei tot allerhande slegte veltoestande, soos ekseem. Boonop drink jy waarskynlik meer koffie en minder water as gewoonlik – wat jou vel ook van binne af dehidreer. Gebruik ’n goeie bevogtiger en skakel selfs oor na ’n bevogtiger vir ’n droë vel as jy voel jy het dit nodig. Moenie jou omega-3 olies vergeet nie en dra sonbeskermingsfaktor – selfs al is dit koud buite.
- Leer jou gesin om in die boog van hul elmboë te hoes en te proes. Wanneer jy hoes of nies, gebeur dit gewoonlik met soveel brute krag dat jy die kieme ver versprei. As jy jou hand voor jou mond hou, weerhou dit dalk die persoon reg voor jou om aan te steek, maar daardie kieme bly op jou hande en tensy jy dit nie dadelik was nie, versprei jy dit weer die oomblik wat jy aan iemand of enigiets raak.
- Smokkel gesonde vitamiene en minerale vir jou gesin in deur groente soos patats, spinasie, beet en gemmer by sop te voeg. Jy sal van nature aangetrokke voel tot comfort foods ryk in koolhidrate, maar moenie jul groente en vrugte vergeet nie.
- Beproef ’n nuwe stokperdjie. Hou jul gedagtes besig met dinge wat ’n somber gevoel kan afweer. Sluit aan by jul kerk se sanggroep, begin om ’n blog te skryf of neem kooklesse. Daar is soveel interessante aktiwiteite en stokperdjies wat julle saam kan probeer.
- Wees ekstra streng oor hande was – met jouself en met jou gesin. Sorg dat elke wasbak in die huis ’n kiemwerende handewasmiddel het. Verkouevirusse versprei deur middel van nies, hoes en handkontak. Hou sommer ook ’n waterlose reiniger in jou handsak, en maak seker die oppervlakte in die huis en jou kinders se speelgoed bly skoon.
- Waak teen suiker. Ja, jou lyf vrá vir warm, tuisgebakte brood, vir sjokolade en rooiwyn. Jou lyf vra vir malvapoeding en soetpatats . . . maar waak teen die suiker. Dit sal jou vir oomblikke laat goed voel – maar net vir oomblikke!
- Gaan kuier by ’n weeshuis of ouetehuis, of enige plek waar jy jouself kan verloor in jou diens aan ander. Besoek ’n plek waar jy blootgestel word aan mense wat minder bevoorreg is as jy en help hulle, en jy sal beslis minder depressief voel, meen sielkundiges.
- Dra helder kleure. Daar is beslis ’n skakel tussen optimisme en die dra van helder kleure. Só kan jy jou brein om die bos lei en laat “dink” dit is sonnig en pragtig buite. Dink aan daardie gunsteling skelpienk rokkie van jou! Dra dit saam met ’n paar stewels en ’n baadjie, en jy voel dalk net ’n bietjie beter.
- Drink meer melk. Suiwelprodukte is goeie bronne van proteïene en vitamiene A en B12. Dit bevat ook kalsium, wat jou bene sterk hou. Sommige kenners beveel aan dat jy by die laevet-weergawes hou, maar ander meen dat laevetprodukte addisionele suiker bevat om dit geur te gee en dat jy liefs die volroomprodukte moet kies.
- Kieme is hardnekkig en kan baie lank aan harde oppervlakke kleef! Daar is selfs bakterieë wat vir maande kan oorleef. Verkoue-kieme kan twee tot sewe dae op harde oppervlakke oorleef en sowat twee ure lank op die vel. Daarom is jou beste weerstand teen ’n slegte verkoue hande was, en weer was, en weer was . . .
- Begin met ’n projek. Pak die kamers reg, sorteer al die foto’s uit of bou daardie boekrak wat jy al so lank dreig om te bou. Dit help nie net om jou aandag af te lei van die somberheid wat die winter soms bring nie, maar dit laat jou ook nuttig en goed oor jouself voel.
Met genoeg voorbereiding kan jy en jou gesin ’n warm, lekker winter hê en meer fokus op snoesigheid as op die snesies!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: https://www.realsimple.com, http://www.nhs.uk-winter-blues, www.cenovis.com.au, www.consumerreports.org.