Onderdanigheid is ’n Bybelse begrip waarmee Christene gekonfronteer word. Jou man is die hoof van die huis en dit is onder hierdie priesterskap wat ’n gelukkige gesin funksioneer.

Vandag se omstandighede maak dit egter nie maklik nie. Tradisionele huwelike is aan die uitsterf. Vroue werk (soms as die enigste broodwinner) en verdien geld (dikwels meer as hul mans). Uiteraard leer manne ook om die huishouding te bestuur, die kinders groot te maak en besluitneming word baie gelykop verdeel. Is priesterskap steeds moontlik of enigsins relevant?

Hoe gemaak met moderne rolverdeling?

Annemarie* en Tom* het in die vroeë sewentigerjare op universiteit ontmoet. Tom het vars uit die Weermag ingeskryf vir ’n regsgraad, terwyl Annemarie as 19-jarige studeer het vir ’n graad in sielkunde. Hul verwysingsraamwerke het merkwaardig verskil: Tom het grootgeword in ’n ouerhuis met ’n konserwatiewe, Calvinistiese en patriargale aanslag, terwyl Annemarie se ouers haar baie meer liberaal grootgemaak het. Tom was egter gekant teen ’n stelsel waar vrouens as ondergeskik gesien word, grootliks omdat sy ma – ’n talentvolle pianis – stadig maar seker agteruitgegaan het onder sy pa se outoriteit.

Die gevolge van diensplig en die grensoorlog het ook ’n beduidende letsel op Tom se gemoed gelaat.  “Daar is op ons geskreeu, gevloek . . . asof ons niks beteken het nie,” dink Tom terug, die pyn steeds duidelik in sy stemtoon. “Ons was net daar om iemand anders se vuilwerk te doen. Menswees en die waarde van ’n lewe het niks vir die bevelvoerders beteken nie.”

Annemarie het Tom se post-traumatiese stres verstaan in ’n tyd toe dit nie polities of sosiaal aanvaarbaar was om oor sulke ervarings – en veral die trauma wat daarmee gepaard gegaan het – te gesels nie. “Ek kon my seerste seer met haar deel. My vrese. Sy het my toegelaat om te huil. Ons kon saam bid. Sy was sterk . . . terwyl ek voorgegee het om sterk te wees.”

Sy verhouding met Annemarie het hom laat besef dat geen mens ondergeskik aan ’n ander is nie – ook nie ’n vrou aan ’n man nie. Vandag is hulle meer as 40 jaar getroud. “Annemarie hoef nie een tree terug te staan vir enige man nie!” sê Tom trots. “Sy het ’n suksesvolle praktyk en ons deel die finansiële verantwoordelikhede. Ons hou steeds hande vas in die kerk en sy lê op my skouer as die dominee bid.”

Nog ’n gesin waarin die tradisionele rolle omgeruil is, is dié van Yvonne en Bernard Jordaan van Auckland, Nieu-Seeland. Yvonne is ’n geregistreerde verpleegkundige en die broodwinner en Bernard is tuis, waar hy omsien na hul twee dogters, Chavonne (6) en Chantelle (5). Yvonne verduidelik: “Ek dink die hele konsep van die man wat die hoof van die huis is, het vervaag. Ons verhouding is gebaseer op die nuwerwetse manier van doen. Ek respekteer hom as die hoof van die huis, maar ons deel besluite en daaglikse take. Ons vul mekaar aan daar waar elkeen tekortkominge het.”

Yvonne sê mans is definitief die leiers en moet die voortou neem met godsdiens. “Dis die fondasie waarop verhoudings in die huwelik en met kinders gebou word.”

Die grense is vaag . . .

’n Uitdaging wat vandag se huwelike het teenoor dié van ons ouers en grootouers, is om elke unieke situasie uit te sorteer na gelang van die rolverdeling in daardie huwelik. Vroeër was die rolle in sement gegiet en ’n vrou het dus geweet wat van haar verwag word – só ook ’n man. Volgens ds Gerhard Niemann, leraar en pastorale terapeut, is priesterskap en moderne rolverdeling ’n belangrike kwessie.

“In die moderne wêreld blyk die grense van tradisionele rolle in die huwelik ’n grys area te wees. Daar is soveel dinge in die lewe wat ons aandag vra dat die tradisionele gesinsrolle op soveel vlakke versteur word. Tradisioneel verwag ons dat die man in die huis die priesterlike rol speel. Maar omdat die lewe soveel eise op die huwelik plaas, word veral die tyd wat huweliksmaats aan gesamentlike gebed en Bybelstudie spandeer minder en moeiliker,” sê Gerhard.

“Ek is daarvan oortuig dat die priesterlike rol vandag nie net die verantwoordelikheid van een persoon kan wees nie, maar elkeen se verantwoordelikheid om julle huwelik en verhouding met die Here in stand te hou. Ons verhouding met die Here is egter die belangrikste faktor in die sukses van die huwelik en moet voor eksklusiewe verantwoordelikhede geplaas word. Instandhouding van verhoudings tussen huweliksmaats en huweliksmaats met die Here bly die sentrale saak. Moet nooit julle verhouding met die Here inboet ter wille van die eise wat die lewe aan die huwelik stel nie. Wanneer albei hulle kant bring, verhoog dit net die stabiliteit van ’n huwelik,” verduidelik Gerhard.

Verstaan ons priesterskap verkeerd?

Die moderne vrou is heeltemal opgewasse om haar man te staan in vandag se  wêreld – en ook met reg!  “Die Bybelse beginsels vir die huwelik staan nie in spanning teenoor hoe moderne mans en vroue vandag hulle rolle binne die samelewing uitleef nie”, sê ds Piet Venter van die Gereformeerde Kerk in Potchefstroom. “Ons vind immers reeds ’n ‘moderne’ vrou in Spreuke 31 wat buite die huis werk, sake bedryf, vrou vir haar man en ma vir haar kinders is.”

Ds Venter verduidelik dat ’n man en vrou as mekaar se gelyke geskape is, maar die Here het aan elkeen ’n besondere rol gegee om binne die huwelik te vervul. “Hierdie rolle word nie in terme van hiërargie uitgeoefen nie, maar in verhoudingsterme van liefde en opoffering, soos die Here dit in Efesiërs 5 baie mooi beskryf,” sê hy. “Daar is dus nie sprake van ‘baasskap’ of ‘slaaf-wees’ nie, maar twee mense wat hulle rolle vrywillig in liefde en diensbaarheid opneem soos Christus met sy kerk.”

Ds Venter meen die man moet aan sy vrou en kinders geestelike, emosionele en fisiese leiding gee. “Hiermee word bedoel dat hy primêr deur die Here daarvoor verantwoordelik gehou word om te sorg dat hierdie aspekte in sy huisgesin regte en goeie aandag moet geniet. Die Skrif noem hom ook ’n bestuurder van sy huishouding. Dit beteken dat iemand die laaste verantwoordelikheid dra en deur middel van goeie bestuur sy vrou en kinders die ruimte bied om tot volle ontplooiing van hulle menswees te kom. Hierdie leiding geskied weereens nie in terme van ‘koue gesag’ nie, maar in terme van liefde, koestering en opoffering.”

Spanwerk is die wagwoord

Volgens dr Arnold Mol, skrywer en huwelikskenner, is dit onmoontlik dat twee mense vir dieselfde ding verantwoordelikheid kan neem. Soos wat daar in die werkplek gesagstrukture ter wille van orde is, is daar ook in die huisgesin. Wie moet byvoorbeeld die leiding neem vir die reëls in die huis? Volgens Arnold is dit die pa se verantwoordelikheid, al doen die ma die meeste van die opvoedingswerk. “Pa’s moenie afstand doen van hul verantwoordelikhede nie, ongeag moderne rolle. Dit verander nie,” sê Arnold. Dit gaan nie oor wie “baas” is in die huis nie. Dit beteken hoegenaamd nie dat die man dominerend is en die vrou bloot “Ja skat, nee skat,” moet sê nie.

“Wie moet die finale verantwoordelikheid aanvaar vir besluite wat geneem word? Dit gaan nie oor een wat op die ander se kop sit nie. Die huwelik is ’n span,” sê Arnold, “maar wat maak julle as julle saam ’n besluit moet neem en nie kan saamstem nie?”

Dan, sê Arnold, is dit die man se verantwoordelikheid om die finale besluit te neem met liefdevolle inagneming van sy vrou. “As die vrou deurentyd besluite moet neem en verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, kan dit baie spanning meebring. Aan die ander kant, as die man ’n finale besluit neem sonder dat hy sy vrou in ag neem, moet hy nie verbaas wees as sy daarteen skop nie.  Waar ’n vrou haar man toelaat om die finale besluit te neem, sal sy vind dat die man in die meeste gevalle besluit wat sy wil hê. Want vir ’n man is dit nie so belangrik wat die besluit is nie, maar eerder wie dit geneem het.”

Priesterskap gaan oor opoffering

Volgens ds Cornie van der Merwe is ’n huisgesin soos die kerk in die kleine, met Jesus as die hoof en die man die priester van sy huis wat die aanbidding lei. “Priesterskap beteken dat ek namens my gesin offer en opoffer en dat ek my huisgesin liefhet, soos Jesus die kerk.”

Ds Cornie verduidelik: “Tradisioneel het dit só gewerk dat vrouens onderdanig moes wees aan hul mans, maar die bedoeling was dat die vrou haar man eerbiedig. Soos sy Jesus liefhet en respekteer, moet sy met haar man doen.

“Ek glo nie dat rolle in die modern tyd in die weg van priesterskap hoef te staan nie – Pa bly die ‘hoof’ (sameroeper) van die huis en erkenning word gegee aan vrouens wat sterker leiers is as hul mans. Daar ís ruimte daarvoor, sonder om die priesterskap van die man in gedrang te bring. Hy bly die een wat sy gesin in die spore van Jesus moet lei.

“Dit beteken dat hy in vandag se tyd nie soseer alles moet organiseer en doen nie, want priesterskap in moderne tye word op sy gesin afgeëts in wie hy is. Priesterskap het te doen met ’n pa se lewe saam met God, dat hy sy vrou so liefhet soos hy Jesus liefhet, sy kinders opvoed en bystaan en ondersteun, en dat hy die voorbeeld van Jesus se liefde weerkaats. Wanneer die pa die geestelike leier in die huis is, neem hy sy hele gesin met hom saam.

“Moderne rolle is ’n wonderlike uitdaging om die erns wat ons gesin met Jesus maak en die plek wat Jesus in ons lewens inneem, te demonstreer. En hierin het elkeen van ons ’n stukkie verantwoordelikheid – die pa is net die sameroeper.”

Uiteindelik beteken priesterskap nie dat ’n man vir sy vrou sê wat om aan te trek en sy soos ’n soet kind moet gehoorsaam nie. Dit beteken beslis nie dat hy haar mag “dissiplineer” nie. Dit beteken nie dat hy die “baas” is nie. Dit beteken nie dat sy nié ’n stem mag hê nie en ook nie dat sy nooit van hom mag verskil nie.

Wat dit wel beteken, is vir ’n vrou om haar man in liefde te volg en vir hom om haar in ag te neem, haar raad te vra en om verskoning te vra as hy verkeerd was. Dat sy haar onderwerp aan hom as die leier van die huis en dat hy, as ’n kind van God, sy gesin lei (veral in geloof) om in hul Koning se voetstappe te volg. Dan word onderdanigheid nie ’n straf nie, maar ’n wonderlike plesier . . .

 

Deur INTIEM redaksie

*Skuilname is gebruik