Simon Rademan, skrywer van The Style Bible, is ’n meester met aand- en troudrag, en deel 2018 se mode- en stylneigings eksklusief met INTIEM.

Promosie

En daar steel Nicole Kidman die kollig met groot pret, humor en speelse vroulikheid by die onlangse 90ste Oscar-toekenningseremonie.

Die modewêreld kan op geen manier aanhou om te inspireer tensy erken word dat vroue oor die jare heen geobjektiveer is nie. Dié erkenning kan ook op geen manier tot sy reg kom as vroue aanhou om dele van hul figuur in die openbaar te wys wat selfs die liberaalste van alle ontwerpers laat bloos nie.

Met die “rooi tapyt”-toekenningseisoen so pas agter die rug – onder andere die Emmy’s, Golden Globes, Baftas en onlangs die Oscars – is die rooi tapyt letterlik EN figuurlik “gebruik” om boodskappe oor te dra, soos die kontroversiële “Me Too”- en “Time’s Up”-bewegings. Eers is dit met lapel-boodskappe gedoen, en al sukkelende met die kleur swart.

Promosie

Vroue sou in solidariteit met hierdie beweging selfs ontwerpers wêreldwyd beïnvloed met onder andere ’n kleurkeuse soos swart en dofswart, blinkswart, vaagswart, nagswart of pikswart, solank dit ontsettend swart is. Ek sou persoonlik nie swart vir só ’n positiewe projek gekies het nie, want swart is nie ’n kleur nie. (Dit, en/of wit, is nie-kleure.)

Die positiewe aspek daarvan was dat die buitelyne van styl, elegansie, klas en sensualiteit die fokus geword het, en nie wie wat om watter rede ook al gedra het nie.

En dit is waar humor en pret selfs nou sigbaar is op die rooi tapyte van die wêreld. Ontwerpers kan met kleure, lyne en tekstuur speel soos nog nooit tevore nie – sonder om oorversigtig te wees oor watter boodskap oorgedra word, en dit is by die onlangse Oscars gedoen.

Koningsblou het geseëvier met vroue soos Jennifer Garner en Nicole Kidman se kleredrag, terwyl Nicole Kidman die grootste strik moontlik op die snaaksste plek gedra het, met ’n spleet wat reg in die middel voor, gevaarlik naby aan hierdie strik, geëindig het. Só naby dat ek vinnig moes wegkyk.

 

Die gewildste kleur het die kleur “nude” herdefinieer.

“Nude” in Engels beteken nie “naak” in Afrikaans nie.

Ironies genoeg is “nude” ook nie ’n kleur nie, maar ’n passende ondertoon van jou eie vel (se kleur), en hierdie kleur moet maar altyd met groot omsigtigheid gedra word omdat dit nie goed fotografeer op die rooi tapyt nie.

Die sensuele vorm van die vroulike figuur is met trots geaksentueer deur formidabele vroue van ’n sekere ouderdom, soos Jane Fonda en Helen Mirren – terwyl enigiemand wat wou blink, kon blink met die hulp van juwele, materiaal en ander bykomstighede. Indien jy dit self wil uitprobeer, staan voor die spieël en maak seker waar jy wil hê jou uitrusting moet blink.

“BLINK” is nie alle figure se vriendin nie.

Soos vorige jare, was sommige splete weer baie hoog en sekere borsgleuwe heeltemal te laag na my sin, maar dit is met die nodige pret en humor gedra. Die deurskynende neiging het gekalmeer, en vroue was ekstra stylvol en elegant met geen onderklere wat sigbaar was nie.

Daarvoor was ek op ’n professionele vlak baie dankbaar . . .

Volg my gerus op sosiale media, Facebook, Twitter en LinkedIn by @simonrademan.
012 460 5106
www.simonrademan.co.za